Kampusopedag 10 en 11 Mei 2024

Search
Close this search box.

Nuwe NGOS-kwalifikasie reeds ʼn gewilde kwalifikasie by Akademia

Gepubliseer op: 29 Maart 2021

Akademia bied vanaf 2021 vir die eerste keer ʼn nauurse aanbod in Opvoedkunde aan, naamlik die Nagraadse Onderwyssertifikaat (Senior Fase- en Verdere Onderwys en Opleiding-onderwys), in die volksmond bekend as NGOS. Hierdie nuwe kwalifikasie is reeds ʼn reusesukses met meer as dubbeld die studentegetalle as waarvoor daar aanvanklik beplan is. Die instelling glo dat die studentegetalle jaar na jaar sal groei.

Volgens prof. Gawie du Toit het die instelling reggemaak om 30 studente te verwelkom, maar die aansoeke was oorweldigend en bykans 90 studente is vir 2021 gekeur. “Dit dui op die groot behoefte wat daar tans bestaan vir persone wat graag beroepe in die onderwys wil betree.” ʼn Totaal van 74 studente het vir die NGOS geregistreer en die studente is volstoom besig met die akademiese jaar. Daar is ook ʼn totaal van vier voltydse en nege deeltydse dosente aangestel om modules in hierdie kwalifikasie aan te bied.

Prof. Gawie du Toit meen dat die instelling met die aanbied van hierdie kwalifikasie die brug tussen teorie en praktyk oorgesteek het. “Studente moet reeds oor ʼn kwalifikasie in ʼn skoolverwante vak as hoofvak beskik om toelating tot die NGOS te verkry – studente is dus dan reeds vakkundig onderleg nog voordat hulle hulself verder in dié rigting bekwaam.”

Soos die naam aandui, is die studierigting toegespits op die opleiding van onderwysers vir graad 8 tot 12. Studente kan met só ʼn kwalifikasie ʼn vak soos  Wiskunde op die Senior Fase-vlak sowel as die VOO-vlak onderrig.

Die NGOS-kwalifikasie bied aan studente aanvanklike professionele opleiding met die fokus op die ontwikkeling van die nodige pedagogiese inhoudskennis, vaardighede en ervaring in die opvoedkundige werkplek. Afgesien van deurlopende aktiwiteite in die tersaaklike modules moet die student ook vir agt weke praktiese sessies by skole voltooi. Vir 2021 is die eerste praktiese sessie van twee weke ook reeds deur studente afgehandel.

“Daar is tans ʼn tekort aan vakkundige spesialisonderwysers, en dit is presies wat Akademia met hierdie kwalifikasie beoog – die lewering van goeie, afgeronde onderwysers met beide vakkennis en vaardighede om uitnemend te onderrig,” sê hy.

Prof. du Toit vertel verder dat Akademia-studente nie net opgelei word om ʼn werk te gaan verrig nie, maar die instelling strewe na die opvoedingsideaal om studente toe te rus om holisties om te gaan met hul dagtaak. Sodoende kan studente werklik ʼn verskil maak in die gemeenskap waar hulle hulself gaan bevind. Wat die NGOS by Akademia verder uniek maak, is dat die studente in Afrikaans, hul moedertaal, kan studeer, maar ook toegerus word om in Engels onderwys aan te bied, sou hulle wou.

Die keuse om NGOS te studeer is vir talle van hierdie studente ʼn hartsbesluit. “Om onderwys te gee, bied aan ʼn persoon die geleentheid om met kinders, die room van die skepping, te werk en saam met kollegas te help vorm aan kinders om hul potensiaal maksimaal te ontsluit,” reken prof. du Toit. “As dit vir jou klink soos iets wat jy graag wil doen, dan is NGOS ʼn uitstekende studierigting om te oorweeg.”

Kry solank jou dokumentasie gereed indien jy belangstel om NGOS by Akademia te voltooi. Aansoeke vir studie in 2022 open 1 Mei 2021! Besoek vandag nog die Akademia-webblad vir meer inligting. Akademia, jou Afrikaanse studietuiste!