*Die Paarl-kampus is voorlopig goedgekeur

Erepenning van SAOU bevestig Akademia se verbintenis tot uitnemende onderwyseropleiding

Gepubliseer op:  29 Junie 2026

Akademia se volgehoue belegging in die opleiding van gehalteonderwysers is op Woensdag 24 Junie 2026 op ʼn betekenisvolle wyse bekroon toe die instelling die Erepenning vir die Bevordering van Uitnemende Onderwysersopleiding vanaf die Suid-Afrikaanse Onderwysersunie (SAOU) ontvang het. Hierdie toekenning verteenwoordig die SAOU se hoogste erkenning en word aan instellings gemaak wat ʼn uitsonderlike bydrae tot die bevordering van onderwys en die uitbou van die Afrikaanse hoëronderwyslandskap in Suid-Afrika lewer. Marthinus Visser, besturende direkteur van Akademia, het die erepenning in ontvangs geneem.

Tydens die oorhandiging het die SAOU by monde van dr. Louis Swanepoel, president, en Paul Sauer, uitvoerende beampte, Akademia geloof vir sy onwrikbare opleiding- en vormingsrol gedurende ʼn tyd waarin die plaaslike onderwysberoep toenemend onder druk verkeer. Swanepoel en Sauer het dit gestel dat die behoefte aan beginselvaste, kundige en waardegedrewe opvoeders nou groter as ooit is en dat die instelling help om onderwysers nie nét akademies toe te rus nie maar ook wat karakter, roepingsbewustheid en professionele integriteit betref.

“Onderwysers wat hul opleiding aan Akademia ontvang, word voorberei om die uitdagings van die moderne onderwysomgewing met onderskeidingsvermoë, selfvertroue en verantwoordelikheid die hoof te bied. Die fokus op moedertaalonderrig, persoonsvorming en waardegedrewe opleiding dra daartoe by dat afgestudeerdes nie net kennis oordra nie, maar ook as mentors, rolmodelle en bouers van hoop binne skole en gemeenskappe optree,” sê Swanepoel en Sauer.

In reaksie op die toekenning van die erepenning het Visser die instelling se diepe dankbaarheid en nederigheid uitgespreek. Hy het daarop gewys dat die SAOU se visie – om ʼn toonaangewende professionele tuiste en gesaghebbende stem in die onderwyssektor te wees – onlosmaaklik verbind is aan die beskikbaarheid van roepingsgedrewe onderwysers.

Visser het dit voorts beklemtoon dat instellings wêreldwyd tans in ʼn krisis verkeer wanneer dit by onderwysersopleiding kom, onder meer as gevolg van reduksionistiese denke, hiperindividualisme, staatlike sentralisme en die relativering van die ware, die goeie en die skone. Teen hierdie agtergrond posisioneer Akademia homself doelbewus en strategies as ʼn instelling wat oplossings wil bied.

“Wat ons onderwysopleiding betref,” het Visser gesê, “kan u weet dat ons, ten koste van die sak en ter wille van die saak, onsself verbind tot dit wat die SAOU se visie as voorwaarde stel, naamlik gehalteonderwyseropleiding.” Hy het verder beklemtoon dat studente wat vormend met kinders moet werk, self gevorm moet word vanuit duidelike lewensbeskoulike vertrekpunte. Gedagtig hieraan bied Akademia byvoorbeeld al sy voorgraadse BEd-programme, naamlik die BEd (Grondslagfase-onderwys) en die BEd (Intermediêre Fase-onderwys), uitsluitlik by wyse van die instelling se voltydse kampusmodel aan. Die Fakulteit Opvoedkunde bied voorts die volgende programme op die nauurse afstandsmodel aan, wat onderwysers die geleentheid bied om hulself akademies verder toe te rus terwyl hul hulself voltyds in die klaskamer besig:

Visser het voorts herbevestig dat Akademia daartoe verbind is om ʼn betroubare vennoot te wees in verdere onderwysstudies, met verskeie nagraadse programme – insluitend nagraadse diplomas, meesters- en doktorsgrade – wat reeds in die pyplyn is.

Ten slotte stel die SAOU dit dat hierdie erepenning tot meer as bloot erkenning vir prestasie spreek. Dit is ʼn tasbare bevestiging van Akademia se rol in die bewaring van kultuur, die vorming van karakter en die skep van ʼn waardige toekomsgerigte hoëronderwysomgewing. Die unie spreek die vertroue uit dat die verhouding tussen die SAOU en Akademia nog vir baie jare tot voordeel van die onderwys in Suid-Afrika sal voortduur.

Die Suid-Afrikaanse Onderwysersunie (SAOU) het Akademia op ʼn betekenisvolle wyse bekroon met die toekenning van die Erepenning vir die Bevordering van Uitnemende Onderwysersopleiding. Teenwoordig tydens die geleentheid was Paul Sauer, uitvoerende beampte: SAOU; Marthinus Visser, besturende direkteur: Akademia en dr. Louis Swanepoel, president: SAOU.

Direkte inbetaling: Bankbesonderhede

Akademia-skenkingsfonds

Eerste Nasionale Bank

Rekeningnommer: 62857561445

Takkode: 210554

Verwysing: Jou selfoonnommer

Testamentêre bemaking

Voeg die volgende klousule tot jou testament by. (Vervang self die bedrag.)

Ek bemaak ʼn kontantbedrag van R100 000.00 (Eenhonderd Duisend Rand) aan AKADEMIA MSW met registrasienommer: 2005/024616/08 geregistreer by die Departement van Hoër Onderwys en Opleiding as ʼn privaat hoëronderwysinstelling ingevolge die Wet op Hoër Onderwys, 1997 onder registrasienommer: 2011/HE08/005.

Laat jou besonderhede hieronder dan sal ‘n skenkingsfondsbestuurder met jou kontak maak. 

Zander Botha: Skenkingsfondsbestuurder

083 254 0142
skenking@akademia.ac.za

Ek sien uit daarna om jou persoonlik te ontmoet en jou unieke bydrae en nalatenskap te bespreek.