*Die Paarl-kampus is voorlopig goedgekeur
Gepubliseer op: 22 September 2026
Geskryf deur dr. Nic de Jager, senior dosent: Professionele Studies, aan Akademia se Fakulteit Opvoedkunde
Met my onlangse wandelinge deur die strate van Londen, het musiekonderrig seker op die verste grense van my gedagtes gelê. Tot my verbasing, nét toe my voete Bowstraat tref, het die yslike fasade van die Royal Opera House egter agter die ander geboue begin uitsteek.
Hier het ek voor een van die bekendste operahuise ter wêreld stilgestaan, en my verkyk aan die klassieke Korintiese pilare en pediment (gewel) van die hoofingang. Dalk was dit my verbeelding, maar van binne die gebou kon ek die gedempte geluide van viole en ander snaarinstrumente hoor. Dié note was egter staccato, onderbroke – selfs sonder struktuur – asof die musikante besig was met ʼn repetisie onder die streng toesig van hul dirigent.

Op hierdie oomblik het ek opnuut besef dat musiek – selfs te midde van dié metropool se gewoel – onlosmaaklik deel van elkeen van ons is. En méér nóg, dat die tradisionele oorlewering van liedere en musikale talent nooit vir nuwe tegnologie of wêreldbeskouings sal terugstaan nie.
Kort daarna het ek hierdie gedagte aan my eie leefwêreld as taaldosent gekoppel, en probeer onthou wanneer laas ek op skool verplig was om ʼn musiekinstrument te bespeel. Dit was in graad 2, en die betrokke instrument was ʼn nederige plastiekblokfluit.
Die integrasie van musiek in die kurrikulum
Die integrasie van musiek in plaaslike kurrikula – hetsy dit die bespeling van instrumente behels óf bloot die luister van musiek om bestaande leerinhoud te verryk – is niks nuuts nie.
In die privaat sektor bied talle skole reeds musiek as ʼn buitekurrikulêre aktiwiteit of selfs ʼn keusevak aan. Voorbeelde van diesulke skole sluit in Dainfern College, St Albans College en Cannons Creek Independent School. Die vraag bly egter staan of musiek elders aandag geniet as ʼn dryfkrag vir gehalteonderrig en effektiewe leer?
Danksy die universele, toeganklike en omvattende aard daarvan, kan musiek met enige vakgebied of dissipline versoen word, en is dit iets wat onderwysers ter harte moet neem.
Hierdie meningstuk fokus egter op die taalklaskamer – spesifiek vir leerders in die intermediêre fase en ouer – en die waarde van musiek om bestaande taal- en literatuurtekste te ontsluit, te verryk en te laat herleef. Dit is immers hier, tussen die wêrelde van woord en klank, waar ek my eie tuiste as dosent, deeltydse trom- en kitaarspeler, en passievolle musiekluisteraar vind.
Die musikale ritme van die taalklaskamer
Die voordele van musiekpersepsie en -uitvoering in taalonderrig is wyd bekend en taalonderwysers sowel as opvoeders kan groot nut hieruit put.
Eerstens meen die navorsers Teresa Stewart-Meli en Victor Lozada dat musiek talle voordele vir leerders oor die kurrikulum heen ontsluit, deurdat dit fonologiese bewustheid, woordeskatretensie, en kruisdissiplinêre kommunikasie bevorder. Dit kan leerders help om klankpatrone, klemgebruik, en intonasie in addisionele tale te identifiseer, en met die herhaling van lirieke in liedjies is dit makliker om nuwe woorde te onthou en in konteks te gebruik.
By leerders wat ʼn addisionele taal aanleer, kan die luister van gekose musiekstukke – ook bekend as musiekpersepsie – angs verminder omdat die uitspraak van nuwe woorde, sinne en langer tekste aan die ritmes van ʼn bekoorlike musiekstuk gekoppel kan word. Volgens Zarifa Sadiqzade kan die ritmiese kadense van ʼn musiekstuk sekere klanke of foneme vir leerders duideliker maak, en hulle toerus om die lettergrepe en intonasies van spesifieke woorde in hul langtermyngeheue te stoor.
Verder toon die neurologiese navorsing van Laura Saunders dat die temporale en frontale breinareas, wat vir taalaanleer aangewend word, talle neurale netwerke met musiekluisteraktiwiteite deel. Wanneer leerders aandagtig na musiekkomposisies luister, stimuleer die verskeie melodiese strukture hul langtermyngeheuestelsels. Hierdie kognitiewe verskynsel – bekend as die oorwurmeffek – help om die spontane voordrag van tekste te fasiliteer, wat op sy beurt woordeskatontwikkeling versnel.
Idiome, werkwoordfrases, en tegniese terminologie (wat andersins vervelige meganiese memorisering sou vereis) kan dieper veranker word wanneer dit in die konteks van ʼn boeiende koor of herhalende vers geplaas word. Laasgenoemde is veral toepaslik in die intermediêre fase (graad 4 tot 6), terwyl die senior fase (graad 7 tot 9) en Verdere Onderwys en Opleiding (VOO) (graad 10 tot 12) elk ʼn verskuiwing na komplekse sintaktiese strukture, figuurlike taal en stilistiese middele vereis. In hierdie kontekste bied lirieke ook ryk tekstuele materiaal wat gebruik kan word om metafore, personifikasie en rymskemas te onderrig – en só lesaanbiedings meer interessant en konteksspesifiek maak.
Die verweefde voordele van musiekintegrasie
Buiten hierdie kognitiewe en linguistiese voordele, verseker musiekintegrasie ook sosiokulturele insluiting deur die ryke en vele linguistiese agtergronde van leerders in ag te neem.
Deur meertalige liedjies met verse in byvoorbeeld isiXhosa, Sesotho, Engels en Afrikaans te speel, kan huistaalsprekers van verskillende tale hul maats bystaan met die korrekte uitspraak van woorde en frases. Verder kan verskillende musiekgenres geïntegreer word, om ʼn leeromgewing te skep waar inheemse kennisstelsels en plaaslike kulture erken en bevestig word. Só ʼn benadering bevorder nie net wedersydse respek nie. Dit breek historiese vooroordele af en versterk die selfbeeld van leerders, wat nou aansluit by die doelwitte van die Departement van Basiese Onderwys se Kurrikulum- en Assesseringsbeleidsverklaring (KABV).
Boonop oorbrug musiek die sosio-ekonomiese kloof wat dikwels ʼn impak op opvoedkundige uitkomste in Suid-Afrika het. In skole met beperkte hulpbronne – waar handboeke, toegang tot biblioteke en digitale hulpmiddels skaars is – is die menslike stem en ritmiese handeklap gratis. Hier dien musiek as ʼn billike, universeel toeganklike onderrighulpbron, ongeag die skool se infrastruktuur of befondsingsvlakke.
Waar die omstandighede wel die aankoop en gebruik van musiekinstrumente toelaat, is die voordele vir taalonderrig te veel om te noem. Dr SJ Yende beklemtoon dat die gebruik van klaviere, kitare, viole en marimbas leerders se linguistiese vaardighede aansienlik kan verbeter. Die speel van elektroniese, perkussie- en snaarinstrumente kan ook aan liriekontleding gekoppel word, wat leerders aanmoedig om woordeskat, sinstrukture en uitdrukkings te internaliseer. Intussen weerspieël die tik van ritmes op tromme die linguistiese pas van lettergrepe, wat akkuraatheid (of meer spesifiek, korrekte uitspraak) en vlotheid kan bespoedig.
Hierbenewens stel Sadiqzade en Lauren Barack dit verder onomwonde dat sulke musikale leerervaringe die ouditiewe geheue stimuleer, en ʼn effektiewe middel vir woordeskat- en sinsontwikkeling bied. In die intermediêre fase kan herhalende volksliedjies, roep-en-antwoordgesange en aksiemelodieë gebruik word om fonologiese bewustheid, spelpatrone en letterlike begrip te ontwikkel.
In die senior en VOO, daarteenoor, kan kontemporêre musiek, volksliedjies en sosiaalbewuste lirieke aangewend word om figuurlike taal, subtekstuele betekenisse en komplekse sintaksis by leerders tuis te bring.

Dit blyk dat die verweefdheid van taalleer en musiek enige komplekse akademiese taak in ʼn intuïtiewe, betowerende en kreatiewe proses kan omskep. Daar is egter enkele logistieke en praktiese uitdagings waaroor opvoeders sal moet besin.
Ná aanleiding van my eie nagraadse studies en ervaring van musiekintegrasie in die taalklaskamer, kan die volgende uitdagings ʼn geïntegreerde benadering benadeel:
die keuse van geskikte inhoud.
Met voldoende beplanning, ʼn behoorlike begroting en ʼn titseltjie kreatiwiteit kan hierdie hindernisse egter doelgerig opgelos word.
Ten slotte is dit duidelik dat die integrasie van musiek in Suid-Afrikaanse taalleerruimtes ʼn hoogs doeltreffende onderrigstrategie bied. Dit omskep taalverwerwing van ʼn rigiede, meganiese oefening tot ʼn interaktiewe, kultureel bevestigende ervaring. Deur kognitiewe ontwikkeling aan te moedig, taalkundige angs te verminder en ryk materiaal vir kritiese ontleding te verskaf, strook musiek met die vereistes van die KABV-kurrikulum. Verder maak dit voorsiening vir uiteenlopende leerdergroepe en plaaslike kulture, wat die bou van inklusiewe onderrig- en leeromgewings ondersteun.
Namate Suid-Afrikaanse skole innoverende weë vir opvoeding soek, staan die strategiese gebruik van sang en ritme uit as ʼn kragtige medium vir die ontwikkeling van vlot, kritiese en kultureel ingeligte kommunikeerders.
Dalk is musiek straks die held wat taalonderwysers oraloor na uitsien.

Akademia-skenkingsfonds
Eerste Nasionale Bank
Rekeningnommer: 62857561445
Takkode: 210554
Verwysing: Jou selfoonnommer
Voeg die volgende klousule tot jou testament by. (Vervang self die bedrag.)
Ek bemaak ʼn kontantbedrag van R100 000.00 (Eenhonderd Duisend Rand) aan AKADEMIA MSW met registrasienommer: 2005/024616/08 geregistreer by die Departement van Hoër Onderwys en Opleiding as ʼn privaat hoëronderwysinstelling ingevolge die Wet op Hoër Onderwys, 1997 onder registrasienommer: 2011/HE08/005.
Laat jou besonderhede hieronder dan sal ‘n skenkingsfondsbestuurder met jou kontak maak.
083 254 0142
skenking@akademia.ac.za
Ek sien uit daarna om jou persoonlik te ontmoet en jou unieke bydrae en nalatenskap te bespreek.