Mansdaghuis | Paarl-kampus
Die Paarl is knus omring deur pragtige berge wat aan die landskap sy kenmerkende karakter en grootsheid verleen. Hierdie berge, altyd sigbaar en standvastig, vorm die agtergrond van Huis Bergsig en sy alledaagse studente-ervaring. Die valk op dié koshuis se handelsmerk is ʼn majestueuse voël wat hoog bokant die bergkruine sweef en bekend is vir sy skerp blik en vryheid. Die koshuishandelsmerk se kleurpalet van berggroen en lugblou is geïnspireer deur die bergreeks se groen natuurskoon en die blou lug waarin die valk klief.
Koshuisouer
KOBIE KRAUSE || Beampte: Sport
Vir Krause is Huis Bergsig ʼn mansdaghuis waar verbondenheid nie vanselfsprekend is nie, maar doelbewus gekies word. “Die manne van Huis Bergsig stap elkeen hul eie pad, maar kies om deel te wees van ʼn gemeenskap vanwaar hulle saam kan bou aan iets groter as hulself,” sê Krause. Deur tradisies soos saam eet ná vergaderings en die dra van hul kenmerkende formele drag, word ʼn kultuur van trots en samesyn gevestig. Die bande wat hier gevorm word, skep nie net ʼn gevoel van behoort nie, maar bou ook ʼn netwerk wat deure vir die toekoms kan oopmaak. Huis Bergsig is ʼn blywende nalatenskap van broederskap.
Algemene vrae
WAT IS ʼN DAGHUIS?
Die doel van ʼn daghuis is om vir studente wat deel van Akademia se voltydse kampusmodel is, maar nie in ʼn inwoonkoshuis bly nie, die geleentheid te bied om die pret van die koshuis- en studentelewe te geniet. Sodoende kan die studente koshuisaksies, dinees en alle kultuur- en sportfunksies van die daghuis bywoon en deel vorm van ʼn unieke en besondere koshuiskultuur.
WAAROM MOET EK DEEL WEES VAN ʼN DAGHUIS?
Die waarde van daghuise is onskatbaar. By Akademia word die klem sterk geplaas op die instelling se klassieke vormingsideaal wat die vorming van die denke én hart behels. Koshuise word doelgerig as ʼn platform gebruik om dié vorming te fasiliteer.
WAAR IS DIE DAGHUIS GELEË?
Die daghuis het nie ʼn spesifieke gebou waar studente saam woon of heeldag moet wees nie. Op die Paarl-kampus is daar ʼn huiskomitee (HK)-kantoor waar studente bymekaar kan kom.
Studenteondersteuning
Kontak ons by studenteondersteuning@akademia.ac.za om die volgende ondersteuning te ontvang:
akademiese stres
tydsbeplanning
uitdagings om aan te pas in die nuwe lewensfase
basiese onderrig-en-leer-ondersteuning
Kontak die koshuisbestuur by paarlkoshuisadmin@akademia.ac.za vir enige navrae.
