*Die Paarl-kampus is voorlopig goedgekeur
Gepubliseer op: 19 Oktober 2026
Navorsing is ʼn kernbousteen van ʼn sterk onderwysstelsel. Navorsing help om die uitdagings waarmee onderwysers, skole en leerders te kampe het, beter te verstaan en moontlike oplossings op wetenskaplik gefundeerde wyse te ondersoek. Die ware waarde daarvan lê egter in die kennis en insigte wat uiteindelik in die praktyk neerslag vind en ʼn tasbare verskil in die onderwysomgewing maak.
ʼn Nuwe navorsingsvennootskap tussen Akademia se Fakulteit Opvoedkunde en die Solidariteit Skoleondersteuningsentrum (SOS) bied juis ruimte hiervoor. Die ooreenkoms, wat op Dinsdag 6 Oktober 2026 onderteken is, lê die grondslag vir gesamentlike navorsing wat daarop gemik is om hedendaagse onderwysuitdagings beter te verstaan en kennis te ontwikkel wat relevant en prakties toepasbaar binne die Suid-Afrikaanse skolekonteks is.
ʼn Vennootskap wat akademie en praktyk verbind
Hierdie memorandum van verstandhouding bring twee komplementêre sterkpunte byeen. Akademia se Fakulteit Opvoedkunde dra akademiese kundigheid, navorsingservaring en ondersteuning met etiekklaring tot die samewerking by, terwyl SOS toegang tot relevante onderwyskontekste en waardevolle praktykgerigte insigte bied.
Volgens prof. Johnnie Hay, dekaan: Fakulteit Opvoedkunde, sal dié wisselwerking die fakulteit se navorsingsaktiwiteite versterk deurdat akademici hul kundigheid en ervaring deurlopend tot gesamentlike projekte sal bydra. Etiese goedkeuring sal, binne die toepaslike riglyne, ook die weg baan vir die verspreiding van navorsingsbevindinge aan ʼn breër gehoor.
Die beoogde navorsingsuitkomste sal onder meer deur akademiese artikels en publikasies met die akademiese gemeenskap gedeel word. Die bevindinge sal terselfdertyd praktiese waarde ontsluit deur SOS se beplanning van intervensies by skole te ondersteun en die Fakulteit Opvoedkunde van insigte te voorsien waarmee aanvanklike onderwysersopleidingstrategieë verfyn en verbeter kan word.
Die samewerking bied voorts geleenthede vir nagraadse studente om by bestaande navorsingsprojekte betrokke te raak of selfs die grondslag vir nuwe projekte te lê. Só kan die vennootskap nie net tot kennisontwikkeling bydra nie, maar ook studente se navorsingservaring en akademiese ontwikkeling bevorder.
Kennis wat die weg na beter onderwyspraktyk baan
Die uiteindelike oogmerk van die vennootskap strek verder as die ontwikkeling en publikasie van nuwe kennis. Akademia en SOS wil deur hul gesamentlike navorsingsaktiwiteite ʼn volhoubare bydrae tot die verbetering van onderwys in Suid-Afrika lewer.
“Navorsing en onderrig loop hand aan hand; die een kan nie sonder die ander bestaan nie. Navorsing oor onderrigkwessies werp lig op bestaande praktyke en help om maniere te identifiseer waarop onderrig daadwerklik en toekomsgerig verbeter kan word,” sê Hay.
Hy spreek verder die hoop uit dat dié samewerking stelselmatig tot die verbetering van die nasionale onderwysstelsel sal bydra. Dit sluit die verdere ontwikkeling van Afrikaanse onderwys in, asook die moontlikheid dat die kennis en insigte wat uit die projekte voortvloei, ʼn positiewe uitkringeffek na ander skoolkontekste kan hê.
Vir Akademia bied hierdie navorsing boonop ʼn geleentheid om sy onderwyseropleiding deurlopend aan te pas by die veranderende behoeftes en uitdagings van die praktyk. Die data en insigte wat uit navorsingsprojekte in skole na vore kom, kan waardevolle rigtingwysers bied vir die verdere ontwikkeling van toekomstige onderwysers.
“Die vennootskap verteenwoordig daarom meer as net ʼn formele ooreenkoms. Dit is ʼn uitnodiging om saam vrae te vra, kennis te verdiep en oplossings te ondersoek – met die oog op ʼn onderwyspraktyk wat beter toegerus is vir die uitdagings van vandag én die moontlikhede van môre,” meen Hay.

Akademia-skenkingsfonds
Eerste Nasionale Bank
Rekeningnommer: 62857561445
Takkode: 210554
Verwysing: Jou selfoonnommer
Voeg die volgende klousule tot jou testament by. (Vervang self die bedrag.)
Ek bemaak ʼn kontantbedrag van R100 000.00 (Eenhonderd Duisend Rand) aan AKADEMIA MSW met registrasienommer: 2005/024616/08 geregistreer by die Departement van Hoër Onderwys en Opleiding as ʼn privaat hoëronderwysinstelling ingevolge die Wet op Hoër Onderwys, 1997 onder registrasienommer: 2011/HE08/005.
Laat jou besonderhede hieronder dan sal ‘n skenkingsfondsbestuurder met jou kontak maak.
083 254 0142
skenking@akademia.ac.za
Ek sien uit daarna om jou persoonlik te ontmoet en jou unieke bydrae en nalatenskap te bespreek.