Studieaansoeke vir 2025 is reeds oop

Search
Close this search box.

Akademia se Nagraadse Diploma in Belasting geniet SAIT-akkreditasie

Gepubliseer op: 21 Mei 2024

Akademia het pas die nuus ontvang dat die Nagraadse Diploma in Belasting-program voortaan akkreditasie van die Suid-Afrikaanse Instituut vir Belasting (SAIT) sal geniet. Volgens Nikki Kennedy, programkoördineerder, volg die akkreditasie ná maande se gespreksvoering met SAIT asook ʼn intensiewe akkreditasieproses. Die positiewe uitkoms van dié aansoek is op 9 Mei bekendgemaak.

Dr. Rachel Maritz, dekaan van die Fakulteit Ekonomiese en Bestuurswetenskappe, verduidelik dat dit vir Akademia belangrik is dat programme beide praktykgerig en relevant moet wees. Sy sê voorts dat professionele akkreditasie, soos dié van die Nagraadse Diploma in Belasting by SAIT, ʼn bewys is dat dié program belyn is met kritiese industriestandaarde en -vereistes. “Hierdie akkreditasie is verder ʼn bewys dat die instelling sy studente toerus vir die werksplek en gevolglik die geleentheid bied om produktief tot hulle gemeenskap by te dra,” meen Maritz.

Kennedy verduidelik op haar beurt dat dié akkreditasie verskeie voordele vir beide die instelling en studente inhou. Vir Akademia as ʼn onafhanklike hoëronderwysinstelling spreek die akkreditasie direk tot die gehalte van onderrig wat in hierdie veld geskied, sowel as die uitbouing van die instelling se status as studietuiste met betrekking tot bedryfsvennote soos SAIT.

“Die akkreditasie van akademiese programme bied aan Akademia die geleentheid om deur onafhanklike professionele liggame beoordeel te word. Hierdie beoordeling verseker dat programme belyn is met die verwagtinge van die praktykswêreld,” sê Kennedy. Sy voeg by dat die akkreditasie voorts aan studente in hierdie program ʼn groot mate van gerusstelling bied. Laasgenoemde verwys na die amptelike erkenning dat die program aan die hoë en baie spesifieke bedryfsvereistes voldoen en sodoende die baan weg vir studente om SAIT-lidmaatskap te bekom. Lidmaatskap vereis van studente om, soos voorgeskryf deur SAIT, relevante praktiese ervaring op te doen en die finale toelatingseksamen suksesvol af te lê.

Volgens Kennedy is die Nagraadse Diploma in Belasting, wat via die instelling se nauurse afstandsmodel aangebied word, nommerpas vir persone wat in die belastingsveld wil spesialiseer óf wat reeds in die veld werksaam is. Hierdie program kan oor die bestek van een tot drie jaar voltooi word. Die program stel studente in staat om hul volwaardige plek in die werksomgewing in te neem deur hul toe te rus met die kennis en vaardighede wat nodig is om as belastingkenner die organisatoriese en individuele nakoming van die vereistes van die Suid-Afrikaanse Inkomstediens en die Nasionale Tesourie te verseker.

Die volgende programme in die Fakulteit Ekonomiese en Bestuurswetenskappe geniet ook amptelike akkreditasie deur ander professionele liggame soos onder andere die Chartered Institute for Management Accountants (CIMA), die South African Institute of Professional Accountants (SAIPA), die Southern African Institute for Business Accountants (SAIBA), die Gedragsowerheid vir die Finansiële Sektor (Financial Sector Conduct Authority – FSCA) en die Finansiëlebeplanningsinstituut van Suider-Afrika (Financial Planning Institute of Southern Africa – FPI).

Indien jy jouself in die besigheidswêreld wil vestig doen vandag nog aansoek vir die 2025- akademiese jaar. Studieaansoeke by Akademia is reeds oop.

Nikki Kennedy, programkoördineerder van die Nagraadse Diploma in Belasting by Akademia, meen die akkreditasie van dié program spreek tot die gehalte van die onderrig wat in hierdie spesialisveld gelewer word.