*Die Paarl-kampus is voorlopig goedgekeur

Die Odusseia: ’n Reis deur die klassieke verlede is nou binne almal se bereik

Gepubliseer op:  16 September 2026

Die klassieke literatuur het ʼn besondere vermoë om eeue te oorbrug. Die groot werke van die verlede bly immers relevant omdat hulle vrae aan die orde stel waarmee die mens steeds vandag worstel: Wie is ek? Waar behoort ek? Wat beteken dit om ʼn goeie lewe te lei? En, hoe vind ʼn mens jou weg deur ʼn wêreld vol uitdagings en onsekerheid?

Gedagtig hieraan stel Akademia as ʼn trots Afrikaanse hoëronderwysinstelling Die Odusseia van Homeros op nuwe maniere binne die bereik van die breër Afrikaanse taalgemeenskap bekend. Die Akademia Uitgewery het op 16 September 2026 tydens ʼn spesiale geleentheid in Pretoria, ʼn verwerking van dié klassieke werk in moderne Afrikaans bekendgestel. Hiermee saam sal ʼn splinternuwe aanlyn kortkursus, by wyse van Akademia et al., voortaan hierdie kernteks van die Westerse literatuur vir die breë publiek meer toeganklik maak.

Ontdek Die Odusseia met ʼn leidende hand

Die nuwe kortkursus, Die Odusseia: die eerste gedig, is ontwikkel vanuit Akademia se Groot Boeke-program, wat deur die NP van Wyk Louw-sentrum gefasiliteer word. Dit sal aan lesers die geleentheid bied om Die Odusseia nie net bloot oppervlakkig te lees nie, maar dit krities binne die groter wêreld van Homeros se tyd en die eeuelange gesprek rondom dié werk te verken.

Volgens Daan Goosen, dosent: Groot Boeke, is die kursus veral daarop gerig om nuwe lesers met die nodige konteks en begrippe toe te rus om ʼn klassieke teks met groter selfvertroue en kritiese insig te benader.

“Die kursus bestaan uit sestien kort lesings wat die teks van begin tot einde volg. Belangrike temas en tonele word uitgelig en verduidelik, sodat lesers beter kan raaksien wat onder die oppervlak van die verhaal afspeel,” sê Goosen. Hy verduidelik voorts dat die kursus ʼn toeganklike eerste kennismaking met een van die Westerse beskawing se groot klassieke werke verteenwoordig, terwyl dit terselfdertyd ruimte skep vir dieper nadenke oor die idees en vrae wat daarin opgesluit lê.

Die Groot Boeke-program het aanvanklik as deel van Akademia se interne akademiese aanbod ontstaan, maar die instelling wil die gesprek rondom klassieke werke ook buite die formele lesinglokaal voer.

“Die Groot Boeke behoort nie slegs aan diegene wat formeel aan die instelling studeer nie,” verduidelik Goosen. Volgens hom is daar reeds sterk belangstelling in die program vanuit die Afrikaanse gemeenskap, en bied Akademia et al. nou ʼn geleentheid aan die instelling om hierdie erfenis met ʼn groter gehoor te deel. Die aanlyn formaat maak die kursus juis hiervoor besonder geskik. Belangstellendes hoef nie formeel by Akademia ingeskryf te wees om deel te neem nie en kan die kursus selfgerig, op hul eie tyd en teen hul eie pas voltooi.

ʼn Venster op Homeros se wêreld

Vir die moderne leser kan Die Odusseia aanvanklik soos ʼn vreemde wêreld voorkom. Die gode, mitologie, gebruike en wêreldbeskouing van Homeros se tyd verskil immers ingrypend van dié van die hedendaagse leser.

Volgens Goosen sal die nuwe kortkursus help om hierdie afstand te oorbrug. Deur die verhaal stap vir stap te volg en aandag aan die belangrikste temas, tonele en idees te gee, word kursusgangers gehelp om die drama en dieper betekenis van die teks te ontsluit.

Die kursus plaas Die Odusseia ook binne die voortgesette oop gesprek wat oor eeue heen rondom die werk gevoer word. Kursusgangers maak dus nie net met Homeros se verhaal kennis nie, maar kry ook ʼn blik op sommige van die belangrike maniere waarop dié klassieke werk deur die eeue gelees en geïnterpreteer is.

Die aanlyn kortkursus is vanaf 16 September op Akademia et al. beskikbaar en die koste hieraan verbonde beloop R250 per persoon.

Volgens Goosen is die kursus ʼn uitnodiging aan enige belangstellende om Die Odusseia op ʼn nuwe manier te ontdek. “Dit is vir mense wat verder as die oppervlak van die verhaal wil lees en wil verstaan waarom hierdie werk ons steeds, duisende jare later, iets oor onsself kan leer.”

Die kursus oor Die Odusseia is die eerste van verskeie Groot Boeke-kursusse wat mettertyd op die instelling se kortkursusplatform beskikbaargestel sal word.

Koop ook gerus jou kopie van Die Odusseia op Die Winkel teen R250.

Akademia et al. se nuwe aanlyn kortkursus oor Homeros se Die Odusseia breek dié kernteks van die Westerse literatuur vir die gemeenskap oop.

Direkte inbetaling: Bankbesonderhede

Akademia-skenkingsfonds

Eerste Nasionale Bank

Rekeningnommer: 62857561445

Takkode: 210554

Verwysing: Jou selfoonnommer

Testamentêre bemaking

Voeg die volgende klousule tot jou testament by. (Vervang self die bedrag.)

Ek bemaak ʼn kontantbedrag van R100 000.00 (Eenhonderd Duisend Rand) aan AKADEMIA MSW met registrasienommer: 2005/024616/08 geregistreer by die Departement van Hoër Onderwys en Opleiding as ʼn privaat hoëronderwysinstelling ingevolge die Wet op Hoër Onderwys, 1997 onder registrasienommer: 2011/HE08/005.

Laat jou besonderhede hieronder dan sal ‘n skenkingsfondsbestuurder met jou kontak maak. 

Zander Botha: Skenkingsfondsbestuurder

083 254 0142
skenking@akademia.ac.za

Ek sien uit daarna om jou persoonlik te ontmoet en jou unieke bydrae en nalatenskap te bespreek.