*Die Paarl-kampus is voorlopig goedgekeur
Gepubliseer op: 21 September 2026
Vir talle jong werkendes mag politiek ver verwyderd van hul alledaagse lewens voel. In ʼn munisipale verkiesingsjaar kom klop gemeenskapspolitiek as’t ware egter aan elke landsburger se voordeur. Deelname aan dié demokratiese proses het ʼn rimpeleffek en speel ʼn bepalende rol in onder meer aspekte soos infrastruktuur, dienslewering, gemeenskapsveiligheid en plaaslike ekonomiese ontwikkeling. Hierdie impak is egter nie net tot die hier en nou beperk nie, maar ook op die volhoubaarheid en potensiaal van die dag van môre.
Volgens prof. Theo Neethling, senior dosent: Sosiale Wetenskappe aan Akademia en bekende politieke kommentator, gaan deelname aan die munisipale verkiesingsproses oor veel meer as bloot die uitoefening van ʼn landsburger se stem. Dit is ʼn geleentheid om inspraak te hê in die gemeenskap waarin jy woon, werk en jou toekoms bou. In kort: Plaaslike regering gaan nie oor ʼn abstrakte politieke konsep nie, maar eerder ʼn toekomsboublok vir gemeenskappe oraloor.
Gedagtig hieraan beantwoord Neethling kritiese vrae in dié verband.
Word Suid-Afrikaners wetlik verplig om te stem?
Deelname aan ons regeringstelsel, in ooreenstemming met sy demokratiese waardes, is geheel en al vrywillig. Daar is geen wetlike verpligting of regeringsdwang wat burgers verplig om te stem nie. Dit staan in kontras met Australië, waar stemgeregtigde burgers aan ʼn wetlike stemplig moet voldoen. Sedert 1924 verplig Australië sy burgers ouer as agtien jaar om te stem, en versuim kan tot ʼn boete lei.
Waarom is deelname aan die munisipale verkiesing spesifiek van belang vir jong Suid-Afrikaners?
Deelname aan munisipale verkiesings is vir alle Suid-Afrikaners belangrik, maar veral vir jongmense met groot toekomsverwagtinge. In ʼn demokrasie versterk aktiewe burgerlike deelname die politieke stelsel. Verkiesings gee aan burgers die geleentheid om hul politieke voorkeure uit te spreek, verteenwoordigers te kies en ʼn invloed op politieke besluitneming uit te oefen. Deelname is daarom ʼn belangrike manier waarop burgers hul steun vir, of oordeel oor, die demokratiese bestel kan uitspreek.
Wat is van die grootste redes waarom jongmense van die politieke proses onttrek?
Jong Suid-Afrikaners is nie noodwendig apaties nie, maar eerder ontnugter deur die formele verkiesingspolitiek. Hoewel jeugopkoms by verkiesings laag is en politiekepartylidmaatskap sedert 1994 afgeneem het, bly jongmense aktief in die burgerlike lewe deur onder meer gemeenskapsprotes, sosialemedia-aktivisme en grondvlakorganisasies.
Hierdie ontnugtering word versterk deur gevoelens van ekonomiese uitsluiting, hoë jeugwerkloosheid, korrupsie en falende infrastruktuur. Gevolglik het baie jongmense min vertroue in politieke leierskap en glo hulle dat deelname aan formele politiek nie noodwendig tasbare verandering in hul daaglikse lewens sal bring nie.
Hoe direk raak munisipale besluite jongmense se daaglikse lewens en hul toekomstige geleenthede?
Die komende verkiesing fokus op munisipale regering – die regeringsvlak naaste aan inwoners en hul daaglikse behoeftes. Munisipaliteite is verantwoordelik vir noodsaaklike dienste soos water, elektrisiteit, sanitasie, afvalverwydering en plaaslike padinfrastruktuur.
Inwoners het boonop ʼn direkte skakel met hul plaaslike regering deur verkose wyksraadslede aan wie gemeenskappe hul bekommernisse kan rig. Wetgewing vereis ook dat munisipaliteite inwoners deur onder meer openbare vergaderings, wykskomitees en ontwikkelingsbeplanning by besluitneming betrek.
Openbare deelname is ʼn wetlik verpligte proses kragtens nasionale wetgewing. Dit verseker dat munisipale besluite werklike gemeenskapsbehoeftes weerspieël, eerder as bo-na-onder-besluite. Juis daarom is deelname aan die demokratiese proses op munisipale vlak so uiters belangrik.
Hoe antwoord ʼn mens die jong kieser wat sê: “Ek het al gestem, maar niks het verander nie – waarom moet ek weer stem?”
Hoewel sommige mense meen dat ʼn enkele stem min verskil sal maak, maak elke stem in Suid-Afrika se proporsionele kiesstelsel saak. Deur te stem, spreek kiesers hul tevredenheid of ontevredenheid met die regering uit en kan hulle partye wat swak presteer, demokraties vervang. Om nie te stem nie, beteken om hierdie geleentheid prys te gee.
Stem is daarom nie bloot ʼn reg nie, maar ook ʼn belangrike burgerlike verantwoordelikheid. Dit bied aan burgers die geleentheid om die regering aanspreeklik te hou en tot politieke en maatskaplike verandering by te dra.
Ook vanuit ʼn Christelike perspektief beteken ons geloof nie dat ons ons aan die politieke proses moet onttrek nie. Johannes 18:36 herinner ons daaraan dat Christus se koninkryk nie van hierdie wêreld is nie, maar dit beteken nie dat Christene geen verantwoordelikheid teenoor die aardse samelewing het nie. As rentmeesters word ons juis geroep om verantwoordelik om te gaan met die wêreld en die gemeenskap waarin ons leef. Romeine 13:1 tot 7 beklemtoon ook die belang van ons burgerlike verantwoordelikhede.
Wat verloor ʼn demokrasie wanneer ʼn groot deel van sy jong kiesers besluit om nie te stem nie?
Suid-Afrika sit reeds met ʼn kommerwekkende afname in verkiesingsdeelname. Waar byna 90% van geregistreerde kiesers in 1994 gestem het, het deelname tydens die jongste nasionale verkiesing tot net meer as 58% gedaal. Volgens die Raad vir Geesteswetenskaplike Navorsing (RGN) is politieke ontevredenheid en ontnugtering van die belangrikste redes waarom kiesers verkiesings vermy.
Hoewel politieke vervreemding en apatie verstaanbaar is, bied verkiesings aan verantwoordelike burgers ʼn geleentheid om by te dra tot ʼn verantwoordbare en regverdige regering en om hul Godgegewe vryhede binne die politieke bestel uit te oefen. Ons behoort daarom nie ons burgerlike plig te versaak nie, aangesien die keuses van regeerders ʼn wesenlike invloed op die welstand en toekoms van ʼn samelewing kan hê.
Watter kwessies behoort jong kiesers vóór die munisipale verkiesing te ondersoek wanneer hulle besluit vir wie om te stem?
Die staat se kernfunksies is om orde te handhaaf, burgers teen bedreigings te beskerm en die algemene welstand te bevorder. Op munisipale vlak kry dit gestalte in basiese dienslewering, soos water en elektrisiteit, die instandhouding van paaie en openbare ruimtes, asook behuisingsprojekte. Die munisipale verkiesings op 4 November bied aan kiesers die geleentheid om leiers te verkies wat hierdie verantwoordelikhede na hul mening die beste sal kan uitvoer.
Jong kiesers behoort daarom verder as politieke retoriek en verkiesingsbeloftes te kyk en eerder partye se beginsels en bewese rekord van dienslewering te beoordeel. Partye wat nie hul beloftes nakom of basiese dienste lewer nie, behoort van dié met ’n bewese vermoë om beleid doeltreffend te implementeer, onderskei te word.
Politieke mag behoort uiteindelik nie ʼn middel tot selfverryking te wees nie, maar ʼn geleentheid om plaaslike gemeenskappe te dien. Kiesers behoort daarom leiers en partye te ondersteun wat diensbaarheid en verantwoordelike bestuur vooropstel.
Neethling sluit af deur te sê dat deur te stem, elke Suid-Afrikaanse burger bydra tot die bevordering van die goeie. Dit is daarom die plig van alle Suid-Afrikaners – oud en jonk – om hierdie verantwoordelikheid uit te oefen en nie die verkiesingsdag onverskillig as nóg ʼn ekstra vakansiedag te sien nie, maar om eerder met die nodige verantwoordelik by die stembus op te daag.

Akademia-skenkingsfonds
Eerste Nasionale Bank
Rekeningnommer: 62857561445
Takkode: 210554
Verwysing: Jou selfoonnommer
Voeg die volgende klousule tot jou testament by. (Vervang self die bedrag.)
Ek bemaak ʼn kontantbedrag van R100 000.00 (Eenhonderd Duisend Rand) aan AKADEMIA MSW met registrasienommer: 2005/024616/08 geregistreer by die Departement van Hoër Onderwys en Opleiding as ʼn privaat hoëronderwysinstelling ingevolge die Wet op Hoër Onderwys, 1997 onder registrasienommer: 2011/HE08/005.
Laat jou besonderhede hieronder dan sal ‘n skenkingsfondsbestuurder met jou kontak maak.
083 254 0142
skenking@akademia.ac.za
Ek sien uit daarna om jou persoonlik te ontmoet en jou unieke bydrae en nalatenskap te bespreek.