*Die Paarl-kampus is voorlopig goedgekeur
Gepubliseer op: 28 September 2026
Geskryf deur dr. André Gouws, senior dosent: Tale en Kultuurwetenskappe aan Akademia
Onlangse mediaverslaggewing oor die toekoms van joernalistiek en die nuusmedia skets dalk ʼn sombere prentjie vir Suid-Afrika, maar alles is nie verlore nie – en daar is steeds hoop.
Uitdagings – plaaslik asook internasionaal
Groot mediahuise in die land het in Julie en Augustus vanjaar tientalle afleggings aangekondig. Byna die helfte van die televisienuusdiens eNCA se personeel is afgelê terwyl Media24 grootskaalse herstrukturering aangekondig het. Minstens 126 poste, maar moontlik selfs meer, is onder andere in die sport- en leefstylredaksies geraak. Ander mediahuise het ook joernaliste afgelê.
Nóg slegte nuus vir tradisionele media is dat toenemend meer mense hul nuus in gesprekke met kunsmatige intelligensie (KI) se kletsbotte kry, pleks daarvan om volledige nuusstories op nuusmediaplatforms te lees. Reuters se digitale nuusverslag vir 2026 wys daarop dat 18% van nuusverbruikers in Suid-Afrika minstens weekliks KI vir nuusdoeleindes gebruik – ʼn statistiek wat in pas met die wêreldwye tendens is.
ʼn Veranderende nuusekosisteem
Daar is verskeie redes waarom die tradisionele media sukkel. Hoewel die mediabedryf al ander, soortgelyke krisisse oorkom het, sien die nuusekosisteem nou anders daar uit.
Die koms van radio en televisie is dekades gelede reeds gesien as die doodsklok vir gedrukte media – ʼn realiteit wat nooit gerealiseer het nie. Joernalistiek is steeds gedoen deur tradisionele mediahuise. Gedrukte media het aangepas, koerante het meer visueel geword en steeds hul lesers – en hoë sirkulasiesyfers – behou. Radio en televisie het óók sterk gegroei danksy die feit dat daar geen eksterne mededinging was nie.
Die digitale omgewing is egter anders. Die verlies aan advertensie-inkomste was vir die gedrukte en aanlyn nuusmediabedryf ʼn groot slag waarvoor daar geen oplossing was (of steeds is) nie. Dit is veel goedkoper om aanlyn te adverteer as in koerante en teikenmarkte kan baie meer doelgerig bereik word. Veral die gedrukte nuusmedia het hul grootste bron van inkomste verloor en daar is geen vooruitsig dat hulle dit ooit weer ten volle sal kan herwin nie. Pogings om na aanlyn platforms te skuif het gevolglik nooit die verlies aan gedrukte inkomste teengewerk nie.
Die verlies aan inkomste het noodwendig gelei tot die verlies aan poste en uiteindelik ʼn afwatering in beriggewing. Die groot mediahuise het, as ʼn gevolg hiervan, lankal nie meer korrespondente op kleiner dorpe nie. Groot dele van die land (en die wêreld) is nou nuuswoestyne, hoewel gemeenskapsmedia steeds ʼn belangrike rol in kleiner dorpe en stede speel. En selfs die gemeenskapsmedia gaan gebuk onder finansiële druk.
Die waarde van nuus
Die tradisionele media het gevolglik al meer verbruikers verloor, omdat mense blóót nie meer nuus kry wat vir hulle van waarde is nie. Verder gaan die tradisionele media boonop ook gebuk onder ʼn verlies aan vertroue en belangstelling in die nuus omdat lesers wêreldwyd nie meer die nuus vertrou nie.
Reuters se verslag oor digitale nuus toon hierdie skerp afname in vertroue duidelik, selfs in Suid-Afrika, waar die nuusmedia tot onlangs nog sterk vertroue ingeboesem het. Die verslag toon dat slegs 50% van plaaslike nuusgebruikers (wat aan die studie deelgeneem het) die nuus as geloofwaardig beskou. Dit is vyf persentasiepunte laer as verlede jaar en elf persentasiepunte laer as in 2022.
Selfs nog méér skokkend is dat altesaam 42% van respondente in die Reuters-studie nuus doelbewus en aktief vermy.
Uit bogenoemde uitdagings en realiteite is dit duidelik dat die nuusmedia in Suid-Afrika ʼn eksistensiële krisis beleef. Wat is dus die toekoms van joernalistiek in die land?
Die toekoms berus op nuusinhoudskeppers
Volgens Chris Roper van Code for Africa is die toekoms rééds hier: En dit word uitgebrei en beliggaam deur persoonlikheidsgedrewe individue wat nuus op verskillende platforms versprei, oftewel nuusinhoudskeppers op sosiale media. In Suid-Afrika kry 74% van alle nuusverbruikers hul nuus op sosiale media.
Volgens Roper is die groei in nuusinhoudskeppers ʼn rede tot optimisme en hoop. Reuters se digitalenuusverslag ondersteun dié gedagte en meld toenemende vertroue in nuusinhoudskeppers. Die nuusleemte word dus al meer gevul deur diesulke inhoudskeppers.
Inhoudskeppers is individue wat bepaalde gehore teiken en nuus vertel op maniere wat aanklank vind by hierdie gehore. Enkele voorbeelde is The Debrief Network van Qaanitah Hunter, ʼn voormalige News24-joernalis; Nuuspod van Izak du Plessis, op YouTube; Good Things Guy van Brent Lindeque en Cool Story Bru! van die 27-jarige Kapenaar, Austin Macaskill. Macaskill, ʼn eertydse onderwyser, het 177 000 intekenare op YouTube (vergelyk dit byvoorbeeld met Netwerk24 se 48 000 intekenare op YouTube).
Die rol van nuusinhoudskeppers in die mediabedryf is nie nuut nie, maar dit is tot onlangs nog bloot geïgnoreer, óf hulle is voor die voet afgemaak as mense wat fopnuus versprei.
Joernalistieke norme bly deurslaggewend
ʼn Nuwe verslag deur die Amerikaanse Sentrum vir Nuus, Tegnologie en Innovasie (CNTI) oor die rol van nuusinhoudskeppers – spesifiek in Suid-Afrika – wys egter die teendeel. Dié verslag is een van die eerste diepteverslae wat oor die rol van nuusinhoudskeppers in die mediabedryf opgestel is. Laasgenoemde is gebaseer op die deelname van 43 nuusinhoudskeppers aan meningspeilings asook onderhoude met agttien inhoudskeppers met ʼn joernalistieke agtergrond.
Die meeste van hierdie respondente meen dat:
daar moeite gedoen moet word om gehalte en vertroue te verseker, deur byvoorbeeld gereelde interaksie met hul gehore, die nagaan van feite en die gebruik van betroubare bronne.
Die CNTI-verslag dui voorts aan dat hierdie inhoudskeppers ʼn (nuus)stem aan gewone mense wil gee, en dat hulle daarom hul stories uit bepaalde Suid-Afrikaanse kontekste wil vertel. Sommige het aangedui dat hulle besef fopnuus en vals inligting kan ʼn groot bedreiging wees in die genoemde plaaslike kontekste en daarom doen hulle juis moeite om dit teen te werk deur etiese beriggewing.
ʼn Eiesoortige samewerkingsomgewing
Dit is daarom nou die tyd om die belangrike en, durf mens sê, nodige rol van nuusinhoudskeppers te erken.
Daar is baie mense in die land wat van géén ander nuusbron as dié inhoudskeppers gebruik maak nie, en tóg ingelig bly. Hierdie nuusgebruikers – veral jong mense en studente – plaas hul vertroue in hierdie inhoudskeppers, eerder as die tradisionele media.
Hierdie nuwe nuusekosisteem waarbinne die tradisionele nuusmedia en nuusinhoudskepper gesamentlik bydra tot die groter nuusprentjie, is deel van die antwoord op die vraag oor die toekoms van joernalistiek.
Die tradisionele nuusmedia kan baie leer by die inhoudskeppers. Hulle sien immers hoe suksesvol daar te werk gegaan word. Luidens die Reuters-verslag het 76% van nuusuitgewers wêreldwyd aangedui dat hul antwoord op die sukses van nuusinhoudskeppers sal wees om juis self méér soos nuusinhoudskeppers te wees, deur meer persoonlikheidsgedrewe nuus aan te bied. En met goeie rede:
Nuusinhoudskappers se mediaformaat vind deurgaans aanklank (kort video’s van 60 sekondes of selfs korter, nuusflitse, en langer video’s met ʼn dieptenuusfokus, nuusverduidelikings en ondersoeke).
Mediahuise en nuuskantore sal wel voortbestaan en steeds ʼn belangrike rol vervul, maar tradisionele mediahuise en nuusinhoudskeppers leef nou saam in digitale ruimtes. Die nuusomgewing is nie meer onder beheer van die tradisionele en groot gevestigde mediahuise alleen nie. Dit is nou ʼn demokratiese ruimte waarbinne almal kan deelneem as nuusbronne.
Ten spyte van werklike probleme soos fopnuus, is daar genoeg betroubare en opregte nuusinhoudskeppers wat rede tot optimisme oor die toekoms van joernalistiek gee. Die toename in nuusinhoudskeppers beteken in effek dat die nuusomgewing nou selfs groter as voorheen is, al krimp die impak en reikwydte van tradisionele media. Joernalistiek is nou, meer as ooit, omvattend, dek meer stories van meer gemeenskappe en bereik waarskynlik selfs meer mense as ooit vantevore.
Die rol van hoëronderwysinstellings soos Akademia in hierdie nuwe nuusekosisteem is uiters belangrik. Studente wat graag self nuusinhoudskeppers wil wees, moet wéét dat hulle dié rol met verantwoordelikheid moet kan vervul. Akademia se BA (Kommunikasie en Joernalistiek)- asook die BAHons (Media en Kommunikasie)-programme vorm jong mense om juis ingeligte burgers te wees wat begrip het vir die geheel, en nie nét hul onderskeie spesialisvelde nie. Hulle sal hulself met gemak in die digitale omgewing kan laat geld. Hierdie programme berei ook studente voor om krities om te gaan met digitale media, omdat mediageletterdheid ʼn kernvaardigheid in die nuwe nuusekosisteem is.
Studieaansoeke vir die 2027- akademiese jaar word ingewag. Besoek vandag nog die Akademia-webblad vir meer inligting.

Akademia-skenkingsfonds
Eerste Nasionale Bank
Rekeningnommer: 62857561445
Takkode: 210554
Verwysing: Jou selfoonnommer
Voeg die volgende klousule tot jou testament by. (Vervang self die bedrag.)
Ek bemaak ʼn kontantbedrag van R100 000.00 (Eenhonderd Duisend Rand) aan AKADEMIA MSW met registrasienommer: 2005/024616/08 geregistreer by die Departement van Hoër Onderwys en Opleiding as ʼn privaat hoëronderwysinstelling ingevolge die Wet op Hoër Onderwys, 1997 onder registrasienommer: 2011/HE08/005.
Laat jou besonderhede hieronder dan sal ‘n skenkingsfondsbestuurder met jou kontak maak.
083 254 0142
skenking@akademia.ac.za
Ek sien uit daarna om jou persoonlik te ontmoet en jou unieke bydrae en nalatenskap te bespreek.