*Die Paarl-kampus is voorlopig goedgekeur
Gepubliseer op: 26 November 2026
Geskryf deur prof. Danie du Plessis, dekaan: Fakulteit Geesteswetenskappe aan Akademia
Akademia se tema vir die jaar, Boustene vir die toekoms, laat ʼn mens dink aan die bekende verhaal van die drie messelaars. Een weergawe van dié legende verbind die verhaal met sir Christopher Wren, die argitek van die St. Paulus-katedraal in Londen, en die herbou van die katedraal ná die groot brand van 1666. Volgens dié oorlewering kom Wren op die bouterrein af op drie messelaars wat bou. Hy vra aan elkeen dieselfde vraag: “Wat is jy besig om te doen?”
Die eerste antwoord: “Ek lê stene sodat ek my gesin kan voed.”
Die tweede antwoord: “Ek bou ʼn muur.”
Maar die derde antwoord: “Ek bou ʼn katedraal.”
Al drie se antwoorde is waar. Werk voorsien in ons daaglikse behoeftes. Dit verg kundigheid, toewyding en aandag aan elke taak. Die derde messelaar sien egter ook hoe sy werk deel vorm van iets veel groter wat lank ná sy leeftyd steeds betekenis sal hê.
In die Middeleeue is honderde katedrale in Europa opgerig. Baie daarvan is oor geslagte heen opgerig met bouwerk wat oor eeue gestrek het. Dit het, byvoorbeeld, meer as vier eeue geneem om die Straatsburg-katedraal op te rig – van 1015 tot en met die voltooiing van die Gotiese spits in 1439. In Brussel is daar vanaf 1226 tot omstreeks 1480 aan die Gotiese kerk gebou wat ons vandag as die katedraal van Sint-Michiel en Sint-Goedele ken. Die mense wat hierdie fondamente gelê het, sou nooit die voltooide gebou sien nie. Tóg moes elke fondament stewig wees, en elke steen sorgvuldig gelê word. Geslag ná geslag het voortgebou op die werk van mense wat hulle nooit geken het nie. En meer nog: gehalte van elkeen se bydrae was noodsaaklik vir ander om daarop te kon voortbou.
Dit is óók die ingesteldheid waarmee ons by Akademia bou. Ons bou met verantwoordelikheid vir vandag en met vertroue in ʼn toekoms wat verder as ons leeftyd strek. Wat ons vandag begin, kan oor geslagte heen groei tot iets waarvan ons ons nou maar net die buitelyne kan voorstel.
In ons studentelewe sien ons reeds hoe hierdie eerste boustene hulle plek inneem. Die eerste studentemusiekblyspel skep ruimte vir ʼn toekoms van kreatiwiteit, samewerking en die vreugde om iets sáám tot stand te bring. Die Paarl-kampus se eerste studenteraad begin ʼn tradisie van leierskap en diensbaarheid wat deur elke volgende raad verder gevorm sal word.
Op Mooiplaats, die kampusontwikkelingsgronde in die ooste van Pretoria, kry hierdie toekomsverwagting ook sigbaar gestalte. Wat ons vandag sien groei as ʼn nuwe wêreldklas kampus, gaan oor ʼn honderd jaar steeds herken word as die historiese kern van ʼn veel groter Akademia.
Wat vir ons ʼn nuwe begin is, word vir toekomstige geslagte ʼn kosbare erfenis. Ons bouwerk vind eweneens elke dag in die lesingsaal plaas. Elke program, elke klas, elke assessering en elke gesprek wat ʼn student se denke verdiep, lê ʼn bousteen vir die toekoms neer. Ons help studente om met insig en selfstandigheid te dink, verbeeldingryk na oplossings te soek en verantwoordelik met hulle kennis om te gaan. Hulle neem hierdie vorming saam na hulle beroepe, gesinne en gemeenskappe waar die bouwerk onverpoosd verder gaan.
Die volgende generasies gaan die vrugte pluk van ons studente se vormende bouwerk van vandag. Personeel, studente, ouers, alumni, ondersteuners en vennote het elkeen ʼn aandeel hierin. Party se bydraes is duidelik sigbaar en ander help om ʼn stewige fondament te bou wat deels onder die oppervlak lê.
Ons leef in opwindende tye, met die voorreg én verantwoordelikheid om aan die begin van ʼn lang en uitgebreide projek te kan arbei. Ons lê vandag die stene waarop ander môre sal voortbou neer.
Ons bou ʼn katedraal!

Akademia-skenkingsfonds
Eerste Nasionale Bank
Rekeningnommer: 62857561445
Takkode: 210554
Verwysing: Jou selfoonnommer
Voeg die volgende klousule tot jou testament by. (Vervang self die bedrag.)
Ek bemaak ʼn kontantbedrag van R100 000.00 (Eenhonderd Duisend Rand) aan AKADEMIA MSW met registrasienommer: 2005/024616/08 geregistreer by die Departement van Hoër Onderwys en Opleiding as ʼn privaat hoëronderwysinstelling ingevolge die Wet op Hoër Onderwys, 1997 onder registrasienommer: 2011/HE08/005.
Laat jou besonderhede hieronder dan sal ‘n skenkingsfondsbestuurder met jou kontak maak.
083 254 0142
skenking@akademia.ac.za
Ek sien uit daarna om jou persoonlik te ontmoet en jou unieke bydrae en nalatenskap te bespreek.