*Die Paarl-kampus is voorlopig goedgekeur
Gepubliseer op: 17 April 2026
Toe die eerste koppies stomende koffie in April 2023 oor die Sowel As-toonbank op die Leriba-kampus in Pretoria aangegee is, was dit reeds duidelik dat iets besonders aan die prut was. Drie jaar later is Sowel As veel méér as net Akademia se koffiewinkel – dit is ʼn gesellige kuierruimte, ʼn aan-die-gang-ontmoetingsplek en ʼn integrale deel van die instelling se kultuurervaring.
Meer as net ʼn koffiewinkel
Volgens Mareli Swanepoel, bestuurder: Institusionele projekte en ondernemings, is dit ongelooflik om te sien hoe die koffiewinkel deel geword het van die Akademia-kultuur. Hiervan getuig nie nét die gewildheid van die koffiewinkel onder personeel en studente nie, maar ook die uitbreidingsvoetspoor wat reeds bewerkstellig is. Laasgenoemde verwys na die fisiese koffiewinkels op die Paarl- en Pretoria-kampus, asook die dienspunte by die instelling se sentrumnetwerk en eersdaags ook ʼn mobiele koffietrokkie wat ekstra geur (en smaak) aan institusionele geleenthede sal bied.
“Sowel As verkoop nie net koffie en lekker peuselhappies nie, dit is ʼn daadwerklike gemeenskapsbousteen wat stukrag gee aan die instelling se verbondenheidstrewe. Hier ontmoet lede van die Akademia-gemeenskap mekaar daagliks om idees uit te ruil en deel te neem aan gesprekke wat verder strek as die hier en nou. In kort: ʼn Bymekaarkomplek waar die denke én die hart kan gedy,” sê Swanepoel.
Wat Sowel As egter werklik onderskei, is volgens Swanepoel sy unieke en volhoubare bedryfsmodel: Al die baristas is studente, wat beteken dat student nie net waardevolle werkservaring opdoen nie, maar ook ʼn inkomste vir hulself verdien. “Op hierdie manier word nie net praktiese vaardighede aangeleer nie, maar word ʼn gevoel van eienaarskap en verantwoordbaarheid ook gekweek,” verduidelik Swanepoel. Sy voeg by dat die bekende en vriendelike gesigte van die baristas voorts Akademia se tuiskomsgevoel versterk.
Elke slukkie en proeseltjie dra by tot die Sowel As-suksesstorie
As dit kom by die sukses van dié koffiewinkel, spreek die verkoopsyfers boekdele. Oor die afgelope drie jaar is ʼn totaal van 32 714 warm drankies verkoop, met die 350 ml cappuccino as die onbetwiste gunsteling. Saam met die koffie is daar ook 7 612 peuselhappies verkoop, waarvan die fudge-koekie en bruintjies besonder gewild is.
Wat studentewerkskepping betref, het 36 studente in Pretoria en tien studente in die Paarl reeds as baristas by Sowel As gewerk. Vandag word die koffiewinkel tegnies ondersteun deur ʼn kernspan van drie Akademia-personeellede, wat saam met die studente sorg dat alles glad verloop.
Sowel As speel voorts ʼn gevestigde rol by institusionele geleenthede. In 2024 was die koffiewinkel by 72 funksies betrokke, in 2025 by 90, en in 2026 staan die getal reeds op 17 vir die eerste vier maande van die jaar.
Swanepoel is dit eens dat die wese van Sowel As opgesluit lê in sy onopgesmukte egtheid. “Dit is ʼn plek waar almal tuisvoel en waar kultuur, koffie en gemeenskap hoogty vier,” sê Swanepoel. Hierdie identiteit word ook weerspieël in die manier waarop dienste gelewer word en op die manier waarop die koffiewinkel die Akademia-ervaring versterk.
Uitbreiding en nuwe toevoegings
Ter viering van Sowel As se derde verjaarsdag word die blik op die toekoms gerig, en Swanepoel noem dat 2026 ʼn opwindende jaar vir die koffiewinkel is. Die jaar het op ʼn hoogtepunt begin met die bekendstelling van ʼn nuwe Sowel As-koffiewinkel op die Paarl-kampus.
Nóg ʼn opwindende toevoeging is die Sowel As-koffiewaentjie, wat by geleenthede soos die eerstejaarskonsert, die Fontie-spele, kwalifikasieplegtighede, koshuisaksies, personeelbyeenkomste en by die Gerhardstraat-kampusperseel in Pretoria koffie aan studente én die publiek sal bedien.
Die spyskaart brei ook verder uit, met nuwe gunstelinge soos Die Fontie, die Top-deck-warm-drankie, die melktertjie-warm-drankie en -freezo asook ʼn vanielje latte. Swanepoel voeg by dat nuwe peuselhappies gereeld tot die spyskaart gevoeg gaan word, dat opwindende promosies en ʼn weeklikse soetbederf – in die vorm van ʼn koek van die week, sal sorg dat daar altyd iets nuuts is om te probeer.
Drome vir die toekoms
Die span se toekomsdrome vir Sowel As strek ver. Met die ontwikkeling van Akademia se nuwe wêreldklas kampus in die ooste van Pretoria word daar uitgesien na die geleentheid om ʼn splinternuwe Sowel As-koffiewinkel van nuuts af te ontwerp en in te rig. Swanepoel meen dat dié ruimte doelbewus vir ontmoeting, werk en samewerking geskep word.
“Die uiteindelike droom is eenvoudig, maar kragtig: Sowel As sal die eerste plek wees waaraan personeel en studente dink wanneer hulle aan koffie, kuier en samewerking dink – en dat dié verbondenheidsgevoel steeds verder sal versterk,” sluit Swanepoel af.
*Sowel As se naam simboliseer Akademia se aansluiting by die klassieke universiteitswese: ʼn plek waar denke sowel as die hart gevorm word. Drie jaar later is dit duidelik – dié visie leef voort in elke koppie koffie.



Akademia-skenkingsfonds
Eerste Nasionale Bank
Rekeningnommer: 62857561445
Takkode: 210554
Verwysing: Jou selfoonnommer
Voeg die volgende klousule tot jou testament by. (Vervang self die bedrag.)
Ek bemaak ʼn kontantbedrag van R100 000.00 (Eenhonderd Duisend Rand) aan AKADEMIA MSW met registrasienommer: 2005/024616/08 geregistreer by die Departement van Hoër Onderwys en Opleiding as ʼn privaat hoëronderwysinstelling ingevolge die Wet op Hoër Onderwys, 1997 onder registrasienommer: 2011/HE08/005.
Laat jou besonderhede hieronder dan sal ‘n skenkingsfondsbestuurder met jou kontak maak.
083 254 0142
skenking@akademia.ac.za
Ek sien uit daarna om jou persoonlik te ontmoet en jou unieke bydrae en nalatenskap te bespreek.