*Die Paarl-kampus is voorlopig goedgekeur

Hoogleraarsintreerede getuig van die passievolle uitbouing van die Afrikaanse regswese

Gepubliseer op:  13 Mei 2026

By Akademia is uitnemendheid nie ʼn eindpunt nie, maar eerder ʼn voortdurende en passievolle roeping om te vorm, diensbaar te lei en doelgerig te bou aan ʼn betekenisvolle en vrye toekoms. Hierdie klassieke strewe kry by Akademia gestalte deur die toekenning van die titel hoogleraar – die hoogste akademiese amp by dié instelling.

Op Dinsdag 12 Mei 2026 het dr. Melanie Roestoff, departementshoof: Privaat- en Handelsreg in die Fakulteit Regsgeleerdheid, haar intreerede as hoogleraar by Akademia se Pretoria-kampus gelewer. Tydens hierdie prestigegeleentheid, die tweede in ʼn reeks intreeredes wat vir die jaar beplan word, is Roestoff erken vir haar uitnemende akademiese loopbaan. Laasgenoemde getuig van diepgaande dissiplinêre kundigheid, akademiese leierskap en ʼn volgehoue verbintenis tot onderrig en navorsing.

Ná afloop van haar intreerede, getiteld, Jan Alleman se kronkelpad na skuldverligting: lesse uit die verlede en voorstelle vir die pad vorentoe, is ʼn spesiale oorkonde aan Roestoff oorhandig. Hierdie oorkonde dien as formele erkenning van haar amp as hoogleraar. By wyse van hierdie oorhandiging het die instelling opnuut sy waardering vir Roestoff se omvangryke navorsingsbydraes, deelname aan nasionale en internasionale regsgesprekke en -projekte asook haar mede-outeurskap van verskeie handboeke bevestig.

Roestoff het by die geleentheid gesê dat sy haar intreerede begin én eindig met ʼn gevoel van diepe dankbaarheid. Sy het die geleentheid voorts beskryf as ʼn baie spesiale oomblik in haar akademiese loopbaan. “Ek is oneindig dankbaar vir al die genade wat ek van Bo ontvang het, maar ook vir Akademia, waar ek sedert April 2021, as’t ware ʼn gevoel van tuiskoms beleef, ook in sover dit my akademiese loopbaan betref,” sê Roestoff.

In sy toespraak het prof. Danie Goosen, uitvoerende hoof: Akademie by Akademia, gesê dat Roestoff as ʼn Akademia-hoogleraar ʼn fakkeldraer is vir die klassieke ideaal van akademiese vorming. Hy het voorts verduidelik dat Akademia, met die aanbieding van hoogleraarintreeredes, doelbewus aansluit by die eeueoue klassieke universitêre tradisie van die lectio inauguralis. Dié gebruik het sy oorsprong in die Middeleeue en getuig van die bekendstelling van ʼn hoogleraar se eie navorsingsfokus en die bekendmaking van nuwe denkhorisonne binne ʼn vakgebied. Goosen vervat dié tradisie as ʼn openbare uitdrukking van die akademie se strewe na en diepe verbondenheid tot die ware, die goeie en die skone – ook wat wetenskapsbeoefening betref.

Hy sluit af deur te noem dat dit vir Akademia as hoëronderwysinstelling ʼn besondere voorreg is om die intreeredes van nuwe hoogleraars aan te bied. In die geval van dr. Roestoff spreek hierdie geleentheid nie slegs tot akademiese uitnemendheid nie, maar ook ʼn diepe en roepingsgedrewe toewyding tot die vorming van toekomstige regskenners en die passievolle uitbouing van die Afrikaanse regswese.

Dr. Melanie Roestoff het op 12 Mei 2026 haar intreerede as hoogleraar gelewer. Die amp van hoogleraar is die hoogste eerbetoon wat die instelling aan ʼn akademikus betoon.
Prof. Danie Goosen, uitvoerende hoof: Akademie by Akademia, het ná afloop van dr. Melanie Roestoff se intreerede as hoogleraar, ʼn oorkonde ter erkenning van akademiese uitnemendheid, aan haar oorhandig.

Direkte inbetaling: Bankbesonderhede

Akademia-skenkingsfonds

Eerste Nasionale Bank

Rekeningnommer: 62857561445

Takkode: 210554

Verwysing: Jou selfoonnommer

Testamentêre bemaking

Voeg die volgende klousule tot jou testament by. (Vervang self die bedrag.)

Ek bemaak ʼn kontantbedrag van R100 000.00 (Eenhonderd Duisend Rand) aan AKADEMIA MSW met registrasienommer: 2005/024616/08 geregistreer by die Departement van Hoër Onderwys en Opleiding as ʼn privaat hoëronderwysinstelling ingevolge die Wet op Hoër Onderwys, 1997 onder registrasienommer: 2011/HE08/005.

Laat jou besonderhede hieronder dan sal ‘n skenkingsfondsbestuurder met jou kontak maak. 


Zander Botha: Skenkingsfondsbestuurder

083 254 0142
skenking@akademia.ac.za

Ek sien uit daarna om jou persoonlik te ontmoet en jou unieke bydrae en nalatenskap te bespreek.