*Die Paarl-kampus is voorlopig goedgekeur
Gepubliseer op: 9 April 2026
Akademia se alumni-gemeenskap verteenwoordig méér as net ʼn dinamiese groep afgestudeerde Fonties*. As goed opgeleide beroepslui, gemeenskapsbouers en draers van hoop lewer hulle daagliks ʼn kragtige getuienis dat hul alma mater se vormingsimpak nie by die blote verwerwing van ʼn kwalifikasie eindig nie. Gedagtig hieraan is die jaarlikse Alumni-uitblinkerstoekenning ʼn viering van verbondenheid en ʼn manier waarop die instelling sy hoed lig vir alumni wat hul Akademia-vorming daagliks uitleef en deur hul karakter, diensbaarheid en toewyding ʼn blywende impak verseker.
Hierdie prestigetoekenning, wat vanjaar vir die tweede keer toegeken sal word, is volgens Mareli Swanepoel, bestuurder: Institusionele projekte en ondernemings, ʼn hoogtepunt op die alumni-gebeurlikheidskalender. Volgens Swanepoel strek die reikwydte van die toekenning veel verder as net die onmiddellike Akademia-gemeenskap. Sy verduidelik dat die instelling se alumni nie nét binne die milieu van hul alma mater gereken word nie, maar ook as ambassadeurs van hoop en vernuwing in hul beroepe, gemeenskappe en ander invloedsfere dien.
Akademia se eerste Alumni-uitblinker
In 2025 het Jean-mari Cornelius op ʼn luisterryke wyse tydens die instelling se prestigefunksie met die louere as Akademia se eerste Alumni-uitblinker weggestap. Cornelius, die instelling se eerste dowe alumnus het haar BCom (Ekonomie en Regte)-kwalifikasie in 2024 verwerf via die instelling se nauurse afstandsmodel.
Sy is al vir langer as tien jaar deel van die Deaf Federation of South Africa (DeafSA)-span, waar sy sedert 2018 die posisie van finansiële bestuurder beklee. Dit is dan ook binne hierdie professionele omgewing waar sy haarself toespits op die maatskaplike ontwikkeling van persone in die dowe gemeenskap. Hierdie ontwikkelingsproses lê haar na aan die hart en Cornelius vervul dié roeping met oorgawe en passie. Sy vertel dat dit haar gróót droom is om in die toekoms haar eie finansiële en regshulpkliniek op die been te bring en by wyse van Suid-Afrikaanse Gebaretaal (SAGT) advies en opleiding vir ander gehoorgestremdes te bied. Lees Cornelius se Akademia-storie hier.
Meer oor die toekenning
Die Alumni-uitblinkerstoekenning gee erkenning aan ʼn alumnus wat deur waardegedrewe leierskap, vernuwende en vindingryke denke, asook opregte diensbaarheid, ʼn sigbare en volhoubare verskil in hul gemeenskap maak. “Hierdie toekenning fokus nie uitsluitlik op imposante titels of openbare prestasie nie, maar eerder verantwoordbare rentmeesterskap, volgehoue diensbaarheid en betekenisvolle gemeenskapsbetrokkenheid,” verduidelik Swanepoel. Sy voeg by dat dit juis binne hierdie daaglikse lewenswandel is waar verhale van impak getuig van vorming wat diep wortel geskiet het.
“Deur die kollig op die DNS van Akademia se alumni te plaas, erken die instelling nie net uitnemendheid nie, maar word daar ook op ʼn hoopvolle manier na die toekoms gestreef. Hierdie verhale van sukses en impak inspireer en herinner huidige asook toekomstige Fonties daaraan dat hul stories deel is van iets groter – ʼn lewenslange roeping wat kennis, karakter en diensbaarheid verweef tot ʼn veelkleurige toekomstapisserie met ewigheidswaarde,” sê Swanepoel.
Ken jy ʼn alumnus wat ʼn verskil maak?
Akademia nooi jou hartlik uit om ʼn alumnus te nomineer vir die Alumni-uitblinkerstoekenning 2026 en só rolmodelle vanuit die instelling se eie geledere te vereer.
Die volgende is belangrike inligting:
Die sluitingsdatum vir nominasies is Woensdag 15 April.
Gedagtig aan die motivering, kan die volgende punte as riglyn gebruik word:
Hoe wys die alumnus se lewens- of loopbaanpad persoonlike groei of veerkragtigheid?
“Elke Akademia-alumnus wat met integriteit leef en met oortuiging die boustene vir ons gemeenskap se toekoms neerlê kom in aanmerking vir die toekenning. Die Alumni-uitblinkerstoekenning is ʼn geleentheid om hierdie boustene te erken en te waardeer, en om saam te bou aan ʼn nalatenskap wat veel verder strek as die hier en nou,” sluit Swanepoel af.


Akademia-skenkingsfonds
Eerste Nasionale Bank
Rekeningnommer: 62857561445
Takkode: 210554
Verwysing: Jou selfoonnommer
Voeg die volgende klousule tot jou testament by. (Vervang self die bedrag.)
Ek bemaak ʼn kontantbedrag van R100 000.00 (Eenhonderd Duisend Rand) aan AKADEMIA MSW met registrasienommer: 2005/024616/08 geregistreer by die Departement van Hoër Onderwys en Opleiding as ʼn privaat hoëronderwysinstelling ingevolge die Wet op Hoër Onderwys, 1997 onder registrasienommer: 2011/HE08/005.
Laat jou besonderhede hieronder dan sal ‘n skenkingsfondsbestuurder met jou kontak maak.
083 254 0142
skenking@akademia.ac.za
Ek sien uit daarna om jou persoonlik te ontmoet en jou unieke bydrae en nalatenskap te bespreek.