*Die Paarl-kampus is voorlopig goedgekeur

Akademia verkry grond in die Boschenmeer-omgewing vir toekomstige Paarl-kampusontwikkeling

Gepubliseer op:  29 Mei 2026

Akademia het op 28 Mei 2026 aangekondig dat hy 105 hektaar grond in die Boschenmeer-omgewing in die Paarl bekom het met die oog op die ontwikkeling van ʼn volwaardige kampus in die Wes-Kaap. Hierdie terrein, bekend as Vêrgesig, is bestem vir ontwikkeling deur die eiendomsbeleggingsmaatskappy Kanton – dieselfde ontwikkelingsvennoot wat tans die ontwikkeling van Akademia se wêreldklas kampus in die ooste van Pretoria behartig.

Die aankoop van dié grond is moontlik gemaak deur die besonderse welwillendheid en vertroue van die gemeenskap in die Kaap, waarvoor die instelling sy opregte en diepe dank uitspreek. Hierdie ondersteuning bevestig die gedeelde oortuiging dat volhoubare hoër onderwys in Afrikaans ʼn gemeenskapstrewe is.

Die instelling se eerste voltydse studente in die Paarl studeer reeds sedert vanjaar by ʼn tussentydse kampus in Bredastraat 1, Esterville. Die aankoop van Vêrgesig is dus die strategiese voortsetting van Akademia se teenwoordigheid in dié streek, en meer spesifiek die Paarl. Gedagtig hieraan spreek hierdie toekomstige ontwikkelingsprojek van die instelling se langtermynverbintenis tot die Afrikaanse taal- en kultuurgemeenskappe in die Wes-Kaap.

Volgens Marthinus Visser, besturende direkteur van Akademia, verleen dié grondaankoop stukrag aan die instelling se gunstige groeitrajek en verteenwoordig dit nóg ʼn belangrike vestigingshoofstuk vir die Afrikaanse universiteitswese. “Met hierdie stap bevestig Akademia sy voorneme om ʼn permanente akademiese tuiste in die Wes-Kaap te vestig, in diens van studente, die taal- en kultuurgemeenskappe en moedertaalonderrig,” sê Visser. “Volgens huidige beplanning sal hierdie kampus uiteindelik voorsiening maak vir ongeveer 3 000 studente, met groei wat gefaseerd en verantwoordelik aangepak sal word. Die droom is om ʼn pragtige kampus aan die voet van die Wemmershoekberge te bou met al die nodige fasiliteite vir ʼn residensiële studentekampus. Daar word ook voorsiening gemaak vir ʼn voldoende aantal studentekoshuise.

ʼn Terrein met uitsonderlike potensiaal

Die Vêrgesig-terrein beskik oor ʼn topografie wat ideaal is vir ʼn geïntegreerde kampusontwikkeling. ʼn Waterweg wat na die Bergrivier vloei, bied bykomende ondersteuning vir die terrein se toekomstige waterbehoeftes. Op helder dae strek die uitsig vanaf Vêrgesig tot by Tafelberg en die Afrikaanse Taalmuseum en -monument.

Die projek is tans in ʼn vroeë fase. Kanton is besig met die voorgeskrewe stadsbeplanningsprosesse om die nodige ontwikkelingsregte te bekom, terwyl voorlopige beplanning onverpoosd voortgaan. Die tydlyn vir die toekomstige ontwikkeling sal bepaal word deur die suksesvolle vestiging en uitbou van Akademia as instelling in die Paarl.

Prof. Gawie du Toit, hoof van die Paarl-kampus, sê die terrein bied ʼn besonderse geleentheid aan die instelling. “Ek sien in my geestesoog hoe ʼn toekomstige kampus hier, teen die agtergrond van die berge, ʼn betekenisvolle bydrae kan en sal lewer tot die versterking en uitbouing van Afrikaans as wetenskapstaal en as medium van onderrig, leer en roeping.”

Die gemeenskap maak dié toekomsdroom moontlik

Akademia se vestiging in die Wes-Kaap is van meet af aan toegewyde gemeenskapsbetrokkenheid gekenmerk. Dit was immers die Wes-Kaapse gemeenskap wat die instelling genader het om ʼn voltydse kampus in die streek te vestig. En nou, met die aankoop van die Vêrgesig-terrein, is dit weer die gemeenskap wat, deur merkwaardige bydraes, dié toekomsvooruitsig ʼn werklikheid maak.

Henk Schalekamp, besturende direkteur van Kanton, beskryf die aanloop tot die aankoop van die grond as ʼn besondere betekenisvolle reis. “Die welwillendheid van die Afrikaanse gemeenskap in die Wes-Kaap het elkeen betrokke diep geraak. Hierdie projek getuig vanaf die staanspoor van dit wat moontlik is wanneer gemeenskappe saam aan ʼn gedeelde toekoms bou,” sê Schalekamp.

ʼn Blik op wat voorlê

Vir belangstellendes wat ʼn blik op Akademia se toekoms wil kry, wys die instelling na die wêreldklas kampus wat tans in die ooste van Pretoria ontwikkel word. Dié kampus sal in 2028 sy deure open en sal as ʼn akademiese tuiste dien waar studente – voor- en nagraads – in hul moedertaal kan studeer, groei en floreer. Hierdie ontwikkeling bied gevolglik ʼn duidelike aanduiding van die visie wat ook vir die Paarl in die vooruitsig gestel word.

Meer inligting oor die Toekomsbouer-veldtog en Akademia se kampusontwikkeling in Pretoria is beskikbaar op die instelling se webblad.

Die Vêrgesig-terrein in die Boschenmeer-omgewing se naam is gedagtig aan die panoramiese uitkyk waartoe dié ligging homself leen. Hierdie 105 hektaar terrein sal die toekomstige tuiste van Akademia se Paarl-kampus wees.

Direkte inbetaling: Bankbesonderhede

Akademia-skenkingsfonds

Eerste Nasionale Bank

Rekeningnommer: 62857561445

Takkode: 210554

Verwysing: Jou selfoonnommer

Testamentêre bemaking

Voeg die volgende klousule tot jou testament by. (Vervang self die bedrag.)

Ek bemaak ʼn kontantbedrag van R100 000.00 (Eenhonderd Duisend Rand) aan AKADEMIA MSW met registrasienommer: 2005/024616/08 geregistreer by die Departement van Hoër Onderwys en Opleiding as ʼn privaat hoëronderwysinstelling ingevolge die Wet op Hoër Onderwys, 1997 onder registrasienommer: 2011/HE08/005.

Laat jou besonderhede hieronder dan sal ‘n skenkingsfondsbestuurder met jou kontak maak. 

Zander Botha: Skenkingsfondsbestuurder

083 254 0142
skenking@akademia.ac.za

Ek sien uit daarna om jou persoonlik te ontmoet en jou unieke bydrae en nalatenskap te bespreek.