*Die Paarl-kampus is voorlopig goedgekeur
Gepubliseer op: 2 Oktober 2026
Op die vooraand (2 Oktober 2026) van die eerste opvoering van Akademia se studentemusiekblyspel, Daai kleindorpiegevoel, sorg die bekendstelling van die musiekvideo van “Die verlang-liedjie” vir groot opgewondenheid. Hierdie opgewondenheid is nie beperk tot die instelling self nie, maar die ganse Afrikaanse musiekbedryf.
Dié liefdesliedjie kom uit die pen van Johan Vorster, wat inspirasie geput het uit Jan de Wet se bekende treffer, “Ek verlang na jou”, wat deur Sonja Heroldt bekend gemaak is. ʼn Hoogtepunt van die nuwe weergawe is die vertolking deur Akademia-studente, Keynan Fox en Abigail de Villiers, wat onderskeidelik die hoofrolle van Pieter en Katrientjie in die musiekblyspel vertolk. Hul solostemme word in die musiekvideo met dié van die res van die musiekblyspel se ensemble verweef.
Verlange as ʼn universele emosie
Volgens Vorster is min emosies so universeel soos verlange – ʼn gevoel wat mense oor generasies en omstandighede heen verstaan. Dit is juis dié emosie wat hy met “Die Verlang-liedjie” wou vasvang.
Hy beskryf die wisselwerking tussen die twee solostemme en die res van die ensemble as besonder dinamies. Die kontras tussen die individuele stemme en die groter groep versterk volgens hom die gevoel van verlange wat deur die liedjie loop. “Vir Fox en De Villiers bied die lied ʼn geleentheid om hul stemme as jong opkomende kunstenaars te laat hoor, en dit is juis hul vertolking wat sentraal staan tot die lied se groter emosionele aanslag,” sê Vorster.
ʼn Eens-in-ʼn-leeftyd-ervaring
Volgens Miné Noëth, koördineerder: Kultuur by Akademia, was die opneem van die musiekvideo vir die studente nie net ʼn grootse belewenis nie, maar ʼn eens-in-ʼn-leeftyd-geleentheid.
Dit het ook aan studente ʼn eiesoortige kykie agter die skerms gegee van wat dit behels om in die vermaaklikheidsbedryf werksaam te wees. Sy vertel dat van die beeldmateriaal in die ateljee van Juan Floors Oosthuizen opgeneem is, terwyl opnames ook tydens ʼn busrit na die Montecasino Teatro asook by dié teater self verfilm is. Hierdie benadering verleen ʼn natuurlike, maar egte gevoel aan die musiekvideo.
Akademia laat die musiekblyspeltradisie herleef
Met Daai kleindorpiegevoel voeg Akademia nie net ʼn nuwe dimensie tot sy studentelewe toe nie, maar bring die instelling ook die tradisie van die Afrikaanse musiekblyspel na ʼn nuwe generasie studente.
Die produksie is deur Inhoud Huis Musiek ontwikkel, onder leiding van Vorster en Jacomien de Wet, wat ook verantwoordelik was vir die konsep en storielyn. Jannes Erasmus het die teks en regie hanteer, met musiekverwerkings deur Arnold de Wet en Vorster. Die musiekregie is ook deur Vorster behartig.
Die musiekblyspel spog met ʼn sterk rolverdeling en weerspieël die ryke veelheid van talent wat Fonties (studente wat aan Akademia studeer) van die Pretoria-kampus aan die dag lê.
Wat die musiekblyspel sé besonders maak, is die feit dat die hele produksie deur studente gedra word – van die rolverdeling tot die tegniese aspekte. Altesaam 85 studente is betrokke, waarvan 35 deel is van die toneelgemeenskap (met agt hoofkarakters) en 50 studente wat tegniese rolle vervul. Hierdie rolle wissel van verhoogbestuur, beligting en klank tot kostuums, grimeerwerk, dekor, bemarking en projekbestuur.
ʼn Storie wat diep tref
Daai kleindorpiegevoel vertel die verhaal van Pieter, wie se motor hom buite die klein dorpie Stofpan in die steek laat. Wat aanvanklik na ʼn noodgedwonge verblyf op Tannie Pompie se plaas lyk, ontwikkel oor drie weke in ʼn reis van selfontdekking, liefde en gemeenskap.
Tussen eksentrieke dorpenaars, plaasuitdagings, ou liefdes wat weer opvlam en selfs ʼn bok met ʼn persoonlike vendetta, begin Pieter besef dat die belangrikste dinge in die lewe nie noodwendig gekoop kan word nie.
Maar Stofpan is allesbehalwe stil. Terwyl ʼn slinkse burgemeester sy oog op meer as net Tannie Pompie se plaas het, moet Pieter uiteindelik besluit of hy na die lewe wat hy ken, wil terugkeer, of die nuwe moontlikhede wat onverwags oor sy pad gekom het, wil aangryp.
Daai kleindorpiegevoel word van 3 tot 10 Oktober 2026 by die Centurion Teater opgevoer, met middag- en aandvertonings. Kaartjies is by die Centurion Teater en via Quicket beskikbaar vanaf R220 per persoon. Besoek gerus die Akademia-webblad vir meer inligting.

Akademia-skenkingsfonds
Eerste Nasionale Bank
Rekeningnommer: 62857561445
Takkode: 210554
Verwysing: Jou selfoonnommer
Voeg die volgende klousule tot jou testament by. (Vervang self die bedrag.)
Ek bemaak ʼn kontantbedrag van R100 000.00 (Eenhonderd Duisend Rand) aan AKADEMIA MSW met registrasienommer: 2005/024616/08 geregistreer by die Departement van Hoër Onderwys en Opleiding as ʼn privaat hoëronderwysinstelling ingevolge die Wet op Hoër Onderwys, 1997 onder registrasienommer: 2011/HE08/005.
Laat jou besonderhede hieronder dan sal ‘n skenkingsfondsbestuurder met jou kontak maak.
083 254 0142
skenking@akademia.ac.za
Ek sien uit daarna om jou persoonlik te ontmoet en jou unieke bydrae en nalatenskap te bespreek.