*Die Paarl-kampus is voorlopig goedgekeur
Gepubliseer op: 28 September 2026
Toe Akademia-alumnus, Ruda Schoeman, in haar laaste skooljare oor haar toekoms moes begin besluit, het sy glad nie geweet waarheen sy op pad was nie. Trouens, die keuse van ʼn studierigting het haar só oorweldig dat sy male sonder tal voor haar ma gestaan en huil het omdat sy eenvoudig nie geweet het waarvoor óf waar om aansoek te doen nie.
Vandag, op die vooraand van haar 25ste verjaarsdag, is dié LLB-alumnus, ʼn omroeper by Kosmos 94.1 in Windhoek, waar sy haarself agter die mikrofoon uitleef. Terselfdertyd werk sy steeds verder aan haar loopbaan in die regte en droom sy reeds van verdere studie in die sielkundeveld. Die één baie kenmerkende eienskap wat egter Schoeman se onkonvensionele studiereis en loopbaanpad inkleur is beslis die vyf woorde waarmee sy haarself beskryf: “Ek gee nie op nie!”
Wanneer planne verander
Schoeman is in Mokopane (voorheen Potgietersrus) gebore en het haar skoolloopbaan aanvanklik in Suid-Afrika begin, voordat haar gesin in 2017 na Namibië verhuis het.
Ná haar matriekjaar aan Elnatan Privaat Hoërskool in Stampriet het sy in 2020 vir ʼn jaar Veekundige Wetenskappe aan die Universiteit Stellenbosch (US) studeer, met die voorneme om haar studie in Veeartsenykunde aan die Universiteit van Namibië (UN) voort te sit. Maar soos dit dikwels gebeur, het die lewe ander draaie met Schoeman geloop.
Sy het sommer vroeg reeds besef dat dié loopbaanvooruitsig haar nie opgewonde maak nie, en sy moes wéér voor ʼn groot besluit te staan kom – en hierdie keer het ʼn onwaarskynlike bron van inspirasie vir haar die deurslag gegee. ʼn Misdaadfilm tydens ʼn aandjie uit saam met haar ma het die saadjie geplant vir ʼn loopbaan as prokureur. Dié gesprek het uiteindelik daartoe gelei dat Schoeman haar opsies vir ʼn LLB-program ondersoek het, en Akademia se verbondenheid tot gehaltemoedertaalonderrig asook die buigsaamheid van die nauurse afstandsmodel het die knoop deurgehak.
Schoeman het in 2022 met haar LLB-studie vanuit Namibië by wyse van die e-leeropsie begin, en sy het die program in 2025 suksesvol voltooi.
Die waarde daarvan om te werk en te studeer
As ʼn werkende student het Schoeman ten tye van haar studiereis voltyds as menslikehulpbronbestuurder by ʼn gastehuis buite Windhoek gewerk.
Sy beskryf die kombinasie van werk en studeer as uitdagend, maar is vol lof vir die wyse waarop die e-leeropsie dit vir haar moontlik gemaak het om haar besige skedule te kon bestuur. Wanneer werksverpligtinge dit byvoorbeeld dit vir haar moeilik gemaak het om aanlyn klasse by te woon, kon sy die opnames later op die Spens (Akademia se aanlynleerondersteuningsplatform) kyk. Op dié manier kon sy haar studie, lang werksure, laataande en naweke doelgerig balanseer.
“Die sleutel is om aan te hou, selfs wanneer die pad moeilik raak. Jou toewyding en deursettingsvermoë mag vandag soos ʼn opdraande stryd voel, maar dit is besig om môre vir jou moontlik te maak,” sê Schoeman. Sy voeg by dat dit ook nie saak maak hoe lank dit jou neem om jou studiedroom te verwesenlik nie, solank jy net doelgerig daaraan werk.

Van die regsbank na die uitsaaiateljee
As omroeper is Schoeman besiger as ooit.
Sy tree onder andere op as medeprogramaanbieder, nuusleser én veldverslaggewer. Hiermee saam besig sy haar ook met werk agter die skerms tydens buite-uitsendings. Laasgenoemde sluit in tegniese aspekte soos die klankmengbank, musiekspeellyste, advertensiewerk en die bestuur van programskedules.
Haar belangstelling in reg en geregtigheid kry op ʼn besonderse manier gestalte wanneer sy elke Vrydagaand agter die mikrofoon inskuif vir COPPS 94.1, ʼn Namibiese teenmisdaad-realiteitsprogram. Vanuit die ateljee rapporteer Schoeman oor die doen en late van ʼn ondersoekspan wat onder polisie begeleiding na verskeie misdaadtonele gestuur word.
Schoeman het onlangs ook ʼn jaarlange kursus deur die Universiteit van Namibië se Justice Training Centre voltooi en werk daarna om in die nabye toekoms as prokureur aan die hoërhof van Namibië toegelaat te word. Sy hoop ook om volgende jaar met ʼn honneursgraad in Sielkunde te begin.
ʼn Toekoms met nog baie hoofstukke
Schoeman meen voorts dat haar Afrikaanse studie-ervaring ʼn belangrike rol gespeel het in haar besluit om haarself by ʼn Afrikaanse radiostasie te vestig.
Met hierdie gewaarwording in gedagte, is Schoeman opgewonde oor die professionele moontlikhede wat Afrikaans nog in die toekoms vir haar gaan inhou. “Terwyl die wêreld verengels is dit vir my ʼn voorreg, en ʼn roeping, om elke dag trots Afrikaans tegemoet te loop en só ons moedertaal te help bou en koester,” sê Schoeman.
Waar sien sy haarself oor tien jaar? Moontlik in die buiteland, met honneurs- en meestersgrade in Sielkunde en ʼn loopbaan wat haar belangstelling in menslike gedrag verder ontgin.
Dit is dalk juis die mooiste deel van Schoeman se verhaal: Al het sy nie altyd geweet waarheen sy op pad is nie, het sy deurgedruk en nooit moed verloor nie. En miskien is dit die belangrikste les wat haar reis vir ander studente en alumni inhou: Jy hoef nie altyd die hele pad te kan sien om die volgende tree te gee nie.

Akademia-skenkingsfonds
Eerste Nasionale Bank
Rekeningnommer: 62857561445
Takkode: 210554
Verwysing: Jou selfoonnommer
Voeg die volgende klousule tot jou testament by. (Vervang self die bedrag.)
Ek bemaak ʼn kontantbedrag van R100 000.00 (Eenhonderd Duisend Rand) aan AKADEMIA MSW met registrasienommer: 2005/024616/08 geregistreer by die Departement van Hoër Onderwys en Opleiding as ʼn privaat hoëronderwysinstelling ingevolge die Wet op Hoër Onderwys, 1997 onder registrasienommer: 2011/HE08/005.
Laat jou besonderhede hieronder dan sal ‘n skenkingsfondsbestuurder met jou kontak maak.
083 254 0142
skenking@akademia.ac.za
Ek sien uit daarna om jou persoonlik te ontmoet en jou unieke bydrae en nalatenskap te bespreek.