*Die Paarl-kampus is voorlopig goedgekeur
Gepubliseer op: 14 April 2026
Suid-Afrika spog met wêreldklas swemsterre wat gereeld op internasionale vlak presteer. Van die bekendste name sluit in Olimpiese kampioene Tatjana Smith (gebore Schoenmaker) en Chad le Clos, asook opkomende talent soos Pieter Coetzé en Matthew Sates, wat groot sukses in die swembad behaal. Akademia-eerstejaarstudent, Marlouise Keet (19), droom daarvan om in die toekoms haar naam by hierdie sportlui te voeg, en só nie net trots die groen en goud op haar bors te dra nie, maar óók om swem – as kompeterende sportsoort – by Akademia te laat gedy.
Vir Keet, ʼn boorling van Silverton in Pretoria en ʼn oudleerling van die Hoërskool Menlopark, is dade egter belangriker as drome, en daarom werk sy hard daaraan om haar doelwitte te bereik – akademies asook sportgewys. Keet volg die BEd (Grondslagfase-onderwys)-program op die Pretoria-kampus by wyse van Akademia se voltydse kampusmodel.
Van kampusopedag tot ingeskrewe Fontie
Volgens Keet was sy vasberade om haar studie aan een van die groter openbare universiteite aan te pak, maar het sy van plan verander ná sy die Akademia-kampusopedag in 2025 bygewoon het. “Die Akademia-gasvryheid het my van my eerste oomblik by die kampusopedag beïndruk, en ek het dadelik soos ʼn geliefde familielid gevoel,” onthou Keet. Sy voeg by dat sy daar en dan die besluit geneem het om die instelling haar studietuiste te maak.
Keet kan ook nie uitgepraat raak oor haar eerste studiejaar nie, en geniet die klasdraf terdeë. Haar gunstelingmodules is Praktiese Onderwys en Lewensvaardigheid omdat beide haar meer oor haarself leer en haar só toerus om ʼn goedgevormde onderwyser te wees. “Ek kan nie wag om eendag self voor in ʼn klas te staan nie, en om te weet dat ek ʼn impak op jong kinders se lewens en uiteindelik hul toekoms het,” sê Keet. Sy lig ook haar hoed vir die dosente en personeel verbonde aan die Fakulteit Opvoedkunde en loof hul vir hulle ondersteuning en die manier waarop hulle kennis en ervaring oordra.
ʼn Bruisende studentelewe
Sy vorm deel van Huis Daglelie, damesdaghuis op die Pretoria-kampus, en beskryf haar studentebelewenis as ʼn avontuur van ʼn leeftyd. “Akademia se studentelewe is soos ʼn vars briesie, en ek ag myself bevoorreg om deel te mag hê aan hierdie besonderse belewenis,” sê Keet. Sy gaan voort deur te sê dat die gevoel van behoort en aktiewe deelname iets is wat haar vir altyd sal bybly.
“Almal ondersteun mekaar heelhartig en die studenteraad (SR) en personeel doen baie moeite om seker te maak dat elke student die nodige onderskraging en hulp geniet, en dat studenteaktiwiteite ʼn sukses is,” meen Keet. Sy is ook vol lof vir die manier waarop sy deur die Akademia-gemeenskap in haar swemstrewe ondersteun en aangemoedig word. Keet het vanjaar die Akademia-swemklub op die been gebring en is opgewonde om te help vestig aan dié opkomende studentesportsoort.
Haar lekkerste studente-ervaring tot op hede was die eerstejaarskonsert, veral omdat sy in dié tyd eerstehands ervaar het hoe samesyn en verbondenheid ʼn positiewe impak op ʼn groep kan hê.
Soos ʼn vis in die water
Keet swem al kompeterend vir sewe jaar en het in 2019 haar toetrede tot dié sport gemaak. Sy onderskei haarself as ʼn langafstandswemmer en neem graag deel in die 400 m-vryslag en die 200 m-rugslag.
As deel van die Diadora Aquatics-swemklub, word sy afgerig deur Karien Theron, Ronan Theron, Q-Rize, Sam Straw en Giano Dos Santos – ʼn span waarvoor sy groot waardering het. Sedert haar toetrede tot die sport het sy reeds verskeie prestasies behaal, waaronder deelname aan provinsiale en nasionale swemgalas. Meer onlangs het sy aan die Suid-Afrikaanse Jeugkampioenskappe deelgeneem en in twee kategorieë tot die finaal deurgedring.
“Swem leer my selfdissipline, en ʼn diepe besef dat die verwesenliking van enige droom harde werk en deursettingsvermoë verg,” sê Keet. Sy voeg by dat haar deelname aan dié sport haar ook motiveer om altyd haar beste te gee – in die lewe, in haar studie en in die swembad.
“As dinge moeilik raak, is mense geneig om tou op te gee, maar dit is belangrik om juis dan op jou reeds gevestigde grondslag terug te val en krag te put uit jou waardes, kennis en ervaring,” meen Keet. Dié ingesteldheid is ook iets wat sy graag met haar mede-Fonties deel.
Wil jy soos Keet ʼn loopbaan in onderwys betree? Akademia se studieaansoeke vir die 2027- akademiese jaar is reeds oop. Maak ook ʼn draai by die Pretoria-kampusopedag op 24, 25 en 27 April.


Akademia-skenkingsfonds
Eerste Nasionale Bank
Rekeningnommer: 62857561445
Takkode: 210554
Verwysing: Jou selfoonnommer
Voeg die volgende klousule tot jou testament by. (Vervang self die bedrag.)
Ek bemaak ʼn kontantbedrag van R100 000.00 (Eenhonderd Duisend Rand) aan AKADEMIA MSW met registrasienommer: 2005/024616/08 geregistreer by die Departement van Hoër Onderwys en Opleiding as ʼn privaat hoëronderwysinstelling ingevolge die Wet op Hoër Onderwys, 1997 onder registrasienommer: 2011/HE08/005.
Laat jou besonderhede hieronder dan sal ‘n skenkingsfondsbestuurder met jou kontak maak.
083 254 0142
skenking@akademia.ac.za
Ek sien uit daarna om jou persoonlik te ontmoet en jou unieke bydrae en nalatenskap te bespreek.