*Die Paarl-kampus is voorlopig goedgekeur

Naskoolse kwalifikasies ontsluit waardevolle toekomskapitaal

Gepubliseer op:  16 April 2026

Daar is twee brandende vrae wat voornemende studente en hul ouers laat wakkerlê: Is naskoolse studie steeds die moeite werd in hierdie uitdagende ekonomie en sal sodanige kwalifikasies graduandi in die werksplek onderskei? Die antwoord hierop, volgens Liana van Rooy, registrateur by Akademia, is ʼn onomwonde “Ja!”. En die rede hiervoor is die waardevolle toekomskapitaal wat deur naskoolse studie ontsluit word – kapitaal wat in méér as rand en sent getel word.

“In ʼn land waar die voorkoms van werkloosheid groot is, talle Suid-Afrikaners toenemende finansiële druk in die gesig staar, en tegnologie die arbeidsmark herskep is dit verstaanbaar dat voornemende studente en hul ouers skepties kan wees oor naskoolse studie,” meen Van Rooy. Sy voeg by dat hierdie eens vanselfsprekende toekomsbelegging deesdae met ál groter omsigtigheid benader word, en dat daar begrip vir hierdie aarseling is.

Volgens Van Rooy is dit verblywend om te weet dat die werkloosheidsyfer vir plaaslike graduandi met ʼn baccalaureusgraad of hoër tussen 10,3% en 11,8% wissel. Laasgenoemde syfers is aansienlik laer as die algemene jeugwerkloosheidsyfer van meer as 50%, asook die nasionale gemiddeld van meer as 32%.

Statistieke Suid-Afrika (SSA) stel dit voorts dat 44 000 méér mense teen die einde van 2025 werk gehad het as in die vorige kwartaal, wat beteken dat sowat 17,1 miljoen mense tans werk het uit ʼn arbeidsmag van net meer as 42 miljoen. Op die keper beskou beteken dit, volgens Van Rooy, dat die ekonomie tekens van beweging toon, maar sy benadruk die feit dat jongmense wat die arbeidsmark wil betree, hulself deeglik sal moet onderskei.

ʼn Belegging in persoonlike ontwikkeling toon die beste opbrengs

Die Amerikaanse ekonoom, Milton Friedman, was van mening dat ʼn belegging in die ontwikkeling van mense, die beste opbrengs vir enige onderneming is. Gedagtig hieraan, verduidelik Van Rooy dat ʼn soortgelyke belegging in persoonlike ontwikkeling en vorming, deur middel van verdere studie, ʼn langtermynbelegging verteenwoordig wat deurlopend dividende of dan toekomskapitaal vir graduandi lewer.

“ʼn Naskoolse kwalifikasie is nie ʼn klinkklare waarborg vir indiensneembaarheid en loopbaansukses nie, maar dit is ʼn besliste voordeel bó hul eweknieë wat die werksplek sonder enige verdere studie betree,” sê Van Rooy.

Graduandi se aanvangsalarisse weerspieël hierdie realiteit: Die gemiddelde aanvangssalaris in 2025 was R260 000 per jaar, effens hoër as die vorige jaar en beduidend meer as vyf jaar gelede.

Belangriker nóg, werkgewers soek na meer as net tegniese kennis en vaardighede. Hulle heg toenemende waarde aan kritiese denke, probleemoplossing, kommunikasievaardighede, veerkragtigheid en ʼn ingesteldheid op lewenslange leer. Volgens Van Rooy is dit juis hierdie vaardighede wat deur hoëgehalte- naskoolse studie ontwikkel word.

Studie as ʼn langtermynbelegging

Volgens Van Rooy verander die gesprek en gedagtegang wanneer naskoolse studie as ʼn langtermynbelegging benader word. In stede daarvan dat daar slegs op onmiddellike indiensneming of ʼn aanvangsalaris gefokus word, word die opbrengs oor jare en selfs dekades ontsluit.

Hierdie toekomskapitaal en -potensiaal sluit onder meer in:

  • Die ontwikkeling van waardevolle menslike vaardighede

Kennis, denkvermoë en analitiese vaardighede skep waarde wat met tyd toeneem, anders as baie finansiële bates wat kan stagneer of waarde verloor. Hierdie toekomskapitaal stel individue in staat om voortdurend nuwe uitdagings op vindingryke maniere aan te pak en veerkragtig by veranderende omstandighede aan te pas.

  • Die uitbreiding van verdienpotensiaal oor ʼn leeftyd

Afgestudeerde studente verdien gemiddeld meer oor hul loopbaanbestek, nie net omdat hulle aanvangsalaris hoër is nie, maar omdat hulle toegang het tot beroepe met hoër toetredingsvereistes, beter bevorderingsgeleenthede en groter groeigeleenthede.

  • Verhoogde indiensneembaarheid en veerkragtigheid

In ʼn ekonomie wat voortdurend verander, pas opgeleide individue vinniger aan by tegnologiese en strukturele skuiwe. Dit verminder die risiko van langdurige werkloosheid en maak herposisionering moontlik.

  • Loopbaanbuigsaamheid

Naskoolse studie bied ook loopbaanbuigsaamheid omdat oordraagbare vaardighede veerkragtigheid ontsluit. In ʼn onsekere wêreld is hierdie buigsaamheid ʼn waardevolle tipe kapitaal aangesien dit graduandi toerus om dinamiese loopbaanskuiwe te kan maak sonder om totaal van voor af te moet begin.

  • Die aankweek van ʼn ingesteldheid wat op lewenslange leer toegespits is

Lewenslange leer vergemaklik verdere kwalifikasies, spesialisasie en selfs herkwalifisering. Die opbrengs is kumulatief, wat beteken dat elke nuwe vaardigheid voortbou op die vorige een.

Volgens Van Rooy speel niefinansiële opbrengste eweneens ʼn belangrike rol as dit kom by die keuse van naskoolse studie. Opbrengste in hierdie konteks, sluit onder meer in:

  • selfvertroue;
  • ʼn goed ontwikkelde professionele identiteit;
  • effektiewe besluitnemingsvermoë;
  • goeie leierskapsvaardighede;
  • goed gevestigde netwerke;
  • burgerlike betrokkenheid; en
  • gemeenskapsverbondenheid.

ʼn Impak wat die hier en nou oortref

Van Rooy meen dat naskoolse studie voorts toegang tot professionele netwerke en sosiale kapitaal skep wat andersins nie toeganklik sou wees nie. Diesulke professionele netwerke sluit mentors, kollegas en verhoudinge in wat dikwels lei tot werksgeleenthede en professionele samewerking. Hierdie sosiale kapitaal het oor tyd ʼn vermenigvuldigingseffek.

Waar studie in die moedertaal plaasvind, soos by Akademia, versterk dit boonop afgestudeerde studente se taal- en kulturele kapitaal. Dieper begrip, sterker akademiese prestasie en beter professionele artikulasie is langdurige bates, veral in leierskap- en bestuursrolle.

Van Rooy voeg verder by dat die impak van naskoolse studie ook verder as bloot die individu self strek. “Opgeleide ouers belê in die opvoedkundige toekoms van hul kinders, en dra só by tot groter ekonomiese stabiliteit binne gesinne,” verduidelik Van Rooy en voeg by dat hierdie belegging oor meer as een geslag kan strek.

Vra jouself die regte vraag af

In ʼn uitdagende ekonomie is dit maklik om te vra of studie die moeite werd is. Miskien is die beter vraag: Wie is oor tien of twintig jaar beter toegerus om aan te pas, te groei en volhoubare waarde te skep?

Naskoolse studie is nie ʼn kitsoplossing nie. Dit is egter steeds een van die mees impakvolle beleggings in ʼn individu se vermoë om te leer, te herposisioneer en ʼn betekenisvolle, volhoubare toekoms te bou – juis in ʼn wêreld vol onsekerheid.

“Akademia se uittreemeningsopname, waaraan finalejaarstudente deelneem, toon dat meer as 70% van studente reeds binne vyf maande ná hul laaste eksamen voltyds werksaam is. Hierdie syfer is ʼn daadwerklike aanduiding dat relevante, doelgerigte en hoëgehalteopleiding steeds baie hoog in aanvraag is,” sluit Van Rooy af.

Akademia se studieaansoeke vir die 2027- akademiese jaar is oop. Besoek gerus die instelling se webblad om te sien hoe jy jou toekomskapitaal deur naskoolse studie kan versterk.

Liana van Rooy, registrateur by Akademia, meen dat die toekomskapitaal wat naskoolse studie ontsluit ver bó rand en sent gereken moet word.

Direkte inbetaling: Bankbesonderhede

Akademia-skenkingsfonds

Eerste Nasionale Bank

Rekeningnommer: 62857561445

Takkode: 210554

Verwysing: Jou selfoonnommer

Testamentêre bemaking

Voeg die volgende klousule tot jou testament by. (Vervang self die bedrag.)

Ek bemaak ʼn kontantbedrag van R100 000.00 (Eenhonderd Duisend Rand) aan AKADEMIA MSW met registrasienommer: 2005/024616/08 geregistreer by die Departement van Hoër Onderwys en Opleiding as ʼn privaat hoëronderwysinstelling ingevolge die Wet op Hoër Onderwys, 1997 onder registrasienommer: 2011/HE08/005.

Laat jou besonderhede hieronder dan sal ‘n skenkingsfondsbestuurder met jou kontak maak. 


Zander Botha: Skenkingsfondsbestuurder

083 254 0142
skenking@akademia.ac.za

Ek sien uit daarna om jou persoonlik te ontmoet en jou unieke bydrae en nalatenskap te bespreek.