*Die Paarl-kampus is voorlopig goedgekeur
Gepubliseer op: 11 Junie 2026
Geskryf deur Tersia Myburgh, dosent: Professionele Studies aan Akademia se Fakulteit Opvoedkunde
Die boustene vir toekomssukses word reeds in die sandput neergelê. Dié stelling klink amper té eenvoudig vir ʼn wêreld waar kinders voortdurend voorberei word vir prestasie, assesserings en sukses. Tog herinner Internasionale Speeldag, wat jaarliks op 11 Junie gevier word, ons aan ʼn waarheid wat dikwels onderskat word: Speel is nie blóót ontspanning nie – dit is een van die belangrikste maniere waarop kinders ontwikkel, leer en hul plek in die wêreld ontdek.
Volgens UNICEF is spel noodsaaklik vir ʼn kind se kognitiewe, sosiale, emosionele en fisiese ontwikkeling. Wanneer kinders speel, ontwikkel hulle nie net vaardighede nie; hulle bou selfvertroue, kweek probleemoplossingsvermoë, gee uiting aan hul kreatiwiteit en word met veerkragtigheid toegerus. In kort, eienskappe en vaardighede wat hulle vir die res van hul lewe gaan gebruik. Juis om hierdie rede vind die belangrikste bouwerk dikwels reeds op die speelgrond plaas.
Speel as ʼn medium vir diepgaande leer
Vir volwassenes lyk speel soms eenvoudig: ʼn kind wat blokkies stapel, modderkoekies bak of “huis-huis” speel. Dit is egter belangrik om te besef dat daar tydens hierdie oomblikke diepgaande leer plaasvind – ʼn kind wat in ʼn sandput speel, eksperimenteer met balans, tekstuur, taal, sosiale interaksie en selfs vroeë wiskundige konsepte. Wanneer kinders hul eie speletjies uitdink, leer hulle om besluite te neem, konflik op te los en hulle verbeelding te gebruik.
Trouens, die rede waarom die speelgrond dalk belangriker as die klaskamer is, is omdat speel kinders voorberei vir méér as net akademiese sukses. Die speelgrond leer kinders om beurte te maak, risiko’s te bestuur, op te staan nadat hulle geval het en met ander saam te werk. Dit leer hulle om kreatief te dink in ʼn wêreld wat toenemend goedgevormde mense nodig het wat kan aanpas, innoveer en empatie toon.
Ongestruktureerde spel as ʼn hoeksteen
In ʼn tyd waar kinders se dae maklik oorvol raak met skerms, aktiwiteite en gestruktureerde programme, raak vryspel al skaarser. Baie ouers voel die druk om hul kinders konstant besig en voorbereid te hou vir die toekoms, maar ironies genoeg word sommige van die belangrikste boustene vir daardie toekoms juis tydens ongestruktureerde spel ontwikkel.
Die goeie nuus is egter dat betekenisvolle spel nie duur of ingewikkeld hoef te wees nie. Van modderkoekies en blokkies tot komberse wat in skuilings (tente en forte) verander – dikwels lê die belangrikste bouwerk in die eenvoudigste oomblikke.
Wanneer ons kinders die ruimte gee om te speel, gee ons hulle die ruimte om te groei, te ontdek en selfvertroue te ontwikkel. In oomblikke van hardloop, bou, klim, verbeel en lag, word die vaardighede gevorm wat hulle eendag sal help om probleme op te los, verhoudings te bou en die wêreld met kreatiwiteit en veerkragtigheid tegemoet te gaan.
Internasionale Speeldag herinner ons daaraan dat speel nie ʼn luukse of ʼn beloning ná leer is nie – dit ís leer. Die waardevolste bouwerk in ʼn kind se ontwikkeling gebeur lank voordat ʼn toets geskryf of ʼn rapport uitgedeel word, want boustene vir die toekoms word reeds in die sandput neergelê.

Akademia-skenkingsfonds
Eerste Nasionale Bank
Rekeningnommer: 62857561445
Takkode: 210554
Verwysing: Jou selfoonnommer
Voeg die volgende klousule tot jou testament by. (Vervang self die bedrag.)
Ek bemaak ʼn kontantbedrag van R100 000.00 (Eenhonderd Duisend Rand) aan AKADEMIA MSW met registrasienommer: 2005/024616/08 geregistreer by die Departement van Hoër Onderwys en Opleiding as ʼn privaat hoëronderwysinstelling ingevolge die Wet op Hoër Onderwys, 1997 onder registrasienommer: 2011/HE08/005.
Laat jou besonderhede hieronder dan sal ‘n skenkingsfondsbestuurder met jou kontak maak.
083 254 0142
skenking@akademia.ac.za
Ek sien uit daarna om jou persoonlik te ontmoet en jou unieke bydrae en nalatenskap te bespreek.