*Die Paarl-kampus is voorlopig goedgekeur

Voortgesette leer: ʼn hoeksteen vir loopbaansukses

Gepubliseer op:  5 Oktober 2026

Elke persoon se professionele reis lyk anders. Vir sommige verteenwoordig verdere ontwikkeling dalk ʼn eerste tree in ʼn gekose beroepsveld, terwyl reeds gevestigde beroepslui nuwe uitdagings wil aanpak, hul kennis wil verdiep óf op hoogte wil bly van verwikkelinge binne hul werksomgewing.

In ʼn snelveranderende werkswêreld waar tegnologie en kennis voortdurend ontwikkel, is voortgesette leer ʼn belangrike bousteen vir professionele ontwikkeling. Om relevant te bly, vra immers dat ʼn mens aanhou leer, vrae vra en doelgerig nuwe vaardighede ontwikkel.

Dit is juis binne hierdie ruimte waar Akademia et al. waarde toevoeg. Dié kortkursusplatform, wat in 2022 ontstaan het, bied praktykgerigte kortkursusse met ʼn akademiese onderbou aan individue asook ondernemings. Die fokus is op leergeleenthede wat mense in staat stel om hul kennis te verbreed en hulself verder te ontwikkel sonder dat dit noodwendig vereis dat hulle hul bestaande werk- en lewensverpligtinge opsy skuif.

ʼn Leeropsie wat fyn verweef is met jou daaglikse realiteit

Vir talle beroepslui is tyd een van die grootste oorwegings wanneer hulle verdere leergeleenthede oorweeg. Akademia et al. se verskillende kursusformate – waaronder selfgerigte leer, aanlyn sessies en inpersoonkortkursusse – bied buigsaamheid aan individue met uiteenlopende behoeftes en skedules.

Die platform se aanbod strek voorts oor ʼn verskeidenheid leertemas en is daarop gerig om nuwe kennis en vaardighede met die praktyk te verbind. Kursusse kan gevolglik ook op versoek vir ondernemings aangepas word, sodat voortgesette leer binne ʼn spesifieke werksomgewing plaasvind en só ʼn pasgemaakte opleidingsoplossing bied.

Volgens Mareli Swanepoel, bestuurder: Institusionele projekte en ondernemings, is die waarde van ʼn kortkursus veel groter as bloot die sertifikaat wat aan die voltooiing daarvan ontvang word. Dit skep ʼn geleentheid om doelgerig nuwe kennis en vaardighede aan te leer wat ʼn mens se professionele én persoonlike ontwikkeling kan versterk.

Die korter formaat maak dit voorts moontlik om leerbehoeftes naatloos by ʼn besige werk- en persoonlike skedule in te pas, terwyl die bekostigbaarheid daarvan die finansiële drempel tot verdere ontwikkeling verlaag. Hiermee saam kan kursusgangers fokus op presies dié tipe kennis of vaardighede wat hulle op welke stadium van hul loopbaanreis nodig het – en dit dikwels dadelik in die praktyk toepas.

ʼn Beroepsdroom kry nuwe momentum

Monique de Waal (39), ʼn taalonderwyser van Rehoboth in Namibië, se ervaring van Akademia et al. illustreer hoe ʼn kortkursus ʼn wesenlike verskil in iemand se beroepsreis kan maak.

De Waal het reeds oor ʼn onderwyskwalifikasie met Aardrykskunde en Engels as hoofmodules, asook ʼn honneursgraad in Engels en Toegepaste Taalwetenskap, beskik. Haar jarelange droom was om as departementshoof ʼn groter verskil by haar skool te maak. Een ontbrekende beroepsvereiste het egter tussen haar en dié doel gestaan: Sy kon nie Afrikaans as vak onderrig nie.

Die kortkursus Onderrig van Afrikaans as addisionele taal het uiteindelik die ontbrekende bousteen gevul. Ná voltooiing van dié kursus, wat deur die Suid-Afrikaanse Raad vir Opvoeders (SACE) onderskryf word, kon De Waal suksesvol vir ʼn bevorderingspos as waarnemende departementshoof aansoek doen. “Sonder dié kortkursus sou ek waarskynlik nie eens in aanmerking gekom het vir die bevordering nie,” sê sy.

Haar verhaal beklemtoon die intrinsieke waarde van voortgesette leer: Soms is die ontbrekende bousteen in ʼn beroepsreis nie ʼn totaal nuwe kwalifikasie nie, maar bloot die regte kennis of vaardigheid op die regte tyd – iets wat nuwe moontlikhede kan ontsluit en ʼn beroepsdroom binne bereik plaas. Vir meer inligting oor Akademia et al. se kortkursusaanbod, besoek die webblad.

Akademia se kortkursusportaal, Akademia et al., bied aan kursusgangers aanpasbare voortgesette leeropsies as boublokke vir loopbaansukses.

Direkte inbetaling: Bankbesonderhede

Akademia-skenkingsfonds

Eerste Nasionale Bank

Rekeningnommer: 62857561445

Takkode: 210554

Verwysing: Jou selfoonnommer

Testamentêre bemaking

Voeg die volgende klousule tot jou testament by. (Vervang self die bedrag.)

Ek bemaak ʼn kontantbedrag van R100 000.00 (Eenhonderd Duisend Rand) aan AKADEMIA MSW met registrasienommer: 2005/024616/08 geregistreer by die Departement van Hoër Onderwys en Opleiding as ʼn privaat hoëronderwysinstelling ingevolge die Wet op Hoër Onderwys, 1997 onder registrasienommer: 2011/HE08/005.

Laat jou besonderhede hieronder dan sal ‘n skenkingsfondsbestuurder met jou kontak maak. 

Zander Botha: Skenkingsfondsbestuurder

083 254 0142
skenking@akademia.ac.za

Ek sien uit daarna om jou persoonlik te ontmoet en jou unieke bydrae en nalatenskap te bespreek.