*Die Paarl-kampus is voorlopig goedgekeur

Fontie-Monique glo dat deelname tot groei en vorming bydra

Gepubliseer op:  18 September 2026

Vir Akademia-student, Monique Alberts (21) het haar studiereis aan Akademia met ʼn eenvoudige, dog kragtige indruk by die jaarlikse opedag in Pretoria begin: “Hier voel ek tuis!” Vandag, twee jaar later, is dié BCom (Ondernemingsbestuur)-student se identiteit nou verweef met die instelling se groter verhaal en strewe na betrokkenheid, vriendskap, vorming en die ontdekking van haar eie vermoëns en potensiaal.

Sy onthou dat dit juis die gulhartigheid van die Akademia-gemeenskap was wat aanvanklik haar belangstelling geprikkel het, en dat sy nog nie een keer spyt was oor haar keuse van studietuiste nie. Vir haar bly dié besluit een van die bestes wat sy kon neem.

“Akademia het vir my oor die afgelope paar jaar baie meer geword as net ʼn manier om my studiedrome te verwesenlik. Dit het ʼn hartstuiste geword waar ek daagliks kan groei, voortdurend nuwe dinge kan aanpak, interessante mense ontmoet en myself deurentyd beter kan leer ken,” sê Alberts.

ʼn Droom van beweging, ritme en klank

Alberts volg die BCom (Ondernemingsbestuur)-program met ʼn baie spesifieke toekomsdroom in gedagte: om eendag haar eie dansateljee te begin. En dit is juis hierdie droom wat haar motiveer om elke dag haar beste te doen en geleenthede met albei hande aan te gryp.

Hoewel dans haar passie is, besef sy dat ʼn suksesvolle onderneming meer as kreatiwiteit verg. Daarom het sy juis die Ondernemingsbestuur-program gekies om haar toe te rus met kennis van onder meer bestuur, bemarking, finansies, menslike hulpbronne, innovasie en projekbestuur.

Maar dit is nie nét binne die lesingslokaal waar Alberts haarself ontwikkel nie.

Die klop van studentwees

As ʼn voltydse kampusstudent en ʼn lid van Huis Strelitzia is Alberts reeds vanaf haar eerste jaar van studie nougeset betrokke by die instelling se georganiseerde studentelewe. Eers as ʼn lid van die studenteraad (SR) se uitvoerende komitee vir Verenigings en later as die ondervoorsitter van dié einste komitee.

Hierbenewens het sy as organiseerder by die filmklub, dansklub en die draf-en-koffieklub betrokke geraak. Sy het óók getrou aan haar passie vir dans, gehelp om die Akademia-dansspan van stapel te stuur – ʼn inisiatief wat uiteindelik gegroei het tot ʼn span wat op nasionale vlak deelneem.

Monique Alberts is ʼn trotse Fontie en leef haar passie as student uit deur aktief deel te neem aan verskeie studentelewe-aktiwiteite.

“Die instelling se studentelewe bied aan studente ʼn oormaat geleenthede om betrokke te raak, en ek is ʼn voorbeeld van iemand wat gretig op dié oproep reageer,” sê Alberts en voeg by dat haar deelname ʼn klinkklare bewys is van wat kan gebeur as ʼn mens bereid is om ʼn kans te waag en betrokke te raak. “Ek het deur hierdie rolle baie meer selfvertroue ontwikkel en geleer om situasies te hanteer wat ek voorheen dalk nie gedink het ek sou eens kon aanpak nie,” meen Alberts.

Die totstandkoming en gepaardgaande sukses van die dansspan bly vir haar ʼn besonderse hoogtepunt. Wat aanvanklik as ʼn droom en ʼn gedagte ontstaan het, is vandag iets wat nasionaal ʼn indruk maak en nóg geleenthede vir ander Fonties ontsluit. Haar deursettingsvermoë in hierdie verband het voorts, volgens Alberts, verskeie lewenslesse na vore gebring. Hierdie lesse sluit in die krag van spanwerk, die belangrikheid van kreatiwiteit en die waarde van goeie ondersteuningsnetwerke.

Wees betrokke en geniet Fontie-wees ten volle

As daar één boodskap is wat Alberts aan ʼn eerstejaar-Fontie of selfs ʼn voornemende student wil oordra, is dit om betrokke te wees.

“Moenie net klas toe gaan en huis toe gaan nie. Sê ja vir geleenthede, sluit by ʼn klub aan, ontmoet nuwe mense, probeer iets wat jy nog nooit gedoen het nie en gee jouself die kans om uit jou gemaksone te beweeg,” verduidelik Alberts.

Volgens haar is dit juis buite die lesinglokaal waar van haar grootste persoonlike groei plaasgevind het. Deelname het haar geleer om saam met ander te werk, verantwoordelikheid te neem, probleme vindingryk en met ʼn oop kop op te los en onder druk te funksioneer.

Maar meer as dit, het dit haar geleer om mense te waardeer.

“Elke projek, klub, span en geleentheid gaan uiteindelik oor mense. Dit is juis die mense saam met wie jy die reis aanpak wat die ervaring besonders maak,” glo Alberts.

Om deel te wees van iets groter

Vir Alberts beteken Fontie-wees uiteindelik om deel te wees van ʼn gemeenskap en om só iets van jouself tot iets veel groter as jouself by te dra.

As ʼn trotse Fontie wéét ek dat ek nie nét vir myself en die hier en nou leef nie. Ek is deel van ʼn gemeenskap en het die geleentheid – asook die verantwoordelikheid – om iets tot hierdie gemeenskap se toekoms by te dra,” meen Alberts. Met hierdie ingesteldheid sal sy ook, sonder om te huiwer, Akademia as ʼn studietuiste aan ander voorhou.

Wanneer sy terugkyk na die jongeling wat in 2024 by Akademia se opedag aangekom het, teenoor die mens wat sy vandag is, sien Alberts ʼn merkbare verskil. Sy het meer selfvertroue, is bereid om nuwe uitdagings aan te pak en het ontdek dat sy tot veel meer in staat is as wat sy aanvanklik gedink het.

En dalk is dit die grootste les wat Alberts se studentejare haar tot dusver geleer het: ʼn Mens ontdek jouself nie altyd deur binne jou gemaksone te bly nie. Soms gebeur vorming wanneer jy jou hand opsteek, “ja” sê en eenvoudig betrokke raak.

Sien jy uit om deel te wees van Akademia se bruisende studentelewe in 2027? Studieaansoeke is oop. Besoek gerus die instelling se webblad en vir meer inligting.

Monique Alberts, ʼn BCom (Ondernemingsbestuur)-tweedejaarstudent meen vorming vind ook buite die lesingslokaal plaas.

Direkte inbetaling: Bankbesonderhede

Akademia-skenkingsfonds

Eerste Nasionale Bank

Rekeningnommer: 62857561445

Takkode: 210554

Verwysing: Jou selfoonnommer

Testamentêre bemaking

Voeg die volgende klousule tot jou testament by. (Vervang self die bedrag.)

Ek bemaak ʼn kontantbedrag van R100 000.00 (Eenhonderd Duisend Rand) aan AKADEMIA MSW met registrasienommer: 2005/024616/08 geregistreer by die Departement van Hoër Onderwys en Opleiding as ʼn privaat hoëronderwysinstelling ingevolge die Wet op Hoër Onderwys, 1997 onder registrasienommer: 2011/HE08/005.

Laat jou besonderhede hieronder dan sal ‘n skenkingsfondsbestuurder met jou kontak maak. 

Zander Botha: Skenkingsfondsbestuurder

083 254 0142
skenking@akademia.ac.za

Ek sien uit daarna om jou persoonlik te ontmoet en jou unieke bydrae en nalatenskap te bespreek.