Kampusopedag op 10 en 11 Mei is oor

Dae
Ure
Minute
Sekondes
Search
Close this search box.

Pa en dogter onderneem saam hul studiereis by Akademia

Gepubliseer op: 24 April 2024

“My pa is nie net my held en beste vriend nie, maar ook ʼn mede-Fontie en ʼn baie goeie studiemaat!” Só gesels Akademia-student, Marzé Becker (20), oor haar pa, Victor (51), wat vanjaar sy studiereis as ʼn eerstejaarstudent by dié instelling begin het.

Dié pa-en-dogterduo volg onderskeidelik die LLB– en die BCom (Ondernemingsbestuur)-program. Méér nog, Marzé – wat tans ʼn derdejaarstudent is, pak haar studie via die voltydse kampusmodel aan terwyl haar pa dit by wyse van die nauurse afstandsmodel en die e-leeropsie doen.

Victor, wat as ʼn boekhouer by ʼn eiendomsontwikkelaar werk, vertel dat hy nog altyd ʼn belangstelling vir die reg en wetgewing het, en dat die nauurse afstandsmodel hom die geleentheid bied om dié belangstelling na te volg. Die feit dat sy dogter beplan om ná afloop van haar studie in 2025 óók die LLB-program te volg het ook tot sy besluit bygedra.

Marzé, wat ook die primaria van Huis Dahlia (een van Akademia se dameskoshuise) is, sê dat sy in haar eerstejaar met Handelsreg kennisgemaak het, en dat die regsgogga haar toe gebyt het. Sy voeg blinkoog by dat sy in dié tyd haar pa om raad gevra het omdat sy dit toe oorweeg het om na die LLB-program oor te skakel. “Wie sou kon raai dat hy twee jaar later self agter die regsboeke sou inskuif,” lag Marzé.

En wat sou dié pa en dogter se akademiese verhouding wees sonder ʼn gesonde skeut mededinging? Victor vertel breëbors dat hy 86% behaal het vir sy eerste Personereg-semestertoets en só ʼn uitdaging aan Marzé gestel het om dieselfde te doen, óf beter, in haar eerstejaar as LLB-student.

Beide Marzé en Victor meen daar is besliste voordele daaraan verbonde om saam te studeer. Victor help sy dogter met rekeningkunde, terwyl Marzé op haar beurt haar pa help om die Spens, Akademia se leerbestuurstelsel, baas te raak. Die twee kan ook vir ure gesels oor modules wat hulle ingemeen het.

Op die vraag of pa en dogter Akademia aan ander persone sal voorhou as ʼn studietuiste, is die antwoord ʼn dawerende “ja”! Marzé moedig voornemende studente aan om die jaarlikse kampusopedag by te woon omdat dié geleentheid haar finaal oortuig het om ʼn Fontie te wees. “Ek het die opedag in 2021 bygewoon en die gees waarmee personeel en studente ons op die kampus verwelkom het, het my dadelik laat tuis voel. Die kersie op die koek is natuurlik dat Akademia se waardes strook met dié waarmee ek grootgeword het,” verduidelik Marzé. Sy voeg by dat die instelling haar in staat stel om nie net akademies te groei nie, maar ook as volronde mens te ontwikkel.

Op sy beurt meen Victor dat alhoewel nauurse afstandstudie uitdagend is, dit uit en uit die moeite werd is. Vir hom is die sêding; “Gaan dit maklik wees? Geensins nie. Gaan dit die moeite werd wees? Definitief!”, van groot waarde. “Niemand kan kennis van jou wegneem nie, belê in jou jouself en skep só ʼn hoopvolle toekoms,” sluit Victor af.

Indien jy soos Marzé en Victor ook by Akademia wil studeer en só jou drome stukrag gee, besoek gerus die instelling se webblad. Aansoeke vir die 2025- akademiese jaar open op 2 Mei 2024.

Marzé en Victor Becker is ʼn pa-en-dogterduo wat vanjaar hul studiereis saam by Akademia onderneem.