Studieaansoeke vir 2025 is reeds oop

Search
Close this search box.

Akademia-student toon sy staal in die skopbokskryt

Gepubliseer op: 14 Mei 2024

Akademia-student, Connor Winter (19), koester twee gróót drome. Dié BEd (Intermediêre Fase-onderwys)-eerstejaarstudent van Moreleta Park in Pretoria is passievol oor onderwys en wil graag as ʼn positiewe veranderingsagent vir jong kinders optree. As ʼn ervare skopbokser, wat reeds vanaf twaalfjarige ouderdom meeding, wil hy ook graag ʼn eerste plek losveg tydens vanjaar se Afrika-kampioenskappe wat in Desember plaasvind.

Volgens Winter het hy op Akademia as ʼn studietuiste besluit nadat hy die 2023-opedag bygewoon het. “Ek was aanvanklik onseker oor waar ek my studie wou aanpak, maar het tydens die opedag waarlik ʼn gevoel van tuiskoms ervaar en ek kon myself met die instelling se waardes, geloofsoortuiging en visie vereenselwig. Fontie-wees het net reg gevoel en ek het onmiddellik besluit om by Akademia aansoek te doen,” vertel Winter. As ʼn voltydse kampusstudent draf Winter klas op die Leriba-kampus in Centurion.

Die module wat Winter die meeste geniet is Sosiale Wetenskappe en hy sal graag in dié rigting wil spesialiseer. Winter is vol lof vir die personeel in die Fakulteit Opvoedkunde, maar sonder veral vir Charmain Kruger uit. “As dosent loop Kruger beslis die ekstra myl met al haar studente. Sy bied nie net dié module met oorgawe aan nie, sy maak ook seker dat elkeen van ons ʼn deeglike begrip van die vakinhoud het. Dit is ook lekker om te weet dat sy moeite doen om ʼn verhouding met elkeen van ons te bou,” sê Winter.

Op die vraag of Winter die instelling aan ander voornemende studente sal aanbeveel is die antwoord ʼn dawerende “ja”. “Tydens die aansoekproses het ek gesukkel om my dokumentasie op die stelsel te laai, en het byvoorbeeld nog nie my matrieksertifikaat ontvang nie. ʼn Baie vriendelike dame het my geskakel en gevra of ek hulp benodig en sy het selfs vir my ʼn gesprek gereël met een van die bemarkingsadviseurs. Al was ek nog nie amptelik ʼn Fontie nie, het ek dadelik besef dat ek hier meer is as net nóg ʼn studentenommer,” verduidelik Winter.

As dit by skopboks kom stel Winter hoë vereistes aan homself en bly hy op hierdie manier gefokus. In 2022 het hy twee podiumtitels by die Afrika-kampioenskappe verwerf asook ʼn algehele vyfde plek in die Wêreldkampioenskappe.

Volgens Winter het die Covid-19-pandemie ʼn groot impak op dié sportsoort gehad en moes die meeste van die klubs hul deure toemaak. Hy het hom egter nie van stryk laat bring nie, en het ʼn klub van sy eie, Ring Wise, vanuit sy motorhuis begin. Dié klub blyk baie gewild te wees en spog vandag met verskeie lede. Winter verduidelik dat skopboks ʼn vegkuns soortgelyk aan boks is, maar waar beide die vuiste en die bene gebruik word. Die opponent word daarom met beide slaanhoue sowel as skoppe aangeval. In Winter se geval ding hy mee in die low kicks-styl en word ʼn geveg in drie tweeminuutrondtes beslis. Hy oefen voorts ses dae ʼn week en bied ook self skopboksklasse aan.

Die mees onlangse kompetisie, die Suid-Afrikaanse Kampioenskappe, is vroeër vandeesmaand in Potchefstroom beslis. Hierdie kompetisie was baie spesiaal vir Winter aangesien hy ʼn sesde Suid-Afrikaanse titel gewen het, die eerste as ʼn senior deelnemer. Méér nog, nege van sy medeklublede het ook deelgeneem en in die proses het die Ring Wise-klub elf titels ingepalm.

Akademia-student Connor Winter is nie net ʼn gesoute skopbokser nie, maar bied ook klasse in dié sportsoort aan.
Winter in aksie in die kryt.