*Die Paarl-kampus is voorlopig goedgekeur

Akademia Uitgewery gee ʼn nuwe Afrikaanse baadjie aan Die Odusseia

Gepubliseer op:  16 September 2026

Een van die oudste en invloedrykste verhale in die Westerse literatuur is nou in ʼn toeganklike, hedendaagse Afrikaanse weergawe beskikbaar. Akademia Uitgewery se nuwe uitgawe van Die Odusseia bring Homeros se klassieke verhaal van Odusseus se lang en uitdagende reis huis toe binne die bereik van ʼn nuwe geslag Afrikaanse lesers.

Die bekendstelling van dié verwerkte weergawe van ʼn historiese vertaling het op Woensdag 16 Septemer 2026 by die instelling se Leriba-kampus in Pretoria plaasgevind. Tydens hierdie geleentheid is opnuut beklemtoon dat die uitgewery daarna strewe om Afrikaanse akademiese en intellektuele werke te publiseer.

Volgens Jo-Ann Scholtz van die Akademia Uitgewery is dit een van die uitgewery se groot doelwitte om nie net Afrikaans te bevorder nie, maar ook te bewaar. “Deur ʼn klassieke werk soos Die Odusseia te verwerk en te publiseer doen Akademia as trots Afrikaanse hoëronderwysinstelling presies dit. Deur middel van projekte soos hierdie wil ons studente asook die publiek aanmoedig om dié groot Westerse beskawingsliteratuur te lees, en wat is beter as om dit in jou moedertaal tot jou beskikking te hê?” verduidelik Scholtz.

In die lig hiervan verteenwoordig hierdie vertalingsprojek méér as net nóg ʼn publikasie op die uitgewery se kerfstok. Dit gaan daaroor om nuwe lewe in ʼn klassieke teks te blaas wat oor duisende jare heen lesers en denkers wêreldwyd beïnvloed het, en dit vir Afrikaanse lesers meer toeganklik te maak. Die projek – van verwerking tot publikasie – het volgens Scholtz ongeveer ʼn jaar geduur. Karien Brits, dosent: Tale en Kultuurwetenskappe aan Akademia, was verantwoordelik vir die verwerking van die teks.

Afrikaans vir die hedendaagse leser

Brits het die besondere geleentheid gehad om ʼn reeds bestaande Afrikaanse vertaling van Die Odusseia, deur wyle professor JPJ van Rensburg, vir die hedendaagse leser te verwerk.

Dit het beteken dat sy nie direk uit die oorspronklike Grieks vertaal het nie, maar wat in die vertaalkunde as ʼn intratalige vertaling bekendstaan: ʼn vertaling van ouer Afrikaans na meer moderne Afrikaans moes toepas.

“Die uitdaging was om dit verstaanbaar te maak sonder om die antieke aard daarvan verlore te laat raak,” verduidelik Brits. Sy verduidelik dat die oorspronklike Griekse Die Odusseia ʼn epiese gedig is, terwyl die bestaande Afrikaanse weergawe in prosavorm is. Laasgenoemde  formaat het aan Brits meer vryheid gebied om die teks vir die moderne leser toeganklik te maak, terwyl die verhaal en betekenis behoue gebly het.

Brits het tydens die proses nie nét op die bestaande Afrikaanse teks gesteun nie, maar óók op die Engelse vertaling van TE Shaw. Sy het ook die Nederlandse vertaling van MA Schwartz geraadpleeg, met verwysing na onder meer Poolse en Duitse vertalings. Vir haar lê die besondere waarde van dié nuwe Afrikaanse verwerking juis daarin dat dit Afrikaanse lesers wat nie Grieks magtig is nie, in aanraking met een van die groot tekste van die klassieke wêreld bring. “Ons mag ook in Afrikaans oor Odusseus, Penelopeia en Telemachos gesels,” sê Brits.

ʼn Eeueoue verhaal met moderne vraagstukke

Hoewel Die Odusseia meer as twee millennia gelede ontstaan het, is die vrae waarmee die verhaal worstel vandag nog herkenbaar en van toepassing.

Odusseus se reis is uiteindelik ʼn soeke na ʼn eie huis en identiteit. Telemachos moet sy plek as jong volwassene vind, terwyl Penelopeia op haar beurt planne moet beraam om haar huis en gesin te beskerm. Tussendeur word die karakters met verlies, onsekerheid, versoeking, gevaar en volharding gekonfronteer.

Volgens Scholtz is dit juis hierdie herkenbaarheid wat dié verhaal so relevant maak vir hedendaagse lesers en veral vir studente wat hulself op die vormingsreis bevind. “Die temas van identiteit, behoort, verlies en volharding is nie beperk tot een tydperk of kultuur nie. Dit is universele menslike ervarings – en dit gee aan ʼn antieke teks die vermoë om steeds iets oor die mens van vandag te sê,” meen Scholtz.

Op haar beurt meen Brits dat hierdie gewaarwording een van die belangrikste elemente is wat sy uit haar werk met dié teks neem. “Mense oor eeue heen worstel (steeds) daarmee om te weet wie hulle is, waar hulle behoort en waarheen hulle op pad is,” sê Brits.

Afrikaans betree die klassieke wêreld

Vir Akademia Uitgewery lê die betekenis van hierdie publikasie ook opgesluit in die plek wat Afrikaans binne die wêreld van klassieke literatuur kan en moet inneem.

“Klassieke stories is klassiek vir ʼn rede. Dit is tydloos en ewig relevant,” meen Scholtz. Sy voeg by dat deur werke soos Die Odusseia in Afrikaans beskikbaar te stel, die taal se literêre en akademiese voetspoor verder uitgebrei word. Afrikaanse lesers kry daarom nie slegs toegang tot ʼn groot wêreldteks nie; Afrikaans word hierdeur self ʼn taal waarin daar oor Homeros en die klassieke wêreld gelees, geleer en gedink kan word.

Dit sluit aan by Akademia Uitgewery se breër rol om groot tekste en akademiese inhoud in Afrikaans vir sowel studente as die publiek beskikbaar te stel.

Prof. Danie Goosen, uitvoerende hoof: Akademie van Akademia, meen dat dié publikasie ook die belangrikheid van ʼn Afrikaanse instelling soos Akademia onderstreep. Tale word nie net bevorder wanneer hulle deur individuele sprekers gepraat word nie. Om ʼn skeppende bestaan te kan voer, moet tale deur instellings soos skole en universiteite die ruimte gegee word waarin dit onthou, gekultiveer en ontwikkel kan word.

Goosen voeg hierby dat bykans niks die bestaansrede van ʼn taal so bevestig as die feit dat daar werke in ʼn taal gepubliseer word nie. Sonder publikasies in die eie taal is sy voortbestaan as taal kwalik denkbaar. Met die publikasie van hierdie monumentale werk bewys Akademia opnuut sy verbintenis tot die skeppende voortbestaan van Afrkaans.

Akademia se Groot Boeke-program

Die Odusseia maak deel uit van Akademia se Groot Boeke-program, wat studente toerus om komplekse vraagstukke van hul tyd met groter insig en selfvertroue te benader. Die program spruit uit die klassieke tradisie van die vrye kunste en word vanuit die NP van Wyk Louw-sentrum bemiddel. Deur die saamlees en bestudering van kerntekste uit die Westerse beskawingsliteratuur word studente en personeel begelei om nie net na die wat nie, maar ook na die hoekom van dinge te vra.

Die program word nou ook vir die publiek toeganklik gemaak deur ʼn aanlyn kortkursus op Akademia et al. Volgens Daan Goosen, dosent: Groot Boeke, bied die kursus veral aan nuwe lesers die nodige konteks om klassieke tekste met groter kritiese begrip te lees. Die kursus bestaan uit sestien kort lesings wat die teks van begin tot einde volg en belangrike temas en tonele uitlig en verduidelik.

Die reis gaan voort

Met Die Odusseia as nuwe toevoeging tot sy katalogus wat reeds uit boeke soos Plato se dialoogtrilogie uit die laaste dae van Socrates en Konstruktiewe Joernalistiek bestaan, kyk Akademia Uitgewery reeds vorentoe na toekomstige geleenthede. Twee wiskundehandboeke is byvoorbeeld tans in ontwikkeling vir gebruik in die BEd-programme vir Grondslagfase- en Intermediêre Fase-onderwys en behoort volgens Scholtz in 2027 die lig te sien.

Volgens Scholtz werk die uitgewery onverpoosd daaraan om ʼn steeds groter ideaal te verwesenlik, naamlik om Afrikaans nie slegs as ʼn taal van stories en oorlewering te bewaar nie, maar as ʼn lewende taal van kennis, studie, denke en ontdekking uit te brei.

Die Akademia Uitgewery het tydens ʼn spesiale geleentheid in Pretoria ʼn verwerking van Homeros se Die Odusseia bekendgestel.
Tydens ʼn rusbankgesprek het Karien Brits (dosent: Tale en Kultuurwetenskappe asook die verwerker van die publikasie), Daan Goosen (dosent: Groot Boeke) en Jo-Ann Scholtz (Akademia Uitgewery) die soeklig op Afrikaans as literatuurtaal geskyn.

Direkte inbetaling: Bankbesonderhede

Akademia-skenkingsfonds

Eerste Nasionale Bank

Rekeningnommer: 62857561445

Takkode: 210554

Verwysing: Jou selfoonnommer

Testamentêre bemaking

Voeg die volgende klousule tot jou testament by. (Vervang self die bedrag.)

Ek bemaak ʼn kontantbedrag van R100 000.00 (Eenhonderd Duisend Rand) aan AKADEMIA MSW met registrasienommer: 2005/024616/08 geregistreer by die Departement van Hoër Onderwys en Opleiding as ʼn privaat hoëronderwysinstelling ingevolge die Wet op Hoër Onderwys, 1997 onder registrasienommer: 2011/HE08/005.

Laat jou besonderhede hieronder dan sal ‘n skenkingsfondsbestuurder met jou kontak maak. 

Zander Botha: Skenkingsfondsbestuurder

083 254 0142
skenking@akademia.ac.za

Ek sien uit daarna om jou persoonlik te ontmoet en jou unieke bydrae en nalatenskap te bespreek.