*Die Paarl-kampus is voorlopig goedgekeur
Gepubliseer op: 22 Mei 2026
In Bloemfontein staan ʼn trio van Akademia-alumni daagliks hul plek vol, nie nét as trotse ambassadeurs van hul alma mater nie, maar as roepingsbewuste regslui in diens van die gemeenskap. Dawid Welman (34), Michelle van der Walt (29) en Wikus van Niekerk (34) het hul LLB-studie in 2023 by Akademia voltooi by wyse van die instelling se nauurse afstandsmodel. Hoewel elkeen ʼn unieke Fontie-verhaal het om te vertel, was hul keuse van Akademia as ʼn studietuiste deur dieselfde boublokke geken: gehalteonderrig, die vryheid om nauurs oor afstand te studeer en ʼn studieomgewing waarin hul moedertaal, Christelike waardes en akademiese uitnemendheid, toekomsgerig verweef is.
Nóg ʼn kragtige verbintenis wat dié drie Fonties deel, is dat hulle almal op dieselfde dag – 22 Januarie 2026 – as praktiserende prokureurs deur die hooggeregshhof in Bloemfontein toegelaat is. Welman is werksaam by Kramer Weihmann Prokureurs, Van der Waltt by Muller Gonsior Prokureurs en Van Niekerk by Bezuidenhouts Ingelyf – almal in die Rosestad.
Akademia as studietuiste
Vir Welman, ʼn gebore Bloemfonteiner, was dit noodsaaklik om in Afrikaans te kon studeer omdat dit nie net sy hartstaal is nie, maar ook die taal van sy denke. Ná die voltooiing van die Hoër Sertifikaat in Rekeningkunde in 2019 het hy ook die LLB-program in 2023 voltooi. Volgens Welman het die gestruktureerde aanbieding van die verskillende modules en die praktiese fokus van dié program hom gehelp om, as ʼn werkende student, ʼn balans te tref tussen sy werksverpligtinge en studieverantwoordelikhede.
Volgens Welman het sy studietyd hom geleer om dieper te lees, logies te redeneer en komplekse feite tot toepaslike regstoepassing te verwerk – alles waardevolle vaardighede wat vandag die kern van sy praktyk vorm.
Van der Walt se besluit om by Akademia te studeer was gegrond op haar soeke na gehalteonderrig binne ʼn instelling waar Christelike waardes onomwonde uitgeleef word. Akademia se nauurse afstandsmodel, en daarmee saam die e-leeropsie, het haar in staat gestel om voltyds te werk terwyl sy studeer, sonder om akademiese standaarde prys te gee. Op dié manier kon sy in 2023 haar studiedroom verwesenlik toe sy die LLB-kwalifikasie verwerf het. Sy beskryf haar studietyd as “professioneel vormend” met goeie ondersteuning, veral wat die instelling se sterk gestruktureerde administratiewe fokus betref. Hierdie ervaring het haar voorberei om onafhanklik, met selfvertroue en met ʼn goed gefundeerde werksetiek in die regsprofessie te funksioneer.
Op sy beurt het Van Niekerk se studiereis aan Akademia begin ná hy doelgerig gesoek het na ʼn instelling wat hom nie nét sou toelaat om nauurs oor afstand te studeer nie, maar wat óók ʼn dinamiese LLB-program bied. Hoewel hy aanvanklik nie primêr deur moedertaalstudie gemotiveer is nie, meen hy dat dit vir hom ʼn voorreg was om in Afrikaans te kon studeer. Van Niekerk erken dat dit soms uitdagend was om ʼn balans te handhaaf tussen werk en studeer, maar dat dié uitdagings vir groei asook persoonlike en professionele verdieping gesorg het. Hy het veral modules soos Kontraktereg, Deliktereg en Bewysreg geniet en dit het bygedra tot sy passie vir litigasie.
Om te werk en te studeer
Al drie alumni het via Akademia se nauurse afstandsmodel gestudeer, en hoewel dit hul toegelaat het om waardevolle beroepservaring op te doen, getuig elkeen dat dié keuse vir eiesoortige uitdagings sorg. Ten einde ander werkende studente van hulp te wees, bied hulle die volgende praktiese advies aan:
Daar is nooit ʼn ideale tyd om te begin studeer nie, omdat elkeen se lewensreis anders daarna uitsien. Die goue reël is egter om sodra jy die besluit geneem het om te studeer, jy jouself daartoe moet verbind selfs te midde van werkdruk en persoonlike verpligtinge.
Konsekwentheid is baie belangrik. Gereelde en voortgesette leersessies lewer oor die langer termyn beter resultate as om onder hoë druk intensiewe pogings aan te wend.
Om nauurs oor afstand te studeer verg doelbewuste selfbestuur. Jy moet leer hoe om afleidings te beperk, tyd vir jou studie af te sonder en verantwoordelikheid vir jou eie vordering, al dan nie, te neem.
Vooruitbeplanning, veral wat assesserings en eksamens betref, is noodsaaklik. Dit help jou nie net in terme van voorbereiding nie, maar ook om jou stresvlakke beter te bestuur. Wanneer jy weet wat om te doen en wat van jou verwag word, raak die las ligter en word jy nie maklik oorweldig nie.
Soos Van Niekerk sê, “… sit jou selfoon neer en begin!”. Momentum sal jou verbaas en voor jy dit besef het jy ure se vordering gemaak”.
Praktiese werkservaring verdiep akademiese begrip en slaan ʼn brug tussen teorie en die praktyk. Dié twee wêrelde is daarom nie in kompetisie met mekaar nie, maar verteenwoordig eerder ʼn baie voordelige simbiose.
As ouer studente meen die trio dat lewenservaring nooit versmaai moet word nie. Ervaring bied konteks, perspektief en kan oor die langtermyn ʼn baie goeie motiveerder wees.
Jou “hoekom” is ʼn kragtige motiveerder, of dit nou in die vorm van jou roepingsbesef is óf groei in terme van jou loopbaan of karakter.
Benader jou studie as iets wat oor jare waarde sal toevoeg, nie net ʼn korttermynopoffering nie. Op dié manier is jy meer gemotiveerd en verantwoordelik vir jou sukses.
Toekomsdrome vir Akademia
Wanneer Welman, Van der Walt en Van Niekerk oor hul alma mater se toekoms praat, is hul wense duidelik en hoopvol.
Welman spreek die hoop uit dat die instelling sal aanhou groei wat uitnemendheid, integriteit en moedertaalonderrig betref. Bronkhorst sien opgewonde uit na verdere programuitbreiding en geleenthede vir studente in uiteenlopende lewensfases.
Op sy beurt sê Van Niekerk dat dit sy bede is dat Akademia se alumni sal volhou om hul kennis roepingsgedrewe toe te pas en só antwoorde en oplossings sal vind vir werklike en alledaagse vraagstukke. Op die manier sal hul as ware diensleiers in die gemeenskap na vore tree.
Saam getuig hierdie Fonties se verhale van méér as akademiese sukses. Dit is ʼn bewys van wat moontlik is wanneer ʼn doelbewuste keuse, gestruktureerde onderrig en persoonlike toewyding byeen kom. Hierdie drie alumni dra Akademia se waardes nie net in hul daaglikse wandel nie, maar in die wyse waarop hulle die reg beoefen – met integriteit, insig en ʼn vaste en hoopvolle blik op die toekoms.

Akademia-skenkingsfonds
Eerste Nasionale Bank
Rekeningnommer: 62857561445
Takkode: 210554
Verwysing: Jou selfoonnommer
Voeg die volgende klousule tot jou testament by. (Vervang self die bedrag.)
Ek bemaak ʼn kontantbedrag van R100 000.00 (Eenhonderd Duisend Rand) aan AKADEMIA MSW met registrasienommer: 2005/024616/08 geregistreer by die Departement van Hoër Onderwys en Opleiding as ʼn privaat hoëronderwysinstelling ingevolge die Wet op Hoër Onderwys, 1997 onder registrasienommer: 2011/HE08/005.
Laat jou besonderhede hieronder dan sal ‘n skenkingsfondsbestuurder met jou kontak maak.
083 254 0142
skenking@akademia.ac.za
Ek sien uit daarna om jou persoonlik te ontmoet en jou unieke bydrae en nalatenskap te bespreek.