Gepubliseer op: 14 Mei 2025
Vir die Harding-sussies, Nathalie (21) en Justine (18) van Meyerton in die Vaaldriehoek is Akademia méér as net ʼn studietuiste. Vir dié twee, wat beide via die instelling se voltydse kampusmodel studeer, verteenwoordig Fontie-wees as’t ware ʼn ongeëwenaarde tuiskoms wat onder meer studentelewe, vorming, vriendskap én roepingsbesef betref.
Ousus, Nathalie, droom van ʼn beroep as onderwyser en is tans in haar tweede jaar van studie in die BEd (Intermediêre Fase-onderwys)-program. Op haar beurt volg Justine, wat vanjaar ʼn eerstejaarstudent in die BCom (Finansiële en Bestuursrekeningkunde)-program is. Beide sussies geniet óók Akademia se bruisende studentelewe en is onderskeidelik inwoners van Huis Dahlia en Huis Strelitzia – twee van die instelling se inwoondameskoshuise.
Die keuse van Akademia as studietuiste
Vir Nathalie was die besluit om Akademia as studietuiste te kies, voor die hand liggend. Sy vertel dat die instelling vir haar ʼn plek is waar sy nie nét akademies toegerus word nie, maar óók haarself ten volle kan uitleef. In dié proses leer sy daagliks meer van haarself en haar plek in die wêreld. Kleinsus, Justine, meen moedertaalonderrig en die geleentheid om studentwees voluit in Afrikaans te mag ervaar, het die knoop vir haar deurgehaak. Nóg aspekte wat vir beide belangrik is, is ʼn Christelike geloofservaring asook die behoud van tradisie en erfenis.
ʼn Eiesoortige koshuiservaring
Op die vraag waarom die sussies elk op ʼn ander koshuis besluit het, antwoord hulle dat alhoewel hulle ʼn hegte sustersband het, hulle die uiteenlopendheid en eiekarakter van elk van hul gekose koshuise geniet.
Nathalie, wat in Huis Dahlia woon, dien óók op haar koshuis se leierskapstruktuur as deel van die huiskomitee. In hierdie rol is sy verantwoordelik vir die portefeulje: Akademie en Gemeenskap – ʼn roeping wat sy glo die Here haar op voorberei en uitgekies het.
As ʼn Dahlia-dame en gedagtig aan dié koshuis se waardes, voel Nathalie tuis in die wete dat sy altyd vriendinne om haar sal hê. Óf dit nou is om ʼn koppie koffie saam te geniet, hartsgesprekke te voer óf saam laataand om die boeke te verkeer. Nathalie voeg by dat Huis Dahlia vir haar soos ʼn veilige hawe, en ʼn energieke ruimte is waarbinne mede-Fonties soos susters die soet en die suur van die alledaagse saam kan aanpak.
Vir Justine lê Huis Strelitzia se bekoring in die warmte waarmee nuwe studente tot die koshuis verwelkom word, iets wat sy reeds by die opedag in 2024 ervaar het. Dié kleurvolle koshuis is bekend vir haar gulhartigheid en die dames hou van lag, soveel só dat Fonties reken dat jy ʼn Litzie (soos dié koshuisdames bekendstaan) eers hoor voordat jy haar sien.
Tradisies soos om saans saam kos te maak en stories as vriendinne te deel, lê Justine na aan die hart. “Daar is altyd ʼn ketel wat iewers kook, en op dae wat jy dalk bietjie broos voel is ʼn vriendin net ʼn klop aan ʼn kamerdeur ver,” vertel Justine.
En alhoewel die Harding-sussies verskillende programme volg en saans hul kamerdeure in verskillende koshuise toemaak, bly die hartklop van hul sustersband sterk. Hulle vertel dat hulle daagliks tyd inruim om saam te kuier en oor hul ervaringe te gesels. Die feit dat hulle gedeelde stokperdjies beoefen, help hulle óók om tyd saam te spandeer.
Studentwees as lewende getuienis
Beide Nathalie en Justine is passievol oor hul godsdiens en meen dat hul studentwees óók vir hulle die geleentheid bied om hulself met lofprysing te besig en só die goeie boodskap te versprei.
As ywerige musikante gebruik die sussies hul musikale talente om nie net hul geloofservaring met ander te deel nie, maar tree ook graag op by familieverjaarsdae en gesellige koshuiskuiers vir hul vriendinne. Nathalie bespeel die elektriese kitaar terwyl Justine haar komplimenteer op die baskitaar.
“Ons bly dalk nie onder dieselfde dak nie, maar ons is steeds nader aanmekaar as ooit,” vertel Nathalie. Justine beaam haar sussie se woorde en sê dat hulle altyd beste vriendinne sal wees, terwyl hulle mekaar ook in alles ondersteun. “My sussie was nog altyd my rolmodel en my rots,” meen Justine. Beide meen dat hul Fontie-ervaring, en méér nóg die vorming wat hulle ervaar, hul susterskap tot nuwe en opwindende hoogtes voer.
Wil jy ook soos Nathalie en Justine Akademia jou studietuiste maak? Studieaansoeke vir die 2026- akademiese jaar word nou ingewag. Besoek die instelling se webblad vir meer inligting.
Akademia MSW (Maatskappyregistrasienommer: 2005/024616/08) is by die Departement van Hoër Onderwys en Opleiding as privaat hoëronderwysinstelling geregistreer ingevolge die Wet op Hoër Onderwys, 1997 • Registrasienommer: 2011/HE08/005 | © Kopiereg 2025 – Akademia – Alle Regte Voorbehou
Privaatheidbeleid | Vrywaring | HelpDesk tool provider: HelpDesk | Chat provider: LiveChat
Akademia-skenkingsfonds
Eerste Nasionale Bank
Rekeningnommer: 62857561445
Takkode: 210554
Verwysing: Jou selfoonnommer
Voeg die volgende klousule tot jou testament by. (Vervang self die bedrag.)
Ek bemaak ʼn kontantbedrag van R100 000.00 (Eenhonderd Duisend Rand) aan AKADEMIA MSW met registrasienommer: 2005/024616/08 geregistreer by die Departement van Hoër Onderwys en Opleiding as ʼn privaat hoëronderwysinstelling ingevolge die Wet op Hoër Onderwys, 1997 onder registrasienommer: 2011/HE08/005.
Laat jou besonderhede hieronder dan sal ‘n skenkingsfondsbestuurder met jou kontak maak.
083 254 0142
skenking@akademia.ac.za
Ek sien uit daarna om jou persoonlik te ontmoet en jou unieke bydrae en nalatenskap te bespreek.