*Die Paarl-kampus is voorlopig goedgekeur
Gepubliseer op: 23 September 2026
By Akademia is akademiese uitnemendheid méér as ʼn strewe na uitmuntende prestasie. Dit is ʼn volgehoue verbintenis tot diepgaande denke, betekenisvolle navorsing en die vorming van individue wat met kennis, oortuiging en diensbaarheid aan die toekoms gestalte gee. Gedagtig hieraan dien die titel van hoogleraar – die hoogste akademiese amp by die instelling – as ʼn hoeksteen van voortreflikheid en ʼn bevestiging van die bekleër se roepingsgedrewe strewe na die verdieping van die akademikus se vakgebied.
Op Woensdag 22 September 2026 het prof. Jacolien Barnard, akademikus verbonde aan die departement: Privaat- en Handelsreg in die Fakulteit Regsgeleerdheid, haar intreerede as hoogleraar by die instelling se Pretoria-kampus gelewer. Dié geleentheid was die vierde in ʼn reeks* intreeredes wat vir die jaar beplan is en het Barnard se besonderse akademiese bydrae en loopbaan gevier. Barnard se intreerede, was getiteld “Die reg in beweging: ʼn reis van klassieke oorspronge tot verbruikersbeskerming in die digitale era”.
Professor Danie Goosen, uitvoerende hoof: Akademie by Akademia, meen dat Barnard as ʼn Akademia-hoogleraar ʼn fakkeldraer vir die klassieke ideaal van akademiese vorming is. Hy verduidelik voorts dat die instelling, met die aanbieding van hoogleraarintreeredes, doelbewus aansluit by die eeueoue klassieke universitêre tradisie van die lectio inauguralis. Dié gebruik het sy oorsprong in die Middeleeue en getuig van die bekendstelling van ʼn hoogleraar se eie navorsingsfokus en die bekendmaking van nuwe denkhorisonne binne ʼn vakgebied. Volgens Goosen beliggaam dié tradisie ʼn openbare uitdrukking van die akademie se strewe na en diepe verbondenheid tot klassieke wetenskapsbeoefening.
Hy noem dat dit vir Akademia as hoëronderwysinstelling ʼn uitsonderlike voorreg is om die intreeredes van nuwe hoogleraars aan te bied. In die geval van Barnard spreek hierdie geleentheid nie slegs tot akademiese uitnemendheid nie, maar ook ʼn diepe en roepingsgedrewe toewyding tot die vorming van toekomstige regskenners en die passievolle uitbouing van die Afrikaanse regswese.
Die dinamiese aard van die reg
Vir Barnard verteenwoordig die reg meer as ʼn versameling reëls en handelinge. Dit is ʼn dinamiese en ewigdurende reis wat oor eeue heen strek en steeds vandag nuwe vrae en oorwegings na vore bring.
Barnard beskryf ʼn akademiese reis as ʼn verweefde ervaring waarin boeke, navorsing, kwalifikasies en titels by wyse van mentors, oop gesprekke, verwondering en uitdagings gestalte kry. Meer nog, dit is ʼn reis waarin die reg en die alledaagse lewe mekaar wedersyds aanvul. In die geval van Barnard se intreerede is hierdie verweefde aard aan die hand van die Romeinse reg, Romeins-Hollandse reg, die Suid-Afrikaanse gemenereg, die moderne verbruikersbeskermingsraamwerk en die nuwe uitdagings van die digitale era voorgehou.
Wanneer dit kom by haar professionele loopbaan meen Barnard dat die ware, die goeie en die skone as kompas dien. Hierdie klassieke waardes vorm volgens haar die standvastige grondslag vanwaar ʼn diepe begrip vir die reg ontsluit kan word. Dit herinner haar daaraan dat die reg nie bloot oor reëls en prosedures gaan nie, maar ook oor waarheid, deugde, orde en die wyse waarop mense toekomsgedrewe saamleef.
Vir Barnard behoort die reg daarom altyd daarop gerig te wees om die waarheid sigbaar te maak, die goeie te bevorder en orde en samehang te handhaaf. Die doel is uiteindelik nie eie gewin óf mag nie, maar diens aan die gemeenskap.
Van Romeinse kopers tot Suid-Afrikaanse verbruikers
Een van die interessantste dele van Barnard se intreerede lê opgesluit in hoe ver terug die wortels van die moderne verbruikersbeskerming strek.
Reeds in die Romeinse reg was daar beginsels wat kopers teen onder meer verborge gebreke beskerm het. Remedies soos die actio quanti minoris en actio redhibitoria het later deur die Romeins-Hollandse reg voortgeleef en uiteindelik ʼn plek in die Suid-Afrikaanse gemenereg gekry.
Soos die regsorde verder ontwikkel het, het die spanning tussen kontraktuele vryheid en die werklikheid van ongelyke bedingingsmag egter ál hoe duideliker geword. Die ontwikkeling van die Grondwet en later die Wet op Verbruikersbeskerming het ʼn nuwe hoofstuk vir die reg ingelui en die fokus het toenemend verskuif na waardes soos menswaardigheid, gelykheid en die beskerming van kwesbare verbruikers.
Dit is juis binne hierdie ontwikkelende regslandskap waar Barnard se eie navorsingsbelangstelling lê. Deur navorsing, programontwikkeling, akademiese samewerking en regsvergelykende werk fokus Barnard oor verskeie fasette van verbruikersbeskermingsreg. Dit sluit onder meer die verhouding tussen die Wet op Verbruikersbeskerming en die gemenereg, produkte-aanspreeklikheid, die afdwinging van verbruikersregte en die beskerming van kwesbare verbruikers in.
Een van die temas wat sterk na vore tree, is die belang van gewone en verstaanbare taal. Volgens Barnard beteken regsbeskerming min as die persoon wat beskerm moet word, nie verstaan wat in ʼn kontrak, kennisgewing of kommunikasie staan nie. Haar navorsing plaas daarom nie nét die regsraamwerk nie, maar óók die ervaring van die gewone verbruiker binne die oop gesprek.
Die digitale era plaas nuwe en ongekende uitdagings op die horison, en Barnard is opgewonde om te sien hoe hierdie faktore verder ontwikkel. Kunsmatige intelligensie (KI), digitale platforms, persoonlike data en veranderende verbruikersgedrag is van die oorwegings waarop die reg nog besig is om antwoorde voor te vind.
Die moontlikheid van algoritmiese diskriminasie, misleidende bemarkingspraktyke en die misbruik van persoonlike inligting verteenwoordig ʼn paar van dié uitdagings en gedagtig hieraan beklemtoon Barnard die behoefte om nou reeds aandag aan hierdie brandpunte – soos van toepassing op digitale verbruikersbeskerming – te skenk.
Dankbaar vir ondersteuning en vorming
Barnard het tydens haar intreerede haar dank uitgespreek teenoor haar hemelse Vader en erkenning gegee aan die mense en gemeenskap wat nie nét deel van haar akademiese reis is nie, maar wat óók tot haar vorming bydra.
Sy sluit af deur te sê: “Mag regsgeleerdes en verbruikers nooit vergeet om die waarheid sigbaar te maak nie, die goeie te beskerm en só ʼn regsraamwerk te bou wat in die digitale era werklik skoon en konsekwent is. Slegs op hierdie wyse kan die reg nie net oorleef nie, maar wysheid, balans en volhoubare geregtigheid voortbring”.
*Lees gerus die artikels oor die hoogleraarsintreeredes van dr. Rachel Maritz, dr. Melanie Roestoff en dr. Willem Gravett.


Akademia-skenkingsfonds
Eerste Nasionale Bank
Rekeningnommer: 62857561445
Takkode: 210554
Verwysing: Jou selfoonnommer
Voeg die volgende klousule tot jou testament by. (Vervang self die bedrag.)
Ek bemaak ʼn kontantbedrag van R100 000.00 (Eenhonderd Duisend Rand) aan AKADEMIA MSW met registrasienommer: 2005/024616/08 geregistreer by die Departement van Hoër Onderwys en Opleiding as ʼn privaat hoëronderwysinstelling ingevolge die Wet op Hoër Onderwys, 1997 onder registrasienommer: 2011/HE08/005.
Laat jou besonderhede hieronder dan sal ‘n skenkingsfondsbestuurder met jou kontak maak.
083 254 0142
skenking@akademia.ac.za
Ek sien uit daarna om jou persoonlik te ontmoet en jou unieke bydrae en nalatenskap te bespreek.