*Die Paarl-kampus is voorlopig goedgekeur

Studentelewe pols vir Fonties wat nauurs oor afstand studeer

Gepubliseer op:  26 Junie 2026

Vir Fonties* wat hul studie via Akademia se voltydse kampusmodel in die Paarl óf in Pretoria aanpak, begin hul daaglikse belewenis van die instelling se bruisende studentelewe reeds met die eerste hanekraai. Jy misgis jouself egter as jy dink dat studente wat nauurs en oor afstand studeer nie óók ʼn aktiewe studentelewe ervaar nie. En hoewel hierdie belewenis eers ná kantoorure gedy, getuig dit van ʼn dinamiese gemeenskap en ʼn gekose verbondenheid.

Die nauurse afstandsmodel is pasgemaak vir diegene met vol lewens: werkendes, ouers, entrepreneurs, sportlui en gemeenskapsbouers. Dit bied aan studente die geleentheid om óf by ʼn sentrum in te skakel óf van die instelling se e-leeropsie gebruik te maak. Laasgenoemde verbind dosente en studente in ʼn virtuele leerruimte.

Met hierdie werklikheid in gedagte word die nauurse studentebelewenis gevolglik só ingerig dat dit by elke student se besige leefstyl inpas, en nie andersom nie.

Jy is méér as net ʼn studentenommer

Volgens Elrike Viljoen, beampte: Nauurse studentelewe by Akademia, word die studentelewe vir nauurse studente gebou op ʼn duidelike en strategiese grondslag. Sy beskryf laasgenoemde as die daarstelling van goed ingerigte sentrums dwarsoor die land asook waardetoevoegende aktiwiteite wat studente in staat stel om te floreer. Vorming vind gevolglik plaas nie nét by wyse van uitnemende akademiese ondersteuning nie, maar ook in die tuiskoms as lede van die groter Akademia-gemeenskap. Die boustene van hierdie grondslag bestaan uit dinamiese administratiewe ondersteuning, innoverende tegnologiese hulpbronne, effektiewe toesighouding, moderne infrastruktuur en ʼn eiesoortige studentekultuur.

“Net omdat jy nie jou studie voltyds by een van die kampusse aanpak nie, beteken nie dat ʼn polsende studentelewe nie vir jou beskore is nie. Inteendeel, die Fontie-studente-ervaring, ongeag van watter onderrigleermodel jy volg, is ʼn integrale deel van die groter instellingservaring,” verduidelik Viljoen. Sy voeg by dat studentwees méér as net akademie is, en dat dit ʼn groot vormingsfokus vir elke Fontie ontsluit.

ʼn Gemeenskap van gekose verbondenheid en groei

Wat die instelling se nauurse studentelewe besonders maak, is die klem wat daar op interpersoonlike verbintenisse geplaas word. Viljoen verduidelik dat koffiekuiers, Groot Boeke-gespreksgeleenthede en welstandsessies onder meer ruimte vir gesprek, refleksie en ontmoeting skep. Dit is dan ook binne hierdie gemeenskappe waar studente stories deel, idees klankbord en mekaar beter leer ken – nie net as medestudente nie, maar as lewenslange vriende en toekomsgerigte lede van ontluikende professionele netwerke.    

Gemeenskapsinisiatiewe soos die Oop hart en hand-projek bied aan deelnemende studente die geleentheid om nie nét te ontvang nie, maar óók terug te gee. Op die manier tree nauurse Fonties na vore as ambassadeurs van hoop en sosiaal-verantwoordelike gemeenskapslede.

Volgens Viljoen neem gemeenskapsbetrokkenheid verskillende vorme aan, en wissel van Akademia-eie inisiatiewe (soos die Oop hart en hand-projek), betrokkenheid by bestaande gemeenskapsprojekte van verskeie niewinsgewende instellings, kerke en skole, asook diensbaarheidsdade deur as vrywilligers op te tree.

Nauurse Fonties is aktief betrokke: van sport tot debat en ook kultuur

Studentelewe by Akademia gebeur nie nét in gesprekke nie, maar deur daadwerklike aksie en betrokkenheid – iets wat ook waar is van die nauurse studentelewe. Fonties van oraloor neem aktief deel aan sport- en sosiale aktiwiteite oor verskeie sentrumnetwerke heen. Hierdie aktiwiteite wissel van georganiseerde sportgeleenthede tot informele byeenkomste wat vriendskappe versterk en mededingendheid op ʼn gesonde manier aanwakker. Sportsoorte waaraan aktief deelgeneem word sluit onder meer in aksienetbal, draf, padel, pikkelbal en stap.

Op die kultuurfront rus nauurse Fonties ook nie op hul louere nie. Soos ook die geval is met die voltydse kampusmodel, staan kultuuraktiwiteite soos debatsvoering sentraal tot die nauurse studentelewe.

Aanlyn debatte skep nie net ruimte vir kritiese denke, meningsvorming en die uitruil van idees nie, maar dra ook by tot die instelling se vormingsideaal. Viljoen noem dat die nauurse debatsspan nie net baie goed vaar nie, maar boonop uit studente van buite die landsgrense bestaan. “In die finale ronde van die debatskompetisie het een van die studente al die pad vanuit Portugal deelgeneem, ʼn prestasie wat nie net tot die gewildheid van dié aanlyn aktiwiteit spreek nie, maar ook tot die passie van die nauurse afstandstudente,” sê Viljoen.

Volgens Viljoen maak ʼn dinamiese aanlyn gemeenskap (ook genoem die A-gemeenskap) dit verder vir Fonties wat geografies ver van mekaar af is moontlik om moeiteloos bymekaar in te skakel. Die meer as 30 aanlyn groepe verteenwoordig volgens Viljoen ʼn hutspot van aktiwiteite, hetsy akademies óf sosiaal. Laasgenoemde sosiale aktiwiteite sluit aanlyn vasvra-aande, ʼn boekklub, welstandsessies en selfs Noot vir noot-uitdagings in.

Die nauurse studentelewe word ingekleur deur ʼn groot verskeidenheid aktiwiteite – in persoon by Akademia se sentrumnetwerk óf aanlyn.

ʼn Toegewyde span

Beide die instelling se onderrigleermodelle word goed verteenwoordig in die studenteraad (SR). In die geval van die nauurse studentelewe speel Luné du Plessis en Nerine van der Walt ʼn aktiewe rol om studente se belange te verteenwoordig en aktiwiteite van stapel te stuur wat betrokkenheid en samehorigheid bevorder. Dit bevestig volgens Viljoen net weereens dat nauurse afstandstudente nie randfigure is nie, maar eerder volwaardige deelnemers aan die Akademia-gemeenskap.  

Luné du Plessis en Nerine van der Walt verteenwoordig nauurse Fonties op die studenteraad (SR).

Du Plessis en Van der Walt word in hul taak ondersteun deur die nauurse- uitvoerende komitee (UK), bestaande uit: vyf ander nauurse studente.

Die nauurse uitvoerende komitee (UK) bestaan uit Albert Cloete (Paarl), Arnold Ras (Bloemfontein), Carli Els (Moot), Estiaan Bakkes (Bloemfontein) en Matthew Olivier (Moot).

Leer gebeur nie nét in die lesinglokaal nie

Akademia se nauurse studentelewe is uiteindelik veel meer as ʼn lys aktiwiteite of byeenkomste. Dit is ʼn bewuste bou van behoort, ʼn ruimte waar studente gesien, gehoor en ondersteun word. Dit is ʼn gemeenskap wat verstaan dat leer nie net in lesings gebeur nie, maar ook in gesprekke, verhoudings en gedeelde ervarings.

Viljoen sluit af deur te sê dat afstand nie afwesigheid veronderstel nie. Inteendeel, die nauurse studentelewe skep vindingryke maniere om Fonties oor sentrums, stede, provinsies en selfs landsgrense met mekaar te verbind.

*Fonties verwys na studente wat aan Akademia studeer. Dié eienaam is afgelei uit die instelling se leuse, Ad futurum per fontes – vanuit die bronne na die toekoms .

Direkte inbetaling: Bankbesonderhede

Akademia-skenkingsfonds

Eerste Nasionale Bank

Rekeningnommer: 62857561445

Takkode: 210554

Verwysing: Jou selfoonnommer

Testamentêre bemaking

Voeg die volgende klousule tot jou testament by. (Vervang self die bedrag.)

Ek bemaak ʼn kontantbedrag van R100 000.00 (Eenhonderd Duisend Rand) aan AKADEMIA MSW met registrasienommer: 2005/024616/08 geregistreer by die Departement van Hoër Onderwys en Opleiding as ʼn privaat hoëronderwysinstelling ingevolge die Wet op Hoër Onderwys, 1997 onder registrasienommer: 2011/HE08/005.

Laat jou besonderhede hieronder dan sal ‘n skenkingsfondsbestuurder met jou kontak maak. 

Zander Botha: Skenkingsfondsbestuurder

083 254 0142
skenking@akademia.ac.za

Ek sien uit daarna om jou persoonlik te ontmoet en jou unieke bydrae en nalatenskap te bespreek.