*Die Paarl-kampus is voorlopig goedgekeur
Gepubliseer op: 2 Oktober 2026
Geskryf deur dr. Jaco du Toit, waarnemende dekaan: Fakulteit Natuurwetenskappe aan Akademia
Die konsep van gemeenskap lê diep in die hart en siel van Akademia opgesluit. Dit is immers ten nouste verweef met die instelling se bestaansrede: om ’n hoëronderwysinstelling vanuit en vir die Afrikaanse taal- en kultuurgemeenskappe te wees. Gedagtig aan Akademia se jaartema, Boustene vir ons toekoms, is dit gepas om ook stil te staan by die waarde van gemeenskapsboustene – ’n begrip wat twee kragtige idees byeenbring: gemeenskap en bou.
Gemeenskappe word nie bloot gevorm nie; dit word oor tyd, deur mense en deur verbondenheid, gebou en versterk. Dit is mense wat hul tyd, talente, stories en betrokkenheid bydra om iets groter as hulself te help vorm. Hiermee saam verteenwoordig elke mens ’n unieke bousteen wat saam gestalte aan ’n stewige fondament gee waarop gemeenskappe kan groei, floreer en voortbestaan.
Interessant genoeg is gemeenskapsboustene nie ʼn werkwoord nie, maar ʼn selfstandige naamwoord. Dit beskryf nie bloot ʼn handeling nie – dit benoem mense. Die woord stel daarom ʼn eenvoudige, maar belangrike vraag: Is ek self ʼn gemeenskapsbousteen?
Maar na watter gemeenskap verwys ons? Ons denke word natuurlik teruggelei na die Afrikaanse taal- en kultuurgemeenskappe. Tog kan ons steeds dieper delf. Aristoteles beskryf die gesin as die basiese bousteen van die samelewing. Verskeie gesinne vorm saam ʼn dorp, en dorpe vorm groter gemeenskappe. Gemeenskappe word dus nie nét deur taal of kultuur gevorm nie, maar óók deur plek en menslike verbondenheid.
ʼn Soortgelyke gedagte kom na vore in die Afrika-filosofie van ubuntu, wat dikwels saamgevat word as: “Ek is omdat ons is”. Die woord gemeenskapsboustene is doelbewus in die meervoud geskryf. Dit herinner ons daaraan dat gemeenskappe nie deur individue alleen gebou word nie, maar deur mense wat sáám verantwoordelikheid aanvaar. ʼn Enkele baksteen bly net ʼn baksteen, maar baie bakstene saam vorm ʼn huis.
In die moderne lewe stel sosiale netwerke dit onomwonde dat ons deel van gemeenskappe kan wees sonder om werklik betrokke te raak. Tog waarsku Dietrich Bonhoeffer in Life Together dat ware gemeenskap nie deur virtuele netwerke vervang kan word nie. Gemeenskap ontstaan waar mense saamleef, saamwerk, saambid, mekaar dien en mekaar se laste dra. Dit vereis beide teenwoordigheid asook betrokkenheid.
As ʼn personeellid van Akademia daag die tema, Gemeenskapsboustene, my byvoorbeeld uit om my eie rol eerlik te oorweeg. Bid ek saam met my gesin? Dra ek by tot my buurt? Lei ek my studente toekomsgerig op hul vormingsreis? Help ek bou aan my moedertaal en kultuur?
Die uitdaging is eenvoudig: Identifiseer die gemeenskappe waarvan jy deel vorm en vind die mense saam met wie jy doelgerig kan bou. Gemeenskappe ontstaan nie vanself nie. Hulle word steen vir steen gebou deur mense wat bereid is om hul moue op te rol en betrokke te raak.

Akademia-skenkingsfonds
Eerste Nasionale Bank
Rekeningnommer: 62857561445
Takkode: 210554
Verwysing: Jou selfoonnommer
Voeg die volgende klousule tot jou testament by. (Vervang self die bedrag.)
Ek bemaak ʼn kontantbedrag van R100 000.00 (Eenhonderd Duisend Rand) aan AKADEMIA MSW met registrasienommer: 2005/024616/08 geregistreer by die Departement van Hoër Onderwys en Opleiding as ʼn privaat hoëronderwysinstelling ingevolge die Wet op Hoër Onderwys, 1997 onder registrasienommer: 2011/HE08/005.
Laat jou besonderhede hieronder dan sal ‘n skenkingsfondsbestuurder met jou kontak maak.
083 254 0142
skenking@akademia.ac.za
Ek sien uit daarna om jou persoonlik te ontmoet en jou unieke bydrae en nalatenskap te bespreek.