*Die Paarl-kampus is voorlopig goedgekeur
Gepubliseer op: 7 Mei 2026
Akademia se jaarlikse kwalifikasieplegtigheid is ʼn klassieke én seremoniële viering van prestasie en dien terselfdertyd as ʼn opwindende vooruitwysing na ʼn hoopvolle en vrye toekoms. Vanjaar se plegtigheid het op Donderdag 7 Mei 2026 by die Choose Life-kerk in Pretoria plaasgevind, en tydens dié swierige geleentheid is ʼn rekordgetal van 747 kwalifikasies oor 20 programme toegeken.
ʼn Hoogtepunt van die geleentheid was die aflewering van die instelling se eerste graduandi in onderskeidelik die BEd (Grondslagfase-onderwys)-, BEd (Intermediêre Fase-onderwys)– en BAHons (Kommunikasie en Joernalistiek)-programme.
Volgens Liana van Rooy, Akademia se registrateur, spreek die kwalifikasieplegtigheid tot meer as net die instelling se gesonde groeitrajek. Dit spieël óók sy roepingsgedrewe strewe om ʼn tuiste vir Afrikaanse universiteitswese te wees. “Elke kwalifikasie wat vandag toegeken is, verteenwoordig ʼn nuwe en dinamiese begin: ʼn Bousteen waarop loopbane, roepings en blywende bydraes tot die gemeenskap verder voortgebou sal word,” sê Van Rooy.
Wat die mylpaal van nuwe programgraduandi betref, meen Van Rooy dat dit tot die instelling se stewige en voortdurend ontwikkelende akademiese grondslag spreek. “Akademia is opgewonde oor die blywende impak wat hierdie graduandi tot die Suid-Afrikaanse onderwys- en kommunikasiesektore gaan hê asook die dinamiese gemeenskapsvorming waaraan hulle ʼn deel sal hê,” sê Van Rooy. Sy voeg by dat hierdie eerste afgestudeerde studente nou na vore sal tree as pioniers en rolmodelle, en só die fondasie gaan lê waarop toekomstige studente sal kan voortbou.
Nóg ʼn hoogtepunt van vanjaar se plegtigheid is die toename in ouer studente wat hul kwalifikasie verwerf het. Vanjaar se oudste afgestudeerde student is 62 jaar oud. Hierbenewens het 49 studente bo die ouderdom van 40 ook kwalifikasies verwerf terwyl ʼn totaal van 108 graduandi 30 jaar en ouer is.
Akademiese prestasie as ʼn vormingsgrondslag vir alumni
Elke kwalifikasie wat tydens die plegtigheid toegeken is, is volgens Van Rooy die direkte resultaat van volgehoue akademiese inspanning en persoonlike groei. Hierdie toewyding spieël Akademia se benadering tot hoër onderwys en strek veel verder as die blote oordrag van kennis alleen – dit fokus ook op die vorming van karakter, denke en identiteit.
“Vir elke afgestudeerde student simboliseer die plegtigheid die voltooiing van een boufase én die aanvang van ʼn volgende. Toegerus met akademiese kundigheid en ʼn waardegedrewe grondslag, betree hierdie studente die wêreld as selfstandige denkers en verantwoordelike beroepslui,” sê Van Rooy.
Die kwalifikasieplegtigheid merk ook die simboliese oorgang van student na alumnus. Hierdie tuiskoms is nie fisies óf geografies nie, maar gesetel in ʼn gedeelde identiteit, waardestelsel en verbondenheid aan die Akademia-gemeenskap. As alumni bly afgestudeerdes deel van ʼn netwerk wat samewerking, ondersteuning en voortdurende ontwikkeling bevorder. Alumni speel ʼn onmisbare rol in die voortbou van Akademia se toekoms – hetsy deur mentorskap, loopbaanleiding, beurse of professionele samewerking. Só word die boustene wat tydens studiejare gelê is, verder versterk en uitgebou.
Akademia-applous vir afgestudeerde studente van 2026
Die Akademia-gemeenskap is trots op elke student wat vanjaar hul kwalifikasie ontvang het en sien met vertroue uit na die bydraes wat hierdie alumni in hul beroepe, gemeenskappe en die breër samelewing sal lewer. “Elke afgestudeerde student het nie net ʼn persoonlike akademiese doelwit bereik nie, maar ook in die proses boustene neergelê vir sy of haar toekoms. ʼn Toekoms waarin hoop, vorming en potensiaal hoogty vier,” sluit Van Rooy af.
Besoek gerus Akademia se sosialemediaplatforms vir foto’s en hoogtepunte van die kwalifikasieplegtigheid. Klik hier om meer te lees oor vanjaar se toppresteerders.


Akademia-skenkingsfonds
Eerste Nasionale Bank
Rekeningnommer: 62857561445
Takkode: 210554
Verwysing: Jou selfoonnommer
Voeg die volgende klousule tot jou testament by. (Vervang self die bedrag.)
Ek bemaak ʼn kontantbedrag van R100 000.00 (Eenhonderd Duisend Rand) aan AKADEMIA MSW met registrasienommer: 2005/024616/08 geregistreer by die Departement van Hoër Onderwys en Opleiding as ʼn privaat hoëronderwysinstelling ingevolge die Wet op Hoër Onderwys, 1997 onder registrasienommer: 2011/HE08/005.
Laat jou besonderhede hieronder dan sal ‘n skenkingsfondsbestuurder met jou kontak maak.
083 254 0142
skenking@akademia.ac.za
Ek sien uit daarna om jou persoonlik te ontmoet en jou unieke bydrae en nalatenskap te bespreek.