Nuwe program vir 2025 | BA (Taalstudies)

Search
Close this search box.

Akademia-professor dra Wêreldweerkundedag op aan leier in Oseanografie

Gepubliseer op: 23 Maart 2021

Geskryf deur prof. Hannes Rautenbach, dekaan van die Fakulteit Natuurwetenskappe aan Akademia 

“Omdat feitlik al ons reënwater afkomstig is van verdamping vanuit die omringende oseane, het ek reeds van vroeg af as weerkundige verbonde aan die Universiteit van Pretoria ʼn belangstelling in ons oseane begin ontwikkel. Dit was egter sedert 1995 toe ek vir wyle prof. Johann Lutjeharms, ʼn legendariese oseanograaf verbonde aan die Universiteit van Kaapstad, ontmoet het en ons goed bevriend geraak het, dat hierdie belangstelling tot so ʼn mate gegroei het dat ek as hoogtepunt die geleentheid gekry het om in 2004 op die SA Agulhas-navorsingskip na Antarktika te vaar. Ek het later vir prof. Lutjeharms voorgestel as ere-doktorale kandidaat, en hy het toe ook hierdie toekenning in 2006 van die Universiteit van Pretoria ontvang. Dit is dus ʼn groot eer en baie gepas om Wêreldweerkundedag 2021, met die tema: ‘Die oseaan, ons klimaat en weer’, namens Akademia aan prof. Lutjeharms op te dra.” – prof. Hannes Rautenbach.

Prof. Johann Lutjeharms (1944 – 2011) was ʼn leierfiguur in die wetenskap van Oseanografie, en veral ʼn kenner van die Agulhas-seestroom wat teen die ooskus van Suid-Afrika verbyvloei. Die meeste van sy navorsing is by die Universiteit van Kaapstad gedoen waar hy as ʼn A-gegradueerde wetenskaplike gewerk het. Hy was sy lewe lank ʼn groot voorstaander van die bevordering van Afrikaans as wetenskaptaal – ʼn aspirasie wat gerealiseer het met die publikasie van ʼn Engels-Afrikaanse Oseanologiewoordeboek van 334 bladsye in 2004.

Die Agulhas-seestroom

Die Agulhas-seestroom is ʼn warm seestroom (14°C tot 26°C) wat deur die Mosambiekkanaal, al teen die oos- en suidkus van Suid Afrika langs afvloei totdat dit later weswaarts in die Atlantiese Oseaan invloei. Dit is ʼn smal seestroom (naastenby 34 tot 100 km breed) wat teen 10 km/h vloei, wat dit een van die sterkste seestrome ter wêreld maak. Teen hierdie spoed verplaas die seestroom ʼn enorme 70 miljoen kubieke meter seewater per sekonde.

Dit is dus geen wonder nie dat Bartolomeu Dias in 1486 eers na sy sesde probeerslag daarin kon slaag om om die suidpunt van Afrika te vaar. Omdat Dias etlike kere teen die sterk Agulhas-seestroom moes voortbeur en stoei, het hy die gebied die “Kaap van Storms” gedoop.

Waar die Agulhas-seestroom in die Suid-Atlantiese Oseaan invloei, word die kenmerkende retrofleksies (terugkerende vloeiwerwels) gevorm vanwaar die stroom dan suidwaarts na die Suidelike Oseaan draai, of noordwaarts uitbrei om later by die bekende Noord-Atlantiese Golfstroom aan te sluit.

Aansluiting by die tema: Die oseaan, ons klimaat en weer

Navorsing het daarop gedui dat daar ʼn statistiese verband bestaan tussen die jaarlikse verandering in die Agulhas-seestroom se watertemperature en die daaropvolgende somerreënval in Suid-Afrika. Warmer seestroomwater is verantwoordelik vir groter verdamping, wat dus meer vog vir somerreën in die atmosfeer vrystel. Hierdie verband kan egter somtyds versteur word deur weerstelsels wat oor die gebied inbeweeg. Dieselfde verband geld vir ons winterreënval. Dit is dus duidelik waarom die tema van vanjaar se Wêreldweerkundedag die oseaan, ons klimaat en weer insluit.

“Een van vele uitsigte vanaf die boonste dek van die SA Agulhas-navorsingskip tydens my vaart in 2004 na Antarktika.” – prof. Hannes Rautenbach.
Prof. Johann Lutjeharms was ʼn oseanograaf verbonde aan die Universiteit van Kaapstad.
Prof. Hannes Rautenbach is die dekaan van die Fakulteit Natuurwetenskappe by Akademia.