*Die Paarl-kampus is voorlopig goedgekeur

Pioniers in eie reg: Akademia huldig eerste Paarl-studenteraad in

Gepubliseer op:  6 Augustus 2026

Geskiedenis is gemaak toe Akademia se Paarl-kampus sy eerste studenteraad (SR) tydens ʼn spoggeleentheid op 5 Augustus 2026 ingehuldig het. Inge Bosch sal as SR-voorsitter saam met dié groep pionierstudenteleiers ʼn opwindende nuwe hoofstuk vir die kampus inlui.

ʼn Aand van simboliek en samesyn

Die inhuldigingsgeleentheid was ʼn besonderse aand van samesyn en simboliek waartydens die nuutverkose SR-lede hul verantwoordelikhede vir die 2026/2027-termyn amptelik in die midde van hul ouers, Akademia-personeel en medestudente aanvaar het. Onder die gaste was dr. Heleen Coetzee, hoof van Studentesake, en prof. Gawie du Toit, hoof van die Paarl-kampus.

Die aand se program was ryk aan Akademia-tradisie. Bosch het ʼn intreetoespraak gelewer, waarna elkeen se SR-naambalkies oorhandig is. Die mans het ook ʼn Akademia-das en die dames ʼn syserp ontvang. Die oorhandiging van ʼn verligte fakkel aan elke studenteleier het die simboliek van die geleentheid verder beklemtoon. Die lig verteenwoordig die passie en toewyding waarmee hulle hul leierskap sal uitleef, terwyl dit herinner aan hul roeping om gedurende hul dienstydperk rigting te gee, ander te inspireer en hoop te bring. Die amptelike verrigtinge is met die seënbede, Psalm 134, afgesluit, waarna ʼn heildronk op dié Fontie-leiers ingestel is.

Studenteleierskap getuig van ʼn klassieke tradisie

Aan universiteite wêreldwyd word studente al geslagte lank deur verkose studenterade verteenwoordig. Die doel van hierdie leierskapsgroepe is om as skakel tussen die studentegemeenskap en die instelling te dien, studentebelange te behartig en die tradisies van die een jaargroep na die volgende oor te dra. Gevolglik berus die bestaan van diesulke rade op ʼn eenvoudige, maar belangrike oortuiging, naamlik dat studente nie bloot deelnemers aan die studentegemeenskap is nie, maar ook medeargitekte van die vorming en toekoms daarvan is.

By Akademia, wat in die klassieke universiteitswese begrond is en na die ware, die goeie en die skone streef, kry die SR verder gestalte in dienende leierskap. Die SR is daarom nie nét ʼn bestuurstruktuur nie, maar ook ʼn groep studente wat die instelling se waardes uitleef – van koshuislewe en verenigings tot sport, kuns en kultuur asook gemeenskapsbetrokkenheid. Op hierdie manier help die studenteleiers om die instelling se vormingstrewe vir elke Fontie ʼn werklikheid te maak.

Die SR staan egter nie alleen in hul taak nie. As deel van dieselfde verkiesingseisoen is huiskomitees (HK’s) ook vir die Paarl-kampus se vier nuutgevestigde koshuise – Huis Suikerbos, Huis Seder, Huis Waterlelie en Huis Bergsig – verkies. Hierdie strukture, saam met verskeie ander substrukture, neem gesamentlik verantwoordelikheid vir die kampus se studentelewe.

Volgens dr. Heleen Coetzee, hoof: Studentesake by Akademia, verteenwoordig die inhuldiging van ʼn eerste SR die beginpunt van amptelike studenteleierskap op ʼn kampus. “Dit is vir ons ʼn groot voorreg om te sien hoe hierdie kampus se studentelewe nou sy eie verkose leiers het. Van vandag af kom die stem wat rigting gee van die studente self, en ons kan nie wag om hul groei en vorming gedurende die termyn dop te hou nie,” sê Coetzee.

Op sy beurt beskou Douard d’Assonville, bestuurder: Studentesake in die Paarl, hierdie inhuldiging as ʼn kroningsoomblik in die eerste vestigingsjaar van die kampus.

“Dit is geskiedkundig om hier te mag staan en te besef dat Akademia so kort na sy koms in die Paarl, die voorreg het om ses Fontie-leiers te mag inhuldig. Hierdie studenteleiers neem hul vormingstaak en opdrag ernstig op en sien daarna uit om ʼn georganiseerde, opbouende en unieke studentelewe te skep,” sê d’Assonville.

Leiers wat toekomsboustene neerlê

Vir Bosch en die nuwe SR-lede lê ʼn vestigingsopdrag voor: om die kultuur en tradisies te help vorm wat toekomstige Wes-Kaapse Fonties eendag hul eie sal noem.

Met behulp van die reeds gevestigde studenteleierskapstrukture op die Pretoria-kampus sal die Paarl-SR toegerus word om die Akademia-tradisie in hul eie geledere uit te bou en te vestig.

Vir Bosch self is die maatstaf vir haar termyn eenvoudig: om ʼn diensbare SR te wees wat luister en dan optree.

“Dit sal wonderlik wees as mense oor ʼn jaar sê dat ons nie net ʼn SR was wat probleme geïdentifiseer en opgelos het nie, maar ook een wat in die goeie en mooi oomblikke daar was en dit saam met ons medestudente gevier het. Die hoop is dat ons as SR vir die Paarl-kampusstudente ʼn veilige en toeganklike studentelewe skep waar ons mekaar in goeie en slegte tye dra – ʼn studentelewe vol mooi herinneringe en ʼn sterk Fontie-band vestig. Ons mag dalk nie altyd die regte besluit neem of elke probleem kan oplos nie, maar ons sal ons bes doen om te luister, ʼn oplossing te vind en om daar te wees vir elke student,” sê Bosch.

Die Paarl-SR vir 2026/2027 bestaan uit die volgende lede. Elke lid se portefeulje sal in die komende weke bekendgemaak word:

  • Inge Bosch (voorsitter)
  • Karl-Heinz Göbel
  • Lorelai Victor
  • Megan Miller
  • Merwe Wessels
  • Stiaan Coetzee

Akademia wens elke nuwe studenteleier voorspoed toe vir die termyn wat voorlê. Mag elkeen gedurende hul termyn daarin slaag om ʼn ware verskil te bewerkstellig en só toekomsboustene vir die Paarl-kampusgemeenskap neer te lê.

Wil jy ook Akademia jou studietuiste maak in 2027? Studieaansoeke is oop.

Inge Bosch is die Paarl-kampus se eerste SR-voorsitter.
Die Paarl-studenteraad vir die 2026/2027-termyn, van links voor: Lorelai Victor, Inge Bosch (voorsitter) en Merwe Wessels. Agter van regs: Karl-Heinz Göbel, Stiaan Coetzee en Megan Miller.

Direkte inbetaling: Bankbesonderhede

Akademia-skenkingsfonds

Eerste Nasionale Bank

Rekeningnommer: 62857561445

Takkode: 210554

Verwysing: Jou selfoonnommer

Testamentêre bemaking

Voeg die volgende klousule tot jou testament by. (Vervang self die bedrag.)

Ek bemaak ʼn kontantbedrag van R100 000.00 (Eenhonderd Duisend Rand) aan AKADEMIA MSW met registrasienommer: 2005/024616/08 geregistreer by die Departement van Hoër Onderwys en Opleiding as ʼn privaat hoëronderwysinstelling ingevolge die Wet op Hoër Onderwys, 1997 onder registrasienommer: 2011/HE08/005.

Laat jou besonderhede hieronder dan sal ‘n skenkingsfondsbestuurder met jou kontak maak. 

Zander Botha: Skenkingsfondsbestuurder

083 254 0142
skenking@akademia.ac.za

Ek sien uit daarna om jou persoonlik te ontmoet en jou unieke bydrae en nalatenskap te bespreek.