*Die Paarl-kampus is voorlopig goedgekeur
Gepubliseer op: 21 September 2026
Vir Hildegard Havenga (17) verteenwoordig 2027 méér as net die begin van haar naskoolse studiereis. Dit sal ook die jaar wees waarin ʼn droom, wat sy van kleins af om die familietafel leer ken het, vir haar ʼn persoonlike werklikheid sal word. ʼn Volsirkeloomblik as’t ware.
As ʼn matriekleerder aan die Hoërskool Menlopark staan Havenga op die drempel van haar eerste jaar as ʼn Fontie* by Akademia se Pretoria-kampus en benader sy dié vooruitsig met ʼn mengsel van energieke afwagting en nuuskierigheid. “Ná ʼn skoolloopbaan vol geleenthede en keuses kan ek nie wag om Akademia my studietuiste te maak nie, en ek tel die dae af tot ek aan hierdie volgende hoofstuk van my lewe kan begin skryf,” vertel Havenga.
Nie net waar jy kán studeer nie, maar waar jy wíl wees
Havenga is dankbaar dat sy van al die universiteite waar sy aansoek gedoen het, reeds toelating ontvang het. Dié voorreg het haar egter voor ʼn belangrike keuse gestel: Waar kán sy studeer, waar sy ook werklik wíl wees? Vir haar lê die antwoord onomwonde by Akademia, omdat sy haarself reeds as deel van dié gemeenskap sien – ʼn gewaarwording wat by die instelling se jaarlikse kampusopedag vir Havenga duidelik geword het.
“Die voorsmakie wat ek tydens die opedag gekry het, het omtrent my hart laat bokspring van opgewondenheid,” sê Havenga en voeg by dat sy glo dat ʼn mens eers ʼn studietuiste moet beleef voordat jy ʼn ingeligte besluit daaroor kan neem. Hoewel sy reeds baie van die instelling geweet het, het die ervaring van self deur die deure stap iets by haar laat posvat.
Wat haar veral opgeval het, was die trots waarmee mense oor Akademia praat – nie ʼn vertonerige trots nie, maar ʼn gevoel van samehorigheid en ʼn gedeelde visie. Sy het ook ’n warmte ervaar wat haar oortuig het dat die instelling méér is as net ʼn plek waar ʼn mens klasse bywoon en dan weer huis toe gaan. “Ek het by die opedag aangekom as iemand wat Akademia kom besoek het, maar weggegaan as iemand wat ʼn tuiskoms ervaar het,” meen Havenga.
Ander redes wat tot haar besluit bygedra het sluit in, die kundigheid van Akademia-dosente, die bruisende studentelewe en die menigte geleenthede om as mens te kan groei. “Ek sien veral uit na ʼn vormingservaring waar ek vrae kan vra, na behore nuuskierig kan wees en myself as méér as net nóg ʼn studentenommer kan onderskei,” sê Havenga. Sy voeg by dat studentwees immers nie net tot lesings, eksamens en assesseringstake beperk is nie. “As ek my oë toemaak, sien ek hoe ek as Fontie op die sportveld meeding, toneel speel, in die lesinglokaal debatteer en sosiaal saam met my vriende verkeer. Ek wil deur deelname aan al hierdie geleenthede nie net slimmer raak nie, maar ook dapperder, meer kreatief en só uiteindelik my eie stem ontwikkel,” meen Havenga.
ʼn Toekoms wat reeds begin vorm aanneem
Havenga se keuse van die BCom (Ondernemingsbestuur)-program spruit uit haar liefde vir besigheidstudie en haar natuurlike belangstelling in nuwe idees, mense en moontlikhede.
Sy vertel dat sy nie net wil weet wat die eindproduk van ʼn onderneming is nie. Sy wil verstaan wat agter die skerms gebeur: waarom sommige idees vlerke kry en ander nooit verder as ʼn gedagte vorder nie. Juis om hierdie rede prikkel dié gewilde studieprogram haar belangstelling. Die program bied voorts vir haar ʼn geleentheid om die kreatiewe en praktiese sy van die sakewêreld te ontdek – van entrepreneurskap, innovasie en bemarking tot mense, finansies en besluitneming.
Sy weet nog nie presies hoe haar loopbaan eendag gaan lyk nie, en dit pla haar nie. Havenga meen dat daar in hierdie stadium nog soveel ander dinge is wat sy oor die wêreld, maar ook oor haarself, moet ontdek. In die lig hiervan is ʼn kwalifikasie nie ʼn finale bestemming nie, maar ʼn beginpunt vanwaar sy haar sterkpunte kan ontdek en haar plek in die wêreld van werk kan vind.
Nóg iets waarna Havenga uitsien, is die koshuis- en studentelewe wat deur die instelling se voltydse kampusmodel ontsluit word. Sy sien uit na nuwe vriendskappe, tradisies, kultuur, sport, klubs en selfs die onverwagse oomblikke wat later van haar kosbaarste herinneringe kan word.
Sy wil daarom nie onbetrokke deur haar studentedae beweeg nie. Sy wil aktief deel daarvan wees. “Ek wil nuwe tradisies leer ken, nuwe mense ontmoet en dinge probeer wat my uit my gemaksone neem,” sê Havenga. Dit is ook vir haar belangrik om as ʼn student diensbaar tot die groter gemeenskap te wees.
As ʼn opgewonde toekomsbouer glo Havenga dat ʼn gemeenskap nie nét gekenmerk word deur dit wat jy as ʼn lid van daardie gemeenskap ontvang nie, maar eerder wat jy bereid is om van jouself te gee.

ʼn Droom wat oor generasies heen loop
Havenga se Akademia-verhaal is tekenend van ʼn verbondenheid tot die instelling, sy waardes en uiteindelik sy toekomsstrewe wat oor generasies heen strek.
Haar oupa, dr. Paul Steyn, het ʼn belangrike pioniersrol in die ontstaan en ontwikkeling van Akademia gespeel en het oor jare heen die droom van Afrikaanse hoër onderwys aan die familietafel gedeel. Steyn was Akademia se voormalige akademiese hoof en koördineerder: Voldoening en Gehalteversekering. Méér nog, Steyn was die tweede personeellid wat by die instelling aangestel is.
Sy opdrag was om die akademie in Akademia op die been te bring. Hy was onder meer betrokke by die registrasie van die instelling by die reguleerders en die indien van programme vir akkreditasie. Verder het Steyn toegesien dat die programme doelgerig aangebied is, personeel aangestel word en dat studiemateriaal ontwikkel word.
As jong kind het Havenga na verhale oor die uitdagings, onsekerheid en harde werk agter die skerms geluister, maar ook na die opgewondenheid oor elke nuwe mylpaal en toekomsmoontlikheid. “Wanneer ʼn mens met só ’n verhaal grootword, bly dit nie net deel van jou familiegeskiedenis nie. Iets daarvan word deel van jou eie DNS,” verduidelik Havenga.
Nou is dit haar beurt om deur Akademia se deure te stap en toekomsspore na te laat. Nie bloot as haar oupa se kleindogter nie, maar as ʼn student met haar eie drome, haar eie stem en haar eie bydrae om te lewer.
Wanneer Havenga gevra word om die vooruitsig van Fontie-wees in 2027 in een Afrikaanse woord te beskryf, kies sy die woord “volsirkel”. En hoe gepas is dit nie? Akademia en die droom van Afrikaanse hoër onderwys was deel van haar lewe voordat sy oud genoeg was om die groter betekenis daarvan te verstaan. In 2027 kry sy die geleentheid om nie meer net van buite na dié droom te kyk nie, maar om self daarvan deel te word.
Tog beteken hierdie volsirkeloomblik nie die einde van ʼn verhaal nie, maar eerder die voortsetting en die begin van ʼn splinternuwe hoofstuk: Sy stap Akademia binne met iets kosbaars uit haar verlede, maar ook met haar eie drome vir die toekoms. En dalk is dit presies waaroor ʼn studiereis gaan: om te koester waar jy vandaan kom, uit te vind wie jy is en met opgewondenheid te begin bou aan wie jy nog kan word.
Wil jy soos Havenga deel word van die Akademia-gemeenskap in 2027? Studieaansoeke is oop. Besoek gerus vandag nog die instelling se webblad vir meer inligting.
*Fonties verwys na studente wat aan Akademia studeer. Dié eienaam is afgelei uit die instelling se leuse, Ad futurum per fontes – vanuit die bronne na die toekoms.

Akademia-skenkingsfonds
Eerste Nasionale Bank
Rekeningnommer: 62857561445
Takkode: 210554
Verwysing: Jou selfoonnommer
Voeg die volgende klousule tot jou testament by. (Vervang self die bedrag.)
Ek bemaak ʼn kontantbedrag van R100 000.00 (Eenhonderd Duisend Rand) aan AKADEMIA MSW met registrasienommer: 2005/024616/08 geregistreer by die Departement van Hoër Onderwys en Opleiding as ʼn privaat hoëronderwysinstelling ingevolge die Wet op Hoër Onderwys, 1997 onder registrasienommer: 2011/HE08/005.
Laat jou besonderhede hieronder dan sal ‘n skenkingsfondsbestuurder met jou kontak maak.
083 254 0142
skenking@akademia.ac.za
Ek sien uit daarna om jou persoonlik te ontmoet en jou unieke bydrae en nalatenskap te bespreek.