Kampusopedag 10 en 11 Mei 2024

Search
Close this search box.

Loopbaanontwikkelingsprogram gee studente ʼn voet in die deur

Gepubliseer op: 19 April 2021

Akademia se Loopbaanontwikkelingsprogram – ʼn projek wat akademiese opleiding en praktiese toepassing in die werksplek kombineer – het amptelik aanvang geneem. Die Loopbaanontwikkelingsprogram is ontwikkel vanuit die sukses van ʼn internskapprogram vir BCom (Ondernemingsbestuur)-studente wat verlede jaar plaasgevind het. Na aanleiding van beide studente en maatskappye se positiewe terugvoer word hierdie inisiatief ook nou amptelik oor verskeie ander akademiese programme uitgerol.

Hierdie program het ten doel om studente bloot te stel en gereed te kry vir die werkplek deur hulle eerstehands te laat ervaar hoe vakkennis in die praktyk toegepas word, maar bied ook insig in die verskillende loopbaanroetes wat ʼn individu met ʼn bepaalde kwalifikasie kan betree. Hierdie program bied die ideale geleentheid om waardevolle blootstelling in die werkplek op te doen.

Volgens Mareli Swanepoel, projekbestuurder by Akademia, vorm dié program deel van Akademia se opvoedingsideaal om afgeronde Afrikaanse studente aan gemeenskappe te lewer. Sy noem ook dat studente wat by Akademia afstudeer, werksgereed en -fiks moet wees. Die nodige vaardighede vir die toekoms van werk word tydens die Loopbaanontwikkelingsprogram ontwikkel sodat kennis op akademiese en maatskaplike vlakke uitgebrei word. Studente kry ook die kans om werkgeleenthede en netwerke in die praktyk te bou. Studente kan aan opbouende mentorskapgeleenthede deelneem, en kan ook in die gemeenskap terugploeg deur by ʼn reeks gemeenskapsprojekte betrokke te raak.

Die Loopbaanontwikkelingsprogram het in Maart vanjaar afgeskop, waar studente tydens studente-oriëntering kon aansoek doen om daaraan deel te neem. Die program strek oor drie jaar, waar jaar een fokus op blootstelling aan die praktyk en opleiding. Jaar twee sal meer gefokus wees op internskappe en gemeenskapswerk, terwyl jaar drie handel oor die plasing by werkgewers vir vakansiewerk en die verkry van ʼn beroepsmentor.

Akademia se Loopbaanontwikkelingsprogram word in samewerking van die volgende organisasies aangebied:

  • Solidariteit Beroepsgildes – vir die plasing van studente by werkgewers vir blootstelling
  • Solidariteit Jeug – vir werkgereedheidsopleiding
  • S-Leer – vir die ontwikkeling van mensgerigte vaardighede
  • AfriForum Jeug – vir ontwikkeling op kulturele vlak
  • Solidariteit Helpende Hand – om van jongs af te leer om terug te ploeg in die gemeenskap en betrokke te wees by opheffingswerk

 

“Deur blootstelling aan die praktyk kan studente reeds van hulle eerste jaar af ʼn goeie prentjie skets van wat van hulle verwag sal word ná hul studies. Baie mense besef dan eers dat dit eintlik glad nie is wat hulle eendag wil doen nie en gaan werk dan in ʼn heeltemal ander rigting,” sê Swanepoel. Indien studente van vroeg af die nodige blootstelling kry, ontwikkel hul ʼn idee van hul verskeie opsies en dit bied ook aan hulle die gerustheid en doelgerigtheid in die veld waarna hulle hulself sien groei en ontwikkel.

Akademia-studente by die Loopbaanontwikkelingsprogram se eerste aksie wat deur Solidariteit Jeug aangebied is.