*Die Paarl-kampus is voorlopig goedgekeur

Van skoolbank tot studentwees: Skoolverlater, is jy gereed vir die volgende hoofstuk?

Gepubliseer op:  26 November 2026

Die matriekeindeksamen is uiteindelik agter die rug, en nuwe horisonne wink. Die oorgang van skool na universiteit behels egter veel meer as nuwe kennis, dosente en vriende. Dit is ʼn tyd waarin jy jouself opnuut ontdek, jou grense verskuif en begin bepaal wie jy wil wees en watter verskil jy in die wêreld wil maak.

Met ʼn matrieksertifikaat in die sak en ʼn bestuurderslisensie in jou beursie voel baie skoolverlaters gereed om die volgende hoofstuk met ywer aan te pak. Hoewel dié mylpale handig te pas kom, verg die oorgang van die skoolbank na die lesingslokaal egter ook nuwe gewoontes, verantwoordelikheid en ʼn bereidwilligheid om te groei.

ʼn Nuwe en opwindende ontdekkingsreis

Volgens Elana Kriel, ʼn opvoedkundige sielkundige verbonde aan Akademia, is studentelewe veel meer as laatnagkuier, studentepret en groter onafhanklikheid. Dit is ʼn tydperk van aanpassing, selfontdekking en persoonlike vorming – nie net vir jou as student nie, maar ook vir jou ouers wat hul kind op hierdie nuwe reis sien vertrek.

“Die universiteitsomgewing verskil van die skoolomgewing, maar anders beteken nie noodwendig moeiliker nie. Die oorgang gaan nie bloot oor die moeilikheidsgraad van akademiese werk nie, maar ook oor identiteitsontwikkeling, loopbaanvoorbereiding en sosiale inskakeling,” verduidelik Kriel.

Een van die grootste verskille is juis dat die verantwoordelikheid vir jou leerervaring toenemend in jou eie hande beland. “Op universiteit gaan niemand noodwendig agter jou aanloop as jy nie vir ʼn klas voorberei het nie en jou ouers sal ook nie meer outomaties in kennis gestel word as jy ʼn klas misloop of ʼn toets druip nie. Jy moet van dag een af verantwoordelikheid vir jou keuses en akademiese vordering aanvaar,” verduidelik Kriel.

Hierdie sin van verantwoordelikheid dien voorts as een van die hoekstene van die vormingsproses wat jou vir die wêreld ná jou studie sal voorberei.

ʼn Nuwe seisoen vir studente én ouers

Die eerste tree na hoër onderwys bring dikwels opgewondenheid én onsekerheid mee. Nuwe verwagtinge, onbekende omgewings en die vooruitsig van onafhanklike studentwees is egter nie net vir jongmense uitdagend nie, maar ook vir hul ouers. Kriel beklemtoon dat hierdie gevoelens normaal is en dat ouers reeds tydens hul kinders se skooljare ʼn belangrike rol in die voorbereidingsproses kan speel.

Goeie loopbaanvoorligting help jongmense om hul belangstellings, vermoëns en moontlike loopbaanrigtings beter te verstaan. Ouers kan hul kinders ook aan verskillende hoëronderwysinstellings en studiemodelle blootstel, sodat hulle ʼn ingeligte besluit oor hul toekomstige studietuiste kan neem. Akademia se jaarlikse opedag bied aan voornemende studente en hul ouers die geleentheid om die instelling, studierigtings, onderrigleermodelle en bruisende studentelewe eerstehands te ervaar.

“Een van die belangrikste dinge wat ouers vroeg kan vestig, is ʼn oop kommunikasiekanaal met hul kinders. Gesprekke oor klasbywoning, tydsbestuur, gesonde verhoudings en deelname help om realistiese verwagtinge te skep,” sê Kriel. Sy waarsku egter teen sogenaamde helikopterouerskap. Hoewel ouers se ondersteuning onontbeerlik bly, moet jongmense die ruimte kry om self besluite te neem en die gevolge daarvan te hanteer.

“Laat jou kind weet dat jy hom of haar vertrou om goeie keuses te maak. Ouers se rol is om in liefde aan te moedig en te ondersteun, sonder om elke uitdaging namens hul kind op te los,” meen Kriel.

Jy is méér as net ʼn studentenommer

Een van die grootste vrese onder skoolverlaters is om in die groter hoëronderwysomgewing verlore te raak. Waar jy op skool gewoond was aan bekende onderwysers, ʼn gevestigde vriendekring en ʼn gestruktureerde dagprogram, moet jy nou jou weg in ʼn groter gemeenskap vind.

By Akademia word doelbewus daarna gestreef om nuwe eerstejaarstudente van meet af deel van die instelling se gemeenskap te laat voel. ʼn Pasgemaakte oriënteringsprogram help studente om met hul nuwe omgewing vertroud te raak en die akademiese verwagtinge en verskillende fasette van studentwees te verstaan.

Verskeie ondersteuningsnetwerke is ook beskikbaar, waaronder dosente en programkoördineerders, medestudente, studenteraadslede, koshuisstrukture en administratiewe personeel. Studenteondersteuningsdienste bied verdere hulp wanneer akademiese, emosionele, maatskaplike of finansiële uitdagings ontstaan.

Kriel beklemtoon dat studente self ʼn aktiewe rol in hul ervaring moet speel. “Studentwees is nie iets wat bloot met jou gebeur nie; dit is ʼn ervaring waaraan jy aktief en heelhartig moet deelneem. Gryp geleenthede aan en raak doelbewus by jou nuwe omgewing betrokke,” sê Kriel.

Vorming van denke én hart

By Akademia word studentwees as meer as die verwerwing van akademiese kennis beskou. Die instelling se vormingsideaal behels dat studente se denke én hart ontwikkel word – binne en buite die lesinglokaal.

Die vorming van denke vind deur klasbywoning, akademiese gesprekke met dosente en medestudente en deelname aan verenigings en klubs plaas. Dit moedig studente aan om krities te dink, vrae te vra en hul kennis met groter bewustheid toe te pas. Hiermee saam word die vorming van die hart deur deelname aan die breër studentelewe bevorder. Eerstejaarskampe, koshuis- en daghuisaktiwiteite, konserte en gemeenskapsprojekte bied geleenthede om vriendskappe te bou, saam te werk en ʼn gevoel van samehorigheid te ontwikkel.

“Hierdie ervarings help om die nuwe akademiese omgewing jou tuiste te maak – ʼn nuwe huis weg van die huis af. Dit is ook waar jy leer om jou gawes en talente in diens van ander en jou gemeenskap aan te wend,” verduidelik Kriel.

Vryheid vra verantwoordelikheid

Die groter mate van vryheid wat die universiteitslewe bied, is vir baie eerstejaarstudente opwindend: meer ruimte vir sosiale aktiwiteite en die geleentheid om self oor hul tydsbesteding te besluit. Hierdie vryheid bring egter ook groter verantwoordelikheid mee.

Volgens Kriel is goeie tydsbestuur en gesonde studiegewoontes van die begin af noodsaaklik. Sy voeg by dat die dae waarin jy die aand voor ʼn toets ʼn maand se werk probeer inhaal, nou iets van die verlede is. Deurlopende toewyding, gereelde klasbywoning en akademiese deelname help jou om ʼn positiewe leerroetine te vestig en jou akademiese vordering te bevorder. Kriel deel gevolglik drie praktiese wenke om jou nuwe vryheid verantwoordelik te bestuur:

  • Beplan jou sosiale lewe

Besluit hoeveel tyd jy aan sosiale aktiwiteite kan bestee en wees bereid om soms nee te sê wanneer jou akademiese werk aandag nodig het.

  • Aanvaar verantwoordelikheid

Wanneer jy akademies sukkel, vra jouself af of jy alles moontlik gedoen het om hulp te kry en die probleem op te los. Fokus op oplossings eerder as verskonings.

  • Vestig ʼn volhoubare studieroetine

Maak daagliks tyd vir jou akademiese werk. ʼn Roetine wat goed beplan is, help jou om deur die semester op hoogte te bly en verminder die druk wanneer eksamentyd aanbreek.

Kriel sluit af deur te beklemtoon dat naskoolse studie ʼn nuwe begin is – ʼn geleentheid om jou horisonne te verbreed, jou vermoëns te ontdek en jou drome doelgerig na te jaag. “Jou studiereis gaan oor veel meer as die kwalifikasie wat jy aan die einde daarvan verwerf; dit gaan oor die mens wat jy onderweg word. Stap hierdie nuwe hoofstuk met moed, nuuskierigheid en ʼn oop hart binne. Die moontlikhede wat op jou wag, mag jou selfs verder neem as wat jy ooit gedroom het,” sê Kriel.

Beplan jy om in 2027 by Akademia te studeer? Studieaansoeke vir die 2027-studiejaar is steeds oop. Besoek Akademia se webblad vir meer inligting. Maak ook seker jy bespreek jou plek vir die webinaar oor 2027-studie aan Akademia wat op 13 Januarie 2027 plaasvind. Of maak ʼn afspraak met ʼn bemarkingsadviseur om oor jou loopbaangeleenthede te gesels.

Die oorgang van skool na universiteit behels meer as nuwe kennis, dosente en vriende. Dit is ʼn tyd waarin jy jouself opnuut ontdek, jou grense verskuif en begin bepaal wie jy wil wees en watter verskil jy in die wêreld wil maak.

Direkte inbetaling: Bankbesonderhede

Akademia-skenkingsfonds

Eerste Nasionale Bank

Rekeningnommer: 62857561445

Takkode: 210554

Verwysing: Jou selfoonnommer

Testamentêre bemaking

Voeg die volgende klousule tot jou testament by. (Vervang self die bedrag.)

Ek bemaak ʼn kontantbedrag van R100 000.00 (Eenhonderd Duisend Rand) aan AKADEMIA MSW met registrasienommer: 2005/024616/08 geregistreer by die Departement van Hoër Onderwys en Opleiding as ʼn privaat hoëronderwysinstelling ingevolge die Wet op Hoër Onderwys, 1997 onder registrasienommer: 2011/HE08/005.

Laat jou besonderhede hieronder dan sal ‘n skenkingsfondsbestuurder met jou kontak maak. 


Zander Botha: Skenkingsfondsbestuurder

083 254 0142
skenking@akademia.ac.za

Ek sien uit daarna om jou persoonlik te ontmoet en jou unieke bydrae en nalatenskap te bespreek.