*Die Paarl-kampus is voorlopig goedgekeur

Woordmeesters-2026: Só word Afrikaans gevier, getoets en bevorder

Gepubliseer op:  1 Junie 2026

Daar is mense wat met woorde werk soos ʼn vakman met hout of klip: met ʼn koesterende aandag, ʼn diepe geduld en ʼn fyn begrip van hoe die verskillende elemente inmekaarpas om ʼn groter geheel te vorm. Dit is juis hierdie ingesteldheid wat Akademia se Woordmeesters-taalkompetisie in 2026 wil aanwakker wanneer dié instelling, in samewerking met die Virtuele Instituut vir Afrikaans (VivA), wéér taalliefhebbers uitnooi om hul taalvernuf op die proef te stel. Vanjaar se trotse mediavennoot is Die Papier, terwyl verskeie ander vennote* ook hul steun tot die inisiatief voeg.

Woordmeesters is nie bloot ʼn taalkompetisie nie, maar ʼn taalervaring wat deelnemers uitdaag om dieper te kyk, skerper te luister en die fynere samestelling van Afrikaans te herontdek. Van idiome en gesegdes tot spelreëls en taalfeite: Hier word die taal nie nét gebruik nie, maar ondersoek, bevraagteken en gevier. Hierdie inisiatief vind jaarliks plaas ter viering van Afrikaanse Taaldag op 14 Augustus, ʼn datum wat reeds lank as ʼn ankerpunt vir die Afrikaanse taalbewussyn dien.

Die waarde van taalinisiatiewe soos dié

Mareli Swanepoel, bestuurder: Institusionele projekte en ondernemings by Akademia, verduidelik dat deelname aan die Woordmeesters-taalkompetisie nie net verbeterde taalbegrip en -gebruik aanwakker nie, maar óók help om Afrikaans aktief as onderrigtaal te onderhou en doelgerig te ontwikkel. “Hierdie kompetisie delf dieper in die wetenskap en tegniese aard van die taal, en dit is lekker om ook by wyse van hierdie benadering die veelheid van Afrikaans te kan geniet,” meen Swanepoel.

Vir Gustaf Tempelhoff, waarnemende uitvoerende direkteur van VivA, lê die Woordmeesters-taalkompetisie VivA baie na aan die hart, omdat dit so ʼn belangrike belegging in die taal se toekoms verteenwoordig. Volgens Tempelhoff bevorder dié inisiatief nie net goeie taalvernuf nie, maar plaas ook dié vernuf in die kollig. Hiermee saam bring dit ʼn opwindende en inspirerende gees na vore wat volgens Tempelhoff broodnodig is vir die ontwikkeling van die volgende groot denkers in Afrikaans. “Taal is soveel meer as net gereedskap vir kommunikasie. Taal is die boustene waarmee ons ons wêreld bou. Dit bepaal werklik hoe elkeen van ons die wêreld sien, ervaar en tot die samelewing bydra,” meen Tempelhoff.

Volgens Tempelhoff is die samewerking met Akademia vir VivA goud werd, aangesien die instelling juis die plek is waar kritiese denkers gevorm word wat uiteindelik die wêreld ʼn ryker plek sal maak. “VivA streef daarna om Afrikaans in die digitale ruimte te laat gedy. Vir ons is hierdie projek ʼn oorgangspunt waar taalkennis digitaal gedeel en versprei word en uiteindelik mense aan die praat kry!” sê Tempelhoff.

Op sy beurt meen Bernard Beukes, redakteur van Die Papier, dat omdat Afrikaans só ʼn lewendige taal is, daar by tye gedink word dat die taal vir homself sal sorg. “ʼn Taal word egter deur sy sprekers lewendig gehou en daarvoor is méér as alledaagse gebruik nodig. Geleenthede vir opwindende interaksie met die taal, soos die Woordmeesters-taalkompetisie, slyp nie net Afrikaanssprekendes se taalvaardigheid nie, maar help die taal ontwikkel en skep,” sê Beukman. Hy voeg by dat Die Papier in Afrikaans gelees word en daarom wil die publikasie skeppende projekte soos hierdie een graag ondersteun.

Meer oor die kompetisie

Die kompetisie is oop vir drie groepe: skoolleerders van graad 10 tot 12, studente van enige hoëronderwysinstelling, en lede van die breë publiek. Hierdie kategorieë weerspieël die uitgangspunt dat Afrikaans nie deur ouderdom of gebruiksmilieu omvat word nie, maar eerder gevorm word daar waar mense dit daagliks praat, skryf en besig.

Taalwenke en -toetse

Die taalkompetisie ontvou oudergewoonte oor ʼn periode van ʼn maand en volg ʼn doelbewuste weeklikse ritme. Deelnemers moet registreer, waarná hul weekliks ʼn aanlyn taaltoets voltooi. Elke toets word voorafgegaan deur ʼn taalwenk wat op Akademia se Facebook-blad gedeel word. Hierdie wenke verteenwoordig belangrike leidrade wat die deelnemers se taalvernuf help slyp.

Die eerste taalwenk verskyn op Maandag 1 Junie, met die eerste taaltoets wat op Vrydag 5 Junie open. Dié patroon herhaal hom weekliks:

  • 1 Junie | Taalwenk een
  • 5 Junie | Taaltoets een open
  • 8 Junie | Taalwenk twee
  • 12 Junie | Taaltoets twee open
  • 15 Junie | Taalwenk drie
  • 19 Junie | Taaltoets drie open
  • 22 Junie | Taalwenk vier
  • 26 Junie | Taaltoets vier open
  • 29 Junie | Taalwenk vyf
  • 3 Julie | Taaltoets vyf open

Alle aanlyn taaltoetse sluit om middernag op 3 Julie, waarná die veld vernou sal word tot die beste Woordmeester-finaliste. Op 10 Julie word die topdriefinaliste in elke kategorie aangekondig.

Die slotwoord op Afrikaanse Taaldag

Die finale ronde van Woordmeesters-2026 vind op 14 Augustus op Akademia se Leriba-kampus in Pretoria plaas. Hier word die aanlyn denke en stille oorweging verruil vir ʼn energieke taalontmoeting. Die wenners in elke kategorie sal hier as ware woordmeesters aangewys word.

Benewens die eer wat hiermee verband hou, is daar ook verskeie opwindende pryse op die spel. In die skool- en studentekategorieë kan deelnemers tot R2 500 wen, terwyl die wenner in die publieke kategorie met R3 500 beloon word. Tweede en derde plekke ontvang ook kontant- en ander bederfpryse.

“Woordmeesters herinner ons daaraan dat Afrikaans nie nét ʼn kragtige draer van betekenis is nie, maar ook ʼn hartstaal is wat gekoester en kunstig verfyn kan – en moet word. In ʼn tyd waarin taal heel dikwels as vanselfsprekend ervaar en soms sonder enige diepe nadenke gebruik word, bied hierdie kompetisie ʼn geleentheid om weer aandagtig te lees, te dink en te kies en só Afrikaans te lééf,” sluit Swanepoel af. Lees meer oor Woordmeesters-2025 hier.

*Ander vennote wat aan die inisiatief deelneem sluit in Afrikaans.com, AfriForum, Weet, Penguin Random House South Africa, Stimulusmaksima en Jonathan Ball Publishers.

En só glimlag ʼn woordmeester! Die wenners van die 2025-Woordmeesters-taalkompetisie was, van links, Gideon Wentlink, Lo-Andro Erasmus en Elandri van Tonder. Vanjaar se kompetisie begin op 1 Junie.

Direkte inbetaling: Bankbesonderhede

Akademia-skenkingsfonds

Eerste Nasionale Bank

Rekeningnommer: 62857561445

Takkode: 210554

Verwysing: Jou selfoonnommer

Testamentêre bemaking

Voeg die volgende klousule tot jou testament by. (Vervang self die bedrag.)

Ek bemaak ʼn kontantbedrag van R100 000.00 (Eenhonderd Duisend Rand) aan AKADEMIA MSW met registrasienommer: 2005/024616/08 geregistreer by die Departement van Hoër Onderwys en Opleiding as ʼn privaat hoëronderwysinstelling ingevolge die Wet op Hoër Onderwys, 1997 onder registrasienommer: 2011/HE08/005.

Laat jou besonderhede hieronder dan sal ‘n skenkingsfondsbestuurder met jou kontak maak. 

Zander Botha: Skenkingsfondsbestuurder

083 254 0142
skenking@akademia.ac.za

Ek sien uit daarna om jou persoonlik te ontmoet en jou unieke bydrae en nalatenskap te bespreek.