Kampusopedag 10 en 11 Mei 2024

Search
Close this search box.

Vind uit oor nauurse studies tydens Akademia-inligtingsessie

Gepubliseer op: 30 Maart 2021

Ten spyte van onsekerheid wat tans wêreldwyd heers, hoef jy nie onseker oor jou toekoms te voel nie. Akademia bied op Saterdag, 10 April ʼn kort dog kragtige inligtingsessie vanaf 10:00 tot 11:00 aan, wat spesiaal handel oor alles wat ʼn voornemende student oor die nauurse onderrigleermodel moet weet. Jy kan dié aanlyn sessie sommer vanaf jou rusbank in die gemak van jou eie sitkamer bywoon – so nooi jou hele gesin om saam met jou te kyk waar jy in 2022 gaan studeer!

Die nauurse model is ideaal vir studente wat werk of ander belangstellings nastreef. Afstand hoef ook nie ʼn probleem te wees nie! Hierdie metode van onderrig word oor ʼn landwye netwerk van studiesentrums of via ʼn e-leer-opsie aangebied – jou keuse! Studente van tot so vêr as Dubai, Nieu-Seeland, Australië en Namibië studeer ook in hul moedertaal nauurs aan Akademia. Nuuskierig oor dié onderrigleermodel? Klik hier om verder te lees.

Die inligtingsessie se program is nougeset verpak om al die kwelvrae wat voornemende studente mag hê te beantwoord. ʼn Oorsig van Akademia word gegee en studiemoontlikhede vir hierdie model word van nader bekyk. Die sessie hanteer hoe die verpligte nauurse klasse werk, en wat die aanlyn aansoekproses behels. Voornemende studente kan ook tydens die sessie vrae aan die aanbieder in die kletsgedeelte vra. Na voltooiing van die inligtingsessie kan jy met ʼn geruste hart al jou studiemoontlikhede vir 2022 oorweeg.

Wonder jy watter studierigtings aangebied word? By Akademia word ʼn verskeidenheid beroepsrelevante en geakkrediteerde studierigtings aangebied om jou loopbaan te verseker. Hoër sertifikate, diplomas, grade en nagraadse diplomas vorm deel van hierdie aanbod. Akademici werk ook onverpoosd om die studieaanbod verder uit te brei om aan die toenemende behoefte te voldoen.

Voornemende studente wat belangstel om die inligtingsessie by te woon moet vooraf, teen 9 April om 12:00, registreer om toegang tot die sessie te verkry. Klik hier om jou virtuele sitplek te bespreek. Aansoeke vir studie in 2022 open 1 Mei. Akademia, jou Afrikaanse studietuiste!