*Die Paarl-kampus is voorlopig goedgekeur

Fontie-Marghereet: Jukskei is méér as ʼn sport, dit is ʼn lewensles

Gepubliseer op:  25 Mei 2026

Vir Marghereet Visser-Botha (19), ʼn trotse eerstejaar-Fontie* op die Pretoria-kampus, is sport – en meer spesifiek jukskei – nie nét nog ʼn buitemuurse aktiwiteit nie. Dié LLB-student wat via Akademia se voltydse kampusmodel studeer, meen jukskei is ʼn lewensles wat haar reeds van jongs af vorm en daagliks haar karakter, selfdissipline en leierskapsvaardighede slyp. Visser-Botha se toewyding en uithalerprestasie in dié sport het haar in April vanjaar ʼn plek in die Suid-Afrikaanse o. 30-span besorg.

ʼn Sportloopbaan vol hoogtepunte

Visser-Botha, wat haar hoërskoolloopbaan aan die Hoërskool Zwartkop in Centurion voltooi het, se liefde vir jukskei het reeds op sesjarige ouderdom ontvlam tydens ʼn laerskoolopedag. Wat as blote nuuskierigheid begin het, het spoedig ontwikkel tot ʼn lewenslange verbintenis. Haar pa, Hannes Visser, wat self ʼn voormalige jukskeispeler was, het haar eerste afrigter geword en só is ʼn spesiale pa-en-dogter-band gesmee wat tot vandag nog die kern van haar sportreis vorm. Visser-Botha vertel dat sy op agtjarige ouderdom vir die eerste keer provinsiale kleure ontvang het.

Sedertdien het haar jukskeiloopbaan indrukwekkende hoogtes aangeneem: Nie net neem sy al vir meer as ʼn dekade lank kompeterend deel nie, sy het ook oor ʼn tydperk van tien jaar Gauteng-Noord-kleure ontvang in verskeie ouderdomsgroepe. Laasgenoemde sluit onder meer in o. 13, o. 16, o. 19, o. 30 en senior vroue. Hiermee saam het sy op nasionale vlak SA-kleure ontvang in die o. 16- (twee keer), o. 19- (drie keer) en meer onlangs die o. 30-ouderdomsgroepe. As die voormalige kaptein van verskeie nasionale spanne, en tans die o. 19-span, dra sy met trots die groen en goud, en vervul dié leierskapsrol met nederigheid en ʼn diepe verantwoordelikheidsbesef.

Sukses is méér as medaljes en erekleure

Volgens Visser-Botha gaan haar deelname aan sport oor meer as net medaljes en erekleure. Sport het haar onder meer geduld en veerkragtigheid geleer. “Dit neem jare om tegniek te bemeester en dit verg ʼn positiewe ingesteldheid om te bly glo wanneer ʼn skei nie verloop soos beplan nie,” verduidelik Visser-Botha. Hierbenewens hou jukskei haar nederig, want elke wedstryd herinner haar daaraan dat groei altyd moontlik is. In haar rol as afrigter en ook skeidsregter het sy ook die geleentheid en voorreg om haar kennis en vaardighede terug te ploeg in die sport, en sy bou doelgerig aan die volgende geslag van jukskeispelers.

Hierdie waardes en deugde vervloei ook met Visser-Botha se akademiese lewe.

ʼn Trotse Fontie, diep gewortel in waardes en gemeenskap

Visser-Botha sê dat sy Akademia as haar studietuiste gekies het omdat sy van meet af na ʼn akademiese gemeenskap gesoek het waarin sy haar Afrikaanse en Christelike identiteit kon uitleef. “Vir my is Akademia ʼn hartsplek omdat ek nie nét akademies gevorm word nie, maar ook persoonlik en geestelik,” sê Visser-Botha.

“Wat my die meeste na Akademia aangetrek het, was die oorweldigende gevoel van tuiskoms reeds van dag een af,” voeg Visser-Botha by. As ʼn trotse lid van die daghuis, Huis Daglelie, beleef Visser-Botha hierdie tuiskoms verder by wyse van ʼn bruisende studentelewe ryk aan tradisie, verbondenheid en gesonde studentepret. “Die studentelewe is ongelooflik en die energie aansteeklik. Om dié rede wil ʼn mens outomaties deel wees van alles en só seker maak dat jy nie een oomblik van die pret misloop nie!” sê Visser-Botha.

Die strewe na balans

Volgens Visser-Botha is dit soms uitdagend om ʼn balans te tref tussen ʼn veeleisende sportloopbaan en die navolging van ʼn studiedroom. En hoewel dit soms streng dissipline, vooruitbeplanning en groot opofferings verg, is dit volgens haar uit en uit die moeite werd. “Moet dit nooit uit die oog verloor dat jy deel is van iets veel groter as jouself nie,” sê Visser-Botha, gedagtig aan voornemende Fonties wat dalk ook voltyds tot professionele sport verbind is – “… elke geleentheid onsluit vormingspotensiaal, nuwe vriende en netwerke asook toekomsgerigte ontwikkeling.”

“Ek moes myself al van ʼn internasionale toer onttrek omdat ek akademiese assesserings moes prioritiseer. Dit was ʼn moeilike besluit om te neem, maar een wat my toewyding aan my toekoms bevestig,” verduidelik Visser-Botha. Ter afsluiting vertel Visser-Botha dat sport inderdaad ʼn kragtige bousteen vir karakter én roeping kan wees. “In jukskei het ek nie net my passie gevind nie, maar ʼn lewenslange leerskool vir die lewe – een wat my toerus om met wysheid, integriteit en diensleierskap my plek in die gemeenskap en die wêreld vol te staan,” sê Visser-Botha.

Indien jy soos Visser-Botha professioneel aan sport deelneem én ʼn studiedroom koester, oorweeg Akademia as jou studietuiste. Studieaansoeke vir die 2027- akademiese jaar word nou ingewag. Vir meer inligting besoek die Akademia-webblad.

*Fonties verwys na studente wat aan Akademia studeer. Dié eienaam is afgelei uit die instelling se leuse, Ad futurum per fontes – vanuit die bronne na die toekoms.

Marghereet Visser-Botha (19) is ʼn eerstejaar-Fontie wat op nasionale vlak in jukskei uitblink. ʼn Groot eer het haar in April vanjaar te beurt geval toe sy as lid van die Suid-Afrikaanse o. 30-span gekies is.
Marghereet Visser-Botha het op sesjarige ouderdom begin jukskei speel. Vandag neem sy reeds langer as ʼn dekade kompeterend deel aan dié sportsoort.

Direkte inbetaling: Bankbesonderhede

Akademia-skenkingsfonds

Eerste Nasionale Bank

Rekeningnommer: 62857561445

Takkode: 210554

Verwysing: Jou selfoonnommer

Testamentêre bemaking

Voeg die volgende klousule tot jou testament by. (Vervang self die bedrag.)

Ek bemaak ʼn kontantbedrag van R100 000.00 (Eenhonderd Duisend Rand) aan AKADEMIA MSW met registrasienommer: 2005/024616/08 geregistreer by die Departement van Hoër Onderwys en Opleiding as ʼn privaat hoëronderwysinstelling ingevolge die Wet op Hoër Onderwys, 1997 onder registrasienommer: 2011/HE08/005.

Laat jou besonderhede hieronder dan sal ‘n skenkingsfondsbestuurder met jou kontak maak. 

Zander Botha: Skenkingsfondsbestuurder

083 254 0142
skenking@akademia.ac.za

Ek sien uit daarna om jou persoonlik te ontmoet en jou unieke bydrae en nalatenskap te bespreek.