Kampusopedag 10 en 11 Mei 2024

Search
Close this search box.

Blitsfeite ter viering van Wêreldwaterdag

Gepubliseer op: 22 Maart 2021

Geskryf deur prof. Hannes Rautenbach, dekaan van die Fakulteit Natuurwetenskappe aan Akademia

Wêreldwaterdag word vanjaar weereens op 22 Maart 2021 gevier. Elke jaar word daar ʼn gepaste tema aan die dag toegeken en hierdie jaar is geen uitsondering nie. Vanjaar se  tema is: “Die waarde van water”.

Kan die waarde van water, wat eintlik ʼn natuurlike bron is wat na ons toe gebring word deur reën en riviere, egter werklik bepaal word? Vir ʼn land soos Suid-Afrika, wat van nature ʼn droë land is, is die antwoord op hierdie vraag beslis JA.

Volgens die Suid-Afrikaanse Grondwet het elke persoon die reg tot skoon water. Hierdie reg is deur die implementering van die Wet op Waterdienste 108 van 1997 beliggaam, wat die reg tot basiese watervoorsiening en sanitasiedienste uitstippel. Deur laasgenoemde kan water waarde toevoeg aan menseregte, wat insigself waarde aan water verleen.

Toestande in Suid-Afrika wat bepalend is vir die beskikbaarheid van water, wat ook gepaard gaan met die toeganklikheid en kwaliteit van water, verskil aansienlik. Terwyl die droë weste van die land gemiddeld ʼn skrale 100 mm reën  per jaar ontvang, neem die reënval toe tot so hoog as 1 000 mm per jaar in die ooste. Daarbenewens het van die grootste stede in Suid-Afrika nie direkte toegang tot water deur riviere nie.

Ten spyte van hierdie uitdagings beskik Suid-Afrika oor ʼn indrukwekkende geskiedenis van aanpassing, beplanning en infrastruktuurontwikkeling wat daartoe aanleiding gee dat water tans geredelik beskikbaar is in elke uithoek van die land. Hierdie uitbreidings speel ʼn belangrike rol in die bepaling van die waarde van water en waterhulpbronne in die land. Hier is ʼn paar feite oor Suid-Afrika se waterwaardeketting:

  • 60% van die jaarlikse afvloei van water vind oor net 20% van die landoppervlak plaas – meestal in die ooste – terwyl die grootste deel van die weste droog is.
  • Die totale behoefte en verbruik van water kan op die volgende beraam word: huishoudelike gebruik: 29%; landboubesproeiing: 59%; mynbou en industrie: 8%; bosbou 4%.
  • ʼn Totaal van 70% van die jaarlikse waterafvloei van die landoppervlak word opgevang deur 252 groot damme wat gebou is. Daarbenewens beskik die land oor ʼn addisionele 3 500 kleiner damme.
  • Johannesburg is Suid-Afrika se grootste stad en sorteer onder die grootste 50 stedelike gebiede ter wêreld. Die stad is uniek in dié sin dat dit die enigste groot stad ter wêreld is wat nie langs die kus of op die wal van ʼn groot rivier gebou is nie.
  • Rand Water was eens op ʼn tyd die grootste watervoorsiener ter wêreld, en dit is tans die grootste in Afrika. Dit voorsien water aan meer as 11 miljoen mense in Gauteng, Mpumalanga, die Vrystaat en die Noordwes Provinsie.
  • Rand Water beskik oor pypleidings met ʼn groot deursnee wat oor ʼn afstand van meer as 3 056 km strek, waardeur gemiddeld 3 653 miljoen liter water per dag vloei.
  • Die Lesotho-Hoogland-waterprojek is een van die grootste bi-nasionale infrastruktuurprojekte ter wêreld, en bestaan uit ʼn uitgebreide netwerk van indrukwekkende damme en tonnels wat water aan verskillende gebiede in Suid-Afrika verskaf.
  • Ongeveer 88% van huishoudings in Suid-Afrika het tans toegang tot skoon water.

 

Ons kan nie anders as om weereens vandag op Wêreldwaterdag net te besef hoe belangrik die rol is wat water in ons voortbestaan speel nie.

Prof. Hannes Rautenbach is die dekaan van die Fakulteit Natuurwetenskappe by Akademia.