*Die Paarl-kampus is voorlopig goedgekeur
Gepubliseer op: 17 Junie 2026
Geskryf deur Moreen Coetzee, dosent: Professionele Studies aan Akademia se Fakulteit Opvoedkunde
Die vraag of dit beter is om geliefd, gevrees of vertrou te word, spreek tot die kern van menslike verhoudings, karakter en gesag. Dit is nie bloot ʼn abstrakte filosofiese vraag nie, maar een wat sigbaar word in alledaagse ruimtes, selfs in die dinamika van ʼn werksplek.
In ʼn onlangse gesprek met ʼn vriend is ʼn eenvoudige vraag gevra: Hoe sou jou vriende jou beskryf? Op die oog af is dit ʼn redelike maklike vraag, veral een wat binne die veiligheid van gevestigde verhoudings beantwoord kan word. Tog het dit by my ʼn ander, minder gemaklike vraag ontlok: Hoe sou my werkskollegas my beskryf? Hoe word ek gesien buite die gemaksone van vriendskap, en eerder binne die druk en kompleksiteit van ʼn professionele omgewing, waar persepsies gevorm word deur prestasie, verwagting en subtiele magsdinamika?
Hierdie vraag het gevolglik ʼn besondere betekenis gekry toe ek op ʼn dag verby ʼn personeelbord stap en ʼn kollega se opmerking oor my raaklees: “She’s got style, she’s got grace … she’s a winner! Sy is veerkragtig en leef voluit volgens haar waardes.” Wat my getref het, was nie die lof self nie, maar eerder die aard daarvan. Dit was nie ʼn generiese kompliment oor vriendelikheid of voorkoms nie, maar ʼn eerlike erkenning van iets minder sigbaar: Karakter. In ruimtes waar baie van ʼn mens se werk en persoonlike worsteling onsigbaar bly, het hierdie woorde iets bevestig wat moeiliker is om te meet, naamlik dat integriteit, selfs onder druk, tóg helder deurskyn.
Erkenning en vertroue
In die komplekse landskap van menslike verhoudings bestaan daar ʼn voortdurende spanning tussen die behoefte om erken te word, en die dieper behoefte om vertrou te word. Waar liefde dikwels as die hoogste vorm van verbondenheid beskou word, wys die werklikheid van menslike ervaring dat liefde sonder vertroue broos en onbestendig is. Wanneer die perspektiewe* van Leo Tolstoy, Fyodor Dostoevsky en Oscar Wilde saamgelees word, ontvou ʼn meer komplekse beeld van wat dit beteken om nie net met ander nie, maar ook met jouself eerlik te leef.
Die pragmatisme van vrees teenoor die etiese visie van vertroue
Hierdie ervaring bring my terug by ʼn eeueoue vraag, gestel deur Niccolò Machiavelli: Is dit veiliger om gevrees te word as om geliefd te wees? Alhoewel hierdie siening ʼn sekere pragmatiese aantrekkingskrag het, veral binne strukture van mag en prestasie, bly dit uiteindelik onbevredigend. Dit spreek tot beheer, maar nie tot karakter nie; tot stabiliteit, maar nie tot waarheid nie.
Machiavelli stel in The Prince dat dit ideaal is vir iemand in ʼn magsposisie om beide geliefd én gevrees te wees, maar indien ʼn keuse noodsaaklik is, is dit veiliger om gevrees te word. Hierdie standpunt, geskryf vanuit die isolasie van sy ballingskap, is nie ʼn viering van wreedheid nie, maar eerder ʼn uitdrukking van politieke realisme. In ʼn wêreld waar lojaliteit wispelturig is, bied vrees tog ʼn meer stabiele grondslag vir orde as liefde, maar die “respek” wat hieruit spruit, berus op gehoorsaamheid eerder as innerlike oortuiging. Watter soort menslikheid word dan gevorm wanneer vrees die grondslag van orde word?
Dit is juis hier waar ek myself meer aangetrokke vind tot die denke van Leo Tolstoy en die insig van George MacDonald: “To be trusted is a greater compliment than to be loved.” Vertroue berus op iets dieper as blote emosie. Dit word nie deur impuls gerig nie, maar deur die doelbewuste beoefening van konsekwentheid en eerlikheid oor tyd. Waar liefde soms impulsief en veranderlik is, word vertroue steen vir steen opgebou deur karakter, konsekwentheid en morele geloofwaardigheid. Om vertrou te word, beteken dat ander jou as stabiel en voorspelbaar ervaar, nie perfeksie nie, maar dat jou dade en karakter ooreenstem, sélfs in die afwesigheid van ander. Dit ís die hoogste vorm van respek, omdat dit integriteit bó blote sosiale nut plaas.
Die satiriese spieël van die moderne era
In ons kontemporêre wêreld word hierdie soeke na integriteit dikwels vervang deur ʼn soort performatiewe deugsaamheid. Ons leef in ʼn era waar die “Underground Man” van Dostoevsky waarskynlik ʼn anonieme X-rekening sou hê om sy gal te braak, terwyl Dorian Gray sy siel aan ʼn Instagram-filter sou verkoop in ruil vir ʼn paar duisend “likes”.
Dit is die uiteindelike satire van die moderne bestaan: Ons bestee tyd en hulpbronne aan persoonlike handelsmerke en leierskapseminare om te leer hóé om betroubaar te lyk, terwyl ons gerieflik vergeet dat die moeilikste deel van integriteit eintlik is om betroubaar te wéés. Ons probeer die self verfyn met stelsels en toepassings, asof karakter ’n produk is wat geoptimaliseer kan word sonder enige innerlike koste. Laasgenoemde is nogal ʼn oppervlakkige alternatief vir wat eerder verstaan behoort te word as die stadige en kunstige bouwerk van ʼn innerlike argitektuur van die siel.
Die sielkundige onderstroming en die skyn van integriteit
Dostoevsky tree egter na vore as die kritiese stem wat die spanning én beperkings in beide hierdie beskouings ontbloot. In Notes from the Underground en Crime and Punishment word die mens as innerlik verdeeld en selfs selfvernietigend uitgebeeld. Dostoevsky, wat ook die koue realiteit van ballingskap geken het, waarsku teen die prys van Machiavelli se “redding”, waarin beheer en manipulasie die oorhand kry. Die individu wat ander probeer oorheers, verval uiteindelik self in isolasie. Integriteit word hier nie net ʼn etiese eis nie, maar ʼn innerlike stryd tussen wie ons is en wie ons probeer word Hierdie spanning resoneer met klassieke beskouings van die siel, soos by Plato, waar rede, ambisie en begeerte in spanning verkeer – ʼn spanning wat, sonder ordening deur integriteit, tot morele disintegrasie lei.
Wilde voeg ʼn verdere dimensie by deur te eggo hoe hierdie spanning in die praktyk kan ontspoor. In The Picture of Dorian Gray word die gevaar van skyn ontbloot: Dorian besit uiterlike bewondering, maar geen ware integriteit nie. Sy uiterlike skoonheid word ʼn masker vir innerlike verrotting wanneer die siel onherstelbaar misvorm word deur die narsisme van weelde en ydelheid. Sonder integriteit word vertroue onmoontlik, en liefde vervlak tot oppervlakkige illusie.
Die simbiose van waardes en die finale toets
Tog funksioneer liefde en vertroue ideaal gesproke in ʼn soort simbiotiese verhouding. Waar vrees beheer, skep vertroue ruimte vir vryheid. Die uiteenlopende kontekste van hierdie skrywers, van ballingskap tot weelde, dien as ʼn spieël: Manipulasie mag korttermynoorlewingsmeganismes wees, maar dit ondermyn die grondslag van menswaardigheid. Onderliggend aan hierdie verskillende perspektiewe lê ʼn dieper morele samehang waarsonder selfs die sterkste verhoudings uiteindelik broos word.
Integriteit vorm die beginpunt van ʼn morele ketting waaruit eerlikheid, vertroue en uiteindelik liefde voortvloei. Waar hierdie ketting funksioneer, ontstaan veiligheid en verbondenheid. Waar integriteit faal, breek dit: Eerlikheid word manipulasie, vertroue word wantroue, en liefde word vrees of onderdanigheid. Integriteit is dus nie bloot ʼn deug nie, maar die strukturele voorwaarde vir menslike verbondenheid.
Uiteindelik word die soeke na mag en die vlug van kwesbaarheid vasgevang in ʼn universele morele paradoks. Die werklike vraag is nie bloot wat ʼn mens bereik nie, maar wíé ʼn mens word in die proses om sukses na te streef. In plaas daarvan om onsself te meet aan die uiterlike telkaart van status en publieke bewondering, vra die behoud van die self ʼn radikale eerlikheid teenoor ʼn innerlike maatstaf – een wat gevorm word deur integriteit en konsekwentheid, die vermoë om getrou te bly aan eie beginsels, selfs wanneer dit ongemaklik is en die res van die wêreld bereid is om die reëls te buig.
Ware sukses, in hierdie sin, lê nie in oorheersing of erkenning nie, maar in die kwaliteit van ʼn mens se invloed: Die vermoë om opregte respek te verdien eerder as blote bewondering; om eerlike kritiek te ontvang sonder om integriteit prys te gee; om skoonheid raak te sien en die beste in ander te soek; en om, al is dit op klein en dikwels ongesiene maniere, die wêreld effens beter te laat as wat dit gevind is. Dit is ʼn vorm van sukses wat nie gemeet word aan omvang nie, maar aan die diepte van menslikheid, aan die stille werklikheid dat iemand anders se lewe ligter geraak het omdat jý daarin was.
Tog bly hierdie ideaal onvolmaak in die werklikheid van die werksplek en die alledaagse lewe. Mense ervaar ons op verskillende maniere. Sommige vertrou ons, ander nie; sommige waardeer ons, ander bly krities. Integriteit vra nie perfeksie of universele aanvaarding nie. In die werksplek lyk dit minder soos ’n idee en meer soos iets wat mense oor jou begin opmerk – of nie opmerk nie. Dit is die bereidheid om verantwoordelikheid vir jou optrede te neem, uit jou foute te leer en steeds getrou te bly aan jou waardes met die wete dat jy nie ʼn voltooide mens is nie, maar iemand wat voortdurend gevorm word deur hóé jy leef.
Hierdie begrip van sukses bring die fokus terug na die essensie van menslike integriteit: ʼn Lewe wat nie net uiterlik slaag nie, maar een wat innerlik standhou. Miskien lê menslike volwassenheid nie in beheer of bewondering nie, maar in eenvoud en egtheid, aan ʼn stil weerstand teen die gekunstelde kompleksiteite van ʼn magsbehepte wêreld. Miskien gaan dit uiteindelik nie oor hoe ons onsself beskryf nie, maar hoe ons sonder inspanning gelees word deur ander. Hier verskuif die maatstaf: Nie na wat mense oor ons sê nie, maar na die karakter wat stadig gevorm word in die ruimtes waar niemand kyk nie. En tog, wanneer mense wél iets sê, dit sal getuig van ʼn karakter wat nie vir vertoon gebou is nie, maar vir waarheid. Daardie oomblik by ’n personeelbord het langer by my gebly as wat ek sou verwag. Nie omdat dit my definieer nie, maar omdat iemand iets raakgesien het en dit net eenvoudig gesê het,… en ek besef hoe onverwags mens soms deur ander se oë gesien word…..
In Matteus 16:26 word dié belangrikheid en finale morele waarheid beklemtoon: “Want wat baat ’n mens as hy die hele wêreld oorwin, maar aan sy siel skade ly? Of wat sal ’n mens gee as losprys vir sy siel?”
*Die werke van Fyodor Dostoevsky (Notes from the Underground), Leo Tolstoy (The Death of Ivan Ilyich) en Oscar Wilde (The Picture of Dorian Gray) vorm deel van Akademia se Groot Boeke-projek vir die 2026- akademiese jaar. Die projek, gefasiliteer deur die NP van Wyk Louw-sentrum, staan in die tradisie van die vrye kunste en moedig personeel en studente aan om deur die bestudering van kerntekste uit die Westerse literêre tradisie oor die fundamentele “hoekom-vrae” van die menslike bestaan te dink.

Akademia-skenkingsfonds
Eerste Nasionale Bank
Rekeningnommer: 62857561445
Takkode: 210554
Verwysing: Jou selfoonnommer
Voeg die volgende klousule tot jou testament by. (Vervang self die bedrag.)
Ek bemaak ʼn kontantbedrag van R100 000.00 (Eenhonderd Duisend Rand) aan AKADEMIA MSW met registrasienommer: 2005/024616/08 geregistreer by die Departement van Hoër Onderwys en Opleiding as ʼn privaat hoëronderwysinstelling ingevolge die Wet op Hoër Onderwys, 1997 onder registrasienommer: 2011/HE08/005.
Laat jou besonderhede hieronder dan sal ‘n skenkingsfondsbestuurder met jou kontak maak.
083 254 0142
skenking@akademia.ac.za
Ek sien uit daarna om jou persoonlik te ontmoet en jou unieke bydrae en nalatenskap te bespreek.