*Die Paarl-kampus is voorlopig goedgekeur

Sorg en vorming: Só klop Pretoria-koshuisouers se harte warm vir Fonties

Gepubliseer op:  27 Januarie 2026

Die Latynse regsterm, loco parentis, beteken “in die plek van ʼn ouer”, en by Akademia vervul ʼn span dinamiese koshuisouers hierdie belangrike rol. Hierdie koshuisouers dra verskeie hoede wat wissel van toesighouers, tuisteskeppers, raadgewers, gemeenskapsbouers en ondersteuners, maar méér nog: hulle skep ruimtes waarin sorg en vorming gedy.

Akademia se koshuis- en daghuislewe is die hartklop van die studente-ervaring, in Pretoria sowel as die Paarl. En dit is binne hierdie milieu dat studente die geleentheid het om diep gemeenskapsbande te vorm, hul leierskapsvaardighede te ontwikkel en voluit aan die instelling se eiesoortige kampuskultuur deel te neem. Inwoonkoshuise en daghuise is beskikbaar vir dames en mans – om ʼn betekenisvolle tuiste te skep. Albei hierdie opsies bied aan Fonties* die geleentheid om aan koshuisaksies, kultuurgeleenthede, sport en ander saamweesgeleenthede deel te neem en só ʼn bruisende studentelewe te geniet.

Die instelling se koshuisouers vir die 2026- akademiese jaar in Pretoria sien as volg daar uit:

Daghuise

Akademia se Pretoria-daghuise, Huis Daglelie en Huis Karoo, het dit ten doel om vir studente wat nie in ʼn koshuis bly nie, die geleentheid te bied om die pret van die koshuis- en studentelewe voluit te geniet.

Susan O’Reilly, departementshoof: Opvoedkundestudies aan die Fakulteit Opvoedkunde, is die koshuismoeder vir die Huis Daglelie-dames. O’Reilly meen dié daghuis simboliseer nie nét skoonheid, vroulikheid en onafhanklikheid nie, maar ook – gedagtig aan die blom waarna dit vernoem is, vernuwing. “Elke oggend ontvou die blom wanneer die son opkom, as ʼn herinnering daaraan dat ons elke dag ʼn nuwe geleentheid ontvang. Wat ʼn voorreg!” sê O’Reilly. Sy voeg by dat Huis Daglelie ʼn plek is waar verhoudings veel dieper as vriendskap strek, maar eerder ʼn familieband is wat op empatie, ondersteuning en kameraadskap gegrond is. “Koshuislewe het my as persoon gevorm en as ek terugkyk op my eie ervaring dan is ek opgewonde oor dié avontuur wat vir die dames voorlê,” sê O’Reilly.

Die O’Reilly-gesin: Jan, Jan-Thomas, Susan en Stephanie. Hulle sal vanjaar as die huisouers van Huis Daglelie optree. Susan is ʼn dosent verbonde aan die instelling se Fakulteit Opvoedkunde.

In die geval van Huis Karoo, sal dr. Daniël Maritz, bestuurder: NP van Wyk Louw-sentrum en kapelaan, as koshuisvader diens doen. Volgens Maritz is die belangrikste brokkie advies wat hy vir Karoo-manne – en veral nuwe eerstejaarstudente, het dat hulle nie hul studentereis alleen aanpak nie. “Behalwe vir myself, is daar ook ʼn gevestigde huiskomitee, en saam sal ons jou help om jou volle potensiaal te bereik. My deur staan altyd oop. Of dit nou akademiese druk, persoonlike kwessies of bloot die behoefte is om met iemand te wil gesels. Ek kan nie wag om ʼn medeskrywer van Huis Karoo se verhaal te wees nie,” sê Maritz.

Dr. Daniël Maritz, bestuurder: NP van Wyk Louw-sentrum en kapelaan, sal as koshuisvader vir die mansdaghuis, Huis Karoo, dien.

Inwoonkoshuise

Die koshuisouers vir Akademia se twee inwoondameskoshuise, Huis Dahlia en Huis Strelitzia, is onderskeidelik Liana van Rooy en Karien Brits.

Volgens Van Rooy, Akademia se registrateur, is dit ʼn voorreg om as ʼn nuwe koshuisouer die jaar saam met die Huis Dahlia-dames aan te pak. Vir haar verteenwoordig die koshuis ʼn veilige ruimte waar dames kan groei – nie net in denke nie, maar ook in hul hart. “Hier bou ons aan wie ons is, en wie ons nog gaan word,” sê Van Rooy en voeg by dat Huis Dahlia-dames met dankbaarheid kyk, met moed volhard en met oorgawe bou.

Vir Karien Brits, dosent: Tale en Kultuurwetenskappe, is Huis Strelitzia as’t ware ʼn tuiskoms en staan sy onder die studente bekend as Ma Karien (wat graag haar studente met varsgebakte melktert bederf). Sy is dit eens dat dit ʼn groot voorreg is om jaarliks nuwe Fonties in die Huis Strelitzia-familiekring te verwelkom – ʼn hoogtepuntoomblik sedert 2023 toe sy die rol as koshuisouer opgeneem het. “Hierdie is ʼn familieband wat ek en die huiskomitee koester, en daarom kan jy met sekerheid weet dat ons deur oop is en die teekoppies regstaan as jy ʼn oor nodig het!” sê Brits.

Liana en Janes van Rooy sal vanjaar as die trotse huisouers van Huis Dahlia diens doen.
Karien Brits, of Ma Karien soos sy onder die studente bekendstaan, is die huisouer van Huis Strelitzia.

Huis Hennops verwelkom vanjaar ʼn splinternuwe koshuisouer, naamlik Louis Dekker. Volgens Dekker, uitvoerende hoof: Gimnasium Pretoria, verteenwoordig sy nuwe rol ʼn opwindende nuwe avontuur. “Ek en my gesin sien uit daarna en is baie bevoorreg om deel van die Huis Hennops-familie te word en ek sien uit na ʼn jaar vol groei en ware vriendskap,” sê Dekker. Vir Dekker, wat self ʼn aktiewe koshuislewe geniet het, lê die waarde van dié ervaring opgesluit in die vorming wat plaasvind. “Koshuislewe leer jou om aanpasbaar te wees, uit jou gemaksone te tree en op jou eie voete te staan terwyl jy met verskillende persoonlikhede oor die weg kom. Hierdie groei ontsluit die beste tye denkbaar!” meen Dekker.

Louis en Lize Dekker is die koshuisouers van Huis Hennops. Dit is dié gesin se eerste termyn as koshuisouers by Akademia en hulle is baie opgewonde oor die vooruitsig.
Stephen en Mia-Louise Nel is die huisouers van Huis Magalies. As oudkoshuisinwoners besef hul die waarde van ʼn gesonde koshuislewe.

*Fonties verwys na studente wat aan Akademia studeer. Dié eienaam is afgelei uit die instelling se leuse, Ad futurum per fontes – na die toekoms deur die bronne.

Direkte inbetaling: Bankbesonderhede

Akademia-skenkingsfonds

Eerste Nasionale Bank

Rekeningnommer: 62857561445

Takkode: 210554

Verwysing: Jou selfoonnommer

Testamentêre bemaking

Voeg die volgende klousule tot jou testament by. (Vervang self die bedrag.)

Ek bemaak ʼn kontantbedrag van R100 000.00 (Eenhonderd Duisend Rand) aan AKADEMIA MSW met registrasienommer: 2005/024616/08 geregistreer by die Departement van Hoër Onderwys en Opleiding as ʼn privaat hoëronderwysinstelling ingevolge die Wet op Hoër Onderwys, 1997 onder registrasienommer: 2011/HE08/005.

Laat jou besonderhede hieronder dan sal ‘n skenkingsfondsbestuurder met jou kontak maak. 


Zander Botha: Skenkingsfondsbestuurder

083 254 0142
skenking@akademia.ac.za

Ek sien uit daarna om jou persoonlik te ontmoet en jou unieke bydrae en nalatenskap te bespreek.