*Die Paarl-kampus is voorlopig goedgekeur

Testamentmaand: Gee vandag met die oog op môre en ontsluit só ewigheidswaarde

Gepubliseer op:  15 September 2026

September is die maand waarin die natuur na ʼn nuwe seisoen draai, en Testamentmaand nooi ons om op ʼn soortgelyke wyse ons blik na die toekoms te rig. Dit is ʼn geleentheid om nie nét krities te besin oor dit wat ons besit nie, maar óók oor dit wat ons graag sal wil nalaat.

ʼn Testamentêre nalatenskap aan Akademia is ʼn doelgerigte belegging in die volgende geslag. Dit maak toekomsgedrewe geleenthede vir groei, vorming en ontwikkeling moontlik en help só om die boustene vir ʼn betekenisvolle en hoopvolle toekoms neer te lê.

Hierdie toekomsvisie kry reeds konkrete gestalte in die ontwikkeling van Akademia se omvattende residensiële kampus in die ooste van Pretoria, wat teen 2028 ʼn studietuiste vir
5 000 voorgraadse en 2 000 nagraadse studente sal wees. Dié ontwikkeling vorm deel van die Toekomsbouer-veldtog en spruit voort uit ʼn geskiedkundige en dinamiese samewerkingsooreenkoms tussen Akademia en die eiendomsbeleggingsmaatskappy Kanton.

Daar is verskeie maniere waarop lede van die Afrikaanse taal- en kultuurgemeenskappe kan help om hierdie toekoms te bou. Hiérdie maand val die fokus spesifiek op testamentêre bemakings as ʼn praktiese wyse waardeur ewigheidswaarde ontsluit kan word. Zander Botha, bestuurder: Akademia-skenkingsfonds, verduidelik dat alhoewel die afsterwe van ʼn geliefde ʼn groot emosionele verlies verteenwoordig, deeglike beplanning stukrag aan ʼn nalatenskap kan verleen. “ʼn Testamentêre bemaking is meer as net ʼn finansiële besluit, dit is ʼn daad van rentmeesterskap met die potensiaal om oor ʼn mens se eie leeftyd heen voort te werk. Deur vandag met die oog op môre te gee, kan ʼn mens help om ʼn nalatenskap te vestig wat nie net toekomstige geslagte sal bevoordeel nie, maar ook bly getuig van die waardes en oortuigings waaraan jy jou lewe gewy het,” sê Botha.

Gedagtig hieraan beantwoord Botha die onderstaande vrae soos dit verband hou met testamentêre bemakings aan die instelling.

Wanneer dit kom by boedelbeplanning in Suid-Afrika is daar ʼn belangrike onderskeid tussen die oorweging van ʼn familietrust teenoor ʼn testamentêre bemaking. Hoe lyk hierdie onderskeid?

Albei hierdie oorwegings vorm deel van ʼn strategiese nalatenskap, maar die onderskeie belastingimplikasies verskil wesenlik van mekaar.

ʼn Testamentêre bemaking word direk uit die oorledene se boedel gemaak. Indien die begunstigde ʼn erkende Openbare Weldaadorganisasie (OWO) is, soos Akademia, is sodanige bemaking heeltemal vrygestel van boedelbelasting in terme van artikel 4(h) van die Wet op Boedelbelasting. Hierdie vrystelling beteken dat die waarde van die bemaking nie by die belasbare boedel ingesluit word nie en dus die boedelbelasting wat uiteindelik betaalbaar is, verlaag.

Vir die erfgename is daar ook geen inkomstebelasting op die ontvangs van die bemaking nie, aangesien erflatings nie as belasbare inkomste beskou word nie. Dit maak testamentêre bemakings aan ʼn OWO nie net ʼn daad van volhoubare steun nie, maar ook ʼn uiters belastingdoeltreffende opsie.

ʼn Familietrust funksioneer anders. ʼn Trust is ʼn afsonderlike regsentiteit wat deur ʼn stigter tot stand gebring word en waarin bates vir begunstigdes gehou word. Wanneer bates in ʼn testament aan ʼn trust oorgedra word, word daardie bates steeds in die oorledene se boedel gereken vir boedelbelastingdoeleindes. Omdat ʼn familietrust nie as ʼn OWO funksioneer nie, kan dit gevolglik nie voordeel trek uit die artikel 4(h)-vrystelling nie. Nadat die trust die bates ontvang het, is dit self belastingpligtig op enige inkomste wat dit genereer, soos rente of huur.

Suid-Afrikaanse trusts word teen die hoogste marginale koers van 45% belas, tensy die inkomste direk aan begunstigdes uitgekeer word en dan teen hul persoonlike belastingkoers belas word.

Wat behels ʼn testamentêre bemaking?

ʼn Testamentêre bemaking verteenwoordig ʼn skriftelike bepaling wat in jou testament vervat word. Hierdie bepaling dui aan watter bates (goedere en/of kontant) aan wie toevertrou moet word ná jou dood. Eenvoudig gestel kan hierdie bepaling met ʼn taaklys vergelyk word wat ná jou dood in werking tree.

Wat is die waarde van ʼn testamentêre bemaking aan ʼn hoëronderwysinstelling soos Akademia?

Akademia is ʼn onafhanklike hoëronderwysinstelling en ontvang as sodanig geen staatsbefondsing nie. Hiermee saam is die instelling as ʼn maatskappy sonder winsoogmerk geregistreer. Jou skenking aan die instelling sal nie net help om fisiese strukture op te rig nie, maar help ook om die intellektuele en kulturele erfenis van die Afrikaanse taal- en kultuurgemeenskappe te bewaar.

Akademia sal sodanige bemakings aanwend vir onder meer:

  • die uitbreiding van akademiese programme en navorsing;
  • infrastruktuurontwikkeling;
  • studiefondse en beurse vir studente wat finansiële ondersteuning benodig; en
  • die bevordering van Afrikaanse kultuur en identiteit binne die akademiese ruimte.

Is daar enige voorskrifte vir die waarde van ʼn testamentêre bemaking aan Akademia?

Nee, die wet stel geen minimum of maksimum waarde vir testamentêre bemakings nie. Enige bedrag of bate kan bemaak word. Dit kan wissel van kleiner bydrae (soos ʼn kontantbedrag of boekversameling) tot ʼn omvattende skenking (soos eiendom, aandele of ʼn groot kapitaalbedrag). Die waarde is dus heeltemal diskresionêr, en die belangrikste is dat die testament die wens van die skenker duidelik uiteensit.

Watter voordele is daar aan ʼn testamentêre bemaking aan Akademia verbonde?

Daar is verskeie voordele, waaronder:

  • ʼn Belastingvoordeel

Die bedrag wat aan Akademia bemaak word, word ingevolge artikel 4(h) van die Wet op Boedelbelasting van die brutoboedelwaarde afgetrek en verlaag dus die nettowaarde waarop boedelbelasting (20% of 25%) gehef word.

  • Nalatingsdoelwitte

Dit laat individue toe om hul waardes en lewensoortuigings te weerspieël deur in ʼn instelling te belê wat hul kultuur, taal en geloof bevorder.

  • ʼn Maatskaplike impak

Elke bemaking versterk Akademia se kapasiteit om hoër onderwys toeganklik te maak vir lede van die Afrikaanse taal- en kultuurgemeenskappe terwyl dit voorts ook ondersteuning aan studente bied. Hierdie impak het ʼn vermenigvuldigende effek in die gemeenskap.

Met wie kan persone in verbinding tree oor moontlike testamentêre bemakings?

Persone wat belangstel in testamentêre bemakings aan Akademia kan in verbinding tree met:

  • Akademia se skenkingsfonds, wat spesifiek sulke skenkings en nalatenskappe administreer. Stuur ʼn e-pos na skenking@akademia.ac.za of besoek die webblad.
  • regs- of boedelbeplanningsadviseurs, wat kan help om jou testament korrek te formuleer en te verseker dat dit in ooreenstemming met die Wet op Boedelbelasting is.

“Gemeenskapsbetrokkenheid en -befondsing is belangrik, want dit gee aan persone die geleentheid om persoonlik betrokke te raak as aktiewe rolspelers. Wanneer ons almal daadwerklik betrokke raak, kan ons meer vermag as ooit tevore en bou ons saam aan ʼn instelling wat nie net vir ons kinders nie, maar ook vir toekomstige geslagte ʼn betekenisvolle verskil gaan maak,” sluit Botha af.

Testamentêre bemakings aan Akademia ontsluit ewigheidswaarde in die sin dat dit nie net help om fisiese strukture op te rig nie, maar ook help om die intellektuele en kulturele erfenis van die Afrikaanse taal- en kultuurgemeenskappe te bewaar.

 

Direkte inbetaling: Bankbesonderhede

Akademia-skenkingsfonds

Eerste Nasionale Bank

Rekeningnommer: 62857561445

Takkode: 210554

Verwysing: Jou selfoonnommer

Testamentêre bemaking

Voeg die volgende klousule tot jou testament by. (Vervang self die bedrag.)

Ek bemaak ʼn kontantbedrag van R100 000.00 (Eenhonderd Duisend Rand) aan AKADEMIA MSW met registrasienommer: 2005/024616/08 geregistreer by die Departement van Hoër Onderwys en Opleiding as ʼn privaat hoëronderwysinstelling ingevolge die Wet op Hoër Onderwys, 1997 onder registrasienommer: 2011/HE08/005.

Laat jou besonderhede hieronder dan sal ‘n skenkingsfondsbestuurder met jou kontak maak. 

Zander Botha: Skenkingsfondsbestuurder

083 254 0142
skenking@akademia.ac.za

Ek sien uit daarna om jou persoonlik te ontmoet en jou unieke bydrae en nalatenskap te bespreek.