*Die Paarl-kampus is voorlopig goedgekeur

Van Amerika tot die Paarl: Fontie-Charlotte se pad terug na Afrikaans

Gepubliseer op:  26 Oktober 2026

Vir Charlotte Crafford (21), ʼn eerstejaar-Fontie* op Akademia se Paarl-kampus, is Afrikaans – en die voorreg om moedertaalonderrig te ontvang – allermins iets wat sy as vanselfsprekend aanvaar. Dié besef volg ná sy twee jaar lank in Amerika gewerk het, ver verwyderd van haar moedertaal en haar hartsmense.

Vandag studeer sy BCom (Finansiële Beplanning) by wyse van Akademia se nauurse afstandsmodel, en hoewel sy voltyds werk om haar studie te befonds, skakel sy nogtans ten volle in by die Paarl-kampus se studentelewe. Vir Crafford is die instelling immers méér as net ʼn plek van studie – dit is ʼn tuiskoms.

Van Sannieshof na Tampa, Florida

Crafford is in Klerksdorp gebore en het saam met haar tweelingsussie, Wilandri, in Sannieshof in die Noordwes-provinsie grootgeword. Die Crafford-gesin het teen die einde van die tweeling se graad 5-skooljaar na Hartenbos verhuis en hulle het hul skoolloopbaan in Mosselbaai voltooi.

Ná skool het sy en haar sussie hul vlerke gesprei en albei as au pairs in Tampa, Florida, gaan werk – ʼn avontuur wat lank reeds deel van hul toekomsplanne was. “Ek wou die wêreld sien, nuwe mense ontmoet en myself buite my gemaksone uitdaag,” vertel Crafford. Twee jaar lank het sy na twee energieke seuntjies gekyk en geleer wat dit beteken om selfstandig en ver van die huis af te wees. Wat sy die meeste gemis het, was Afrikaans, en dit is presies waarheen sy teruggekom het.

Koffie en die kerk

Crafford werk as ʼn barista by Akademia se koffiewinkel, Sowel As, op die Paarl-kampus. Hier brou sy koffie, bedien studente en personeel en dra by tot die daarstelling van ʼn verwelkomende atmosfeer.

Haar tweede werk, deeltyds by ʼn ortodontispraktyk, het op ʼn Sondagoggend ná kerk oor haar pad gekom toe ʼn tannie gevra het of sy iemand ken wat by haar man se praktyk kan werk. Crafford het dadelik ingestem. “Vir my was dit ʼn herinnering dat die Here dikwels op die mees onverwagte maniere voorsien en deure oopmaak wanneer ons dit die minste verwag,” sê sy.

Dié twee werksgeleenthede dek ʼn groot deel van haar studiekoste en gee haar boonop professionele ervaring in ʼn heel ander werksomgewing as dié waarin sy eendag as finansiële beplanner wil werk.

Huis Waterlelie en ʼn borrelende kampuservaring

Vra ʼn mens vir Crafford om die studentelewe op die Paarl-kampus in een woord op te som, dan is haar antwoord “borrelend”! Om deel van Huis Waterlelie te wees, voel vir haar soos ʼn tweede familie, ʼn groep wat mekaar ondersteun en aanmoedig. Omdat sy bedags werk en haar klasse nauurs plaasvind, kom sy nie by elke geleentheid uit nie. Sy beplan daarom vooruit, hou ʼn weeklikse rooster byderhand en kies die geleenthede wat vir haar die meeste beteken. “Ek voel sommer tien keer ligter nadat ek ʼn draai by die kampus gemaak het,” sê sy.

Die volle sirkel

ʼn Paar jaar gelede het Crafford ʼn artikel gelees oor ʼn Akademia-student wat nauurs en oor afstand die BCom (Finansiële Beplanning)-program studeer het terwyl sy ook gewerk het. Destyds het dit vir haar amper onmoontlik gelyk. Vandag bevind sy haarself in ʼn soortgelyke posisie en hoop sy dat haar eie verhaal vir iemand anders kan doen wat daardie artikel destyds vir haar gedoen het.

Haar raad aan iemand wat wonder of dit haalbaar is, is om nie toe te laat dat finansiële bekommernisse ʼn studiedroom stopsit nie, maar eerder te beplan, hulp te vra en stap vir stap te werk te gaan. “My ma sê altyd mens eet ʼn olifant happie vir happie,” vertel Crafford. Sy glo ʼn naskoolse kwalifikasie bly een van die beste beleggings wat ʼn mens kan maak: “Die kennis en vaardighede wat jy opdoen, is iets wat niemand van jou kan wegneem nie,” meen Crafford.

Indien jy soos Crafford jou studiedroom wil najaag terwyl jy werk, oorweeg Akademia as jou studietuiste. Die buigsame nauurse afstandsmodel, tesame met weldeurdagte beplanningsopsies en ondersteuning, bied aan voornemende studente praktiese oplossings vir die finansiële uitdagings van hoër onderwys. Dit alles, sonder om gehalte in te boet.

Studieaansoeke vir die 2027- akademiese jaar is oop.

*Fonties verwys na studente wat aan Akademia studeer. Dié eienaam is afgelei uit die instelling se leuse, Ad futurum per fontes, vanuit die bronne na die toekoms.

Charlotte Crafford (21) werk as ʼn barista by Akademia se koffiewinkel, Sowel As, op die Paarl-kampus.
Charlotte Crafford is ʼn trotse Fontie. Haar studiereis aan Akademia het by die eerstejaarskamp (links) begin en tydens die nauurse oriëntering (regs) verder verdiep.

Direkte inbetaling: Bankbesonderhede

Akademia-skenkingsfonds

Eerste Nasionale Bank

Rekeningnommer: 62857561445

Takkode: 210554

Verwysing: Jou selfoonnommer

Testamentêre bemaking

Voeg die volgende klousule tot jou testament by. (Vervang self die bedrag.)

Ek bemaak ʼn kontantbedrag van R100 000.00 (Eenhonderd Duisend Rand) aan AKADEMIA MSW met registrasienommer: 2005/024616/08 geregistreer by die Departement van Hoër Onderwys en Opleiding as ʼn privaat hoëronderwysinstelling ingevolge die Wet op Hoër Onderwys, 1997 onder registrasienommer: 2011/HE08/005.

Laat jou besonderhede hieronder dan sal ‘n skenkingsfondsbestuurder met jou kontak maak. 


Zander Botha: Skenkingsfondsbestuurder

083 254 0142
skenking@akademia.ac.za

Ek sien uit daarna om jou persoonlik te ontmoet en jou unieke bydrae en nalatenskap te bespreek.