*Die Paarl-kampus is voorlopig goedgekeur

Om onder druk te floreer – ʼn persoonlike leierskapbelydenis

Gepubliseer op:  20 November 2026

Geskryf deur Henk Schalekamp, besturende direkteur: Kanton, ter geleentheid van Akademia se jaarlikse waarderingsgeleentheid vir skole in die Pretoria-omgewing.

Kanton en Akademia, twee betreklik jong instellings wat self nog groei, is besig met ʼn projek aansienlik groter as hulself: ʼn wêreldklas universiteitskampus wat vir geslagte lank ʼn studietuiste vir Afrikaanse hoër onderwys sal wees. Binne hierdie konteks is die tegniese en finansiële uitdagings gróót. Die grootste druk lê egter opgesluit in die verantwoordelikheid wat hierdie instellings op hul skouers dra.

Ons werk met beleggers se kapitaal, donateurs se bydraes asook die vertroue en hoop van ʼn gemeenskap wat doelgerig in sy toekoms belê. Daar is dus bitter min ruimte vir foute. Alles moet goed verloop. En die projek móét slaag. Maar helaas, die realiteit is dat alles nie altyd vlot verloop nie. Daar is onverwagte probleme wat opduik en moeilike besluite wat geneem moet word.

Hierdie skrywe omvat egter nie ʼn akademiese les oor die effektiewe bestuur van druk nie. Nee. Dit is veel eerder ʼn persoonlike leierskapsbelydenis, opgesom in vyf oortuigings wat oor die jare gestalte gekry het deur ervaring, foute wat gemaak is, geloof en persoonlike vorming. Dit is ook ʼn ode aan skoolhoofde as roepingsgedrewe leiers wat die toekoms geslag na geslag met jongmense bou.

Om onder druk te floreer

  • Oortuiging 1: Leef en werk as ʼn verteenwoordiger van God

Die trefkrag van hierdie oortuiging lê opgesluit in die besef dat ons, in die eerste plek, nie vir onsself werk nie.

Genesis 1 leer ons dat die mens na God se beeld geskape is. Die Hebreeuse woord “tselem” word gebruik om hierdie beeld te verwoord asook om die gedagte van verteenwoordiging of rentmeesterskap tuis te bring. Gedagtig hieraan is die mens geroep om in die wêreld iets van God se wysheid, liefde en geregtigheid te openbaar. En om hierdie rede is werk veel méér as net bloot ʼn beroep of ʼn titel, dit is ʼn roepingsterrein.

In my eie lewe het dit my lank geneem om werklik te verstaan dat diens aan God nie noodwendig uitsluitlik ʼn preekstoel vereis nie. Ek kan óók roepingsgehoorsaam in die sakewêreld wees, want instellings, vermoëns en geleenthede word aan elkeen mildelik toevertrou daar waar ons, ons dagtaak vervul. Verantwoordbaarheid bly egter die goue draad wat deur dié gehoorsaamheid verweef word, en dit herinner ons daagliks daaraan dat ons nie die oorsprong van alle krag en wysheid hoef te wees nie. Ons krag lê uiteindelik in God wat ons tot diensbaarheid geroep het.

  • Oortuiging 2: Veg elke dag teen jou ego

Ambisie, selfvertroue en die strewe na uitnemendheid is nodig, maar wees versigtig, want sukses kan óók ʼn daadwerklike gevaar vir leiers inhou. Laasgenoemde gebeur veral wanneer ʼn leier begin glo dat hy/sy die rede is waarom alles na behore verloop. Net só verskuif die fokus weg van diensbaarheid en word die soeklig op erkenning geskyn.

Wanneer jy jouself die bron van sukses maak, plaas jy ook die volle gewig van elke uitkoms op jou eie skouers. In praktyk beteken dit dat ʼn fout dan nie bloot ʼn fout is wat reggestel moet word nie, dit word ʼn direkte bedreiging vir jou identiteit. Hoekom? Want in hierdie milieu word kritiek persoonlik opgeneem en word ander se goeie idees as ʼn bedreiging vir jouself beskou.

Nederigheid vra dat ʼn leier ander se (beter) oordeel kan erken, krediet kan gee waar dit toekom en foute ruiterlik kan erken. Die vraag wat jy as leier jouself daarom moet afvra is eenvoudig: Dien ek steeds die roeping wat aan my toevertrou is, óf gebruik ek dit om myself te dien? As jy hierdie vraag eerlik kan antwoord, word dit duidelik dat ʼn leier nie altyd reg of selfs die belangrikste persoon in die vertrek hoef te wees nie, en dit is bevrydend.

  • Oortuiging 3: Bestuur jou insette, en vertrou God vir die uitkomste

Hierdie oortuiging is waarskynlik die belangrikste beginsel in my eie leierskapsraamwerk. As leiers is ons verantwoordelik vir die voorbereiding wat ons doen, vir die gehalte van ons werk, die dissipline wat ons toepas en die besluite wat ons neem.

Gedagtig aan elkeen se roepingstaak, is dit belangrik dat dit wat aan ons toevertrou is, ons heel beste verdien – al is die uitkomste nie altyd in ons beheer nie. Selfs die beste plan kan deur ʼn ekonomiese verandering, ʼn onverwagte gebeurtenis óf iemand anders se oordeel ontwrig en van stryk gebring word.

Kanton het reeds in 2019 die Mooiplaats-gronde waarop hierdie kampus ontwikkel word, bekom. Dit het egter jare se beplanning, goedkeurings, finansiering en harde werk geverg – uitkomste wat beslis deur ʼn hoër hand gerig is. Aan die begin van 2024 het ek vir die ontwikkelingspan gesê dat ons voortaan harder as ooit vantevore sal moet werk, maar óók dat ons in grootse verwondering sal staan oor al die werk wat ons nié doen nie. En vandag getuig ons heelhartig van God se voorsienigheid op welke terrein ook al.

Daar is nie ʼn waarborg dat alles altyd volgens plan sal verloop nie. Wanneer dinge verkeerd loop moet foute reggestel word, planne moet reggestel word en verantwoordelikheid moet aanvaar word. Geloof bevry ons daarvan om elke uitkoms as ʼn oordeel oor ons eie waarde te ervaar, en bied aan ons die deursettingsvermoë en energie om die volgende tree te neem.

Dit is ook binne hierdie besef en geloofsversterking dat die leierskapsvuur opnuut weer ontvlam, en klein oorwinnings ʼn bron van vreugde en opwinding word. As leier rus die onus op jou om volle verantwoordelikheid vir jou insette te neem en God vir die uitkomste te vertrou. Let wel: Hierdie vertroue is nie ʼn verskoning om minder te doen nie, maar juis die vryheid om jou beste te lewer.

  • Oortuiging 4: Bou sterk spanne en vertrou jou spanlede

Geen mens kan ʼn groot instelling eiehandig dra nie – en só is dit ook die geval met die ontwikkeling van die nuwe Akademia-kampus in Pretoria. Sterk leiers omring hulself doelbewus met mense wat op bepaalde terreine beter toegerus is as hulself.

Diesulke leiers deel die eise van verantwoordelikheid deur dit aan ander toe te vertrou. Deur te delegeer stel jy ander in staat om ander se vermoëns en kundigheid tot volle reg te laat kom. Laasgenoemde spreek ook tot die wesenlike verskil tussen die strewe om alles self te beheer en die vaardigheid om alle aspekte van ʼn plan goed en na behore te bestuur. Eersgenoemde put ʼn leier uit, terwyl die tweede karakter en vermoë uitbou.

  • Oortuiging 5: Vind balans en beskerm jou vermoë om dienend te bly

Die laaste beginsel is een wat maklik gepreek word, maar moeilik(er) geleef word. Wanneer werk deel van jou roeping is, is daar altyd ʼn goeie rede om nóg ʼn uur langer te werk. Die gevaar wat jy hiermee loop is om uiterlik suksesvol te wees, maar innerlik leeggetap te wees. My eie ervaring van uitbranding het dié les op ʼn moeilike manier tuisgebring.

Balans is nie ʼn beloning wanneer die druk eendag verby is nie; dit is deel van verantwoordelike leierskap. As leiers het almal ʼn ritme nodig wat ruimte maak vir goeie gesondheid, daaglikse oefening, genoegsame slaap, werklike rus en kosbare verhoudings. Vir my beteken balans om tyd in die natuur te spandeer en die wete dat die wêreld baie goed aangaan sonder my (ons elkeen) se voortdurende inmenging.

Daar is ʼn seisoen vir alles, en dit is belangrik om te verstaan dat niks permanent en voortdurend moet wees nie. Die vraag is nie net óf ʼn leier vandag kan presteer nie, maar óf hy/sy oor tien jaar steeds met vreugde en energie kan dien.

  • Skoolhoofde as roepingsgedrewe leiers

Skoolhoofde se rol strek veel verder as die bestuur van ʼn skool. As roepingsgedrewe leiers skep hulle ʼn ruimte waarin onderwysers hul roeping met oorgawe kan uitleef en kinders veilig kan leer, groei en hul potensiaal ontdek. Die invloed van hierdie werk is dikwels eers jare later sigbaar, want skoolhoofde bou nie bloot aan instellings nie, maar aan mense en gemeenskappe.

Hierdie verantwoordelikheid word boonop uitgeleef te midde van politieke en beleidsdruk, beperkte hulpbronne, veranderende wetgewing en die uiteenlopende verwagtinge van ouers, personeel en die breër gemeenskap. Te midde hiervan moet skoolhoofde koers hou, stabiliteit bied en terselfdertyd ruimte skep vir die voortbestaan en bevordering van Afrikaanse onderwys.

Vanuit ʼn Christelike perspektief is hierdie leierskap ook ʼn vorm van rentmeesterskap. Soos Petrus 1:4 beklemtoon, word elkeen geroep om sy of haar gawes verantwoordelik te gebruik en ander te dien uit die krag wat God gee. Dit beteken om die verantwoordelikheid wat aan jou toevertrou is, met oorgawe te aanvaar, jou beste te lewer en die uitkoms in God se hande te laat. Die uiteindelike eer vir die vrug van hierdie werk kom Hom toe.

Die kernboodskap: Skoolhoofde is nie bloot bestuurders van onderwysinstellings nie, maar vormers van mense, instellingsbouers en gemeenskapsleiers wie se roeping ʼn blywende invloed op jongmense en toekomstige geslagte het.

Verskeie skoolhoofde en -leiers vanuit die Pretoria-omgewing het tydens Akademia se jaarlikse waarderingsgeleentheid aan skole die geleentheid gebied om die ontwikkeling van die instelling se wêreldklas kampus in die ooste van Pretoria eerstehands te aanskou.

Om onder druk te floreer, beteken nie dat die druk verdwyn nie of dat onsekerheid en moegheid jou as leier nie beïnvloed nie. Nee. Dit beteken om te midde van al die uitdagings met geloof, oorgawe en vreugde te bly werk. Lééf jou roeping as God se verteenwoordiger uit. Baklei teen jou ego. Beheer jou insette na die beste van jou vermoë en vertrou Hom vir die uitkomste. Bou doelgerig aan sterk spanne en beskerm jou vermoë om oor jare heen steeds roepingsgedrewe te dien.

Henk Schalekamp, besturende direkteur: Kanton, deel sy persoonlike leierskapsbelydenis met skoolhoofde en -leiers tydens die waarderingsgeleentheid op die Mooiplaats-gronde.

Direkte inbetaling: Bankbesonderhede

Akademia-skenkingsfonds

Eerste Nasionale Bank

Rekeningnommer: 62857561445

Takkode: 210554

Verwysing: Jou selfoonnommer

Testamentêre bemaking

Voeg die volgende klousule tot jou testament by. (Vervang self die bedrag.)

Ek bemaak ʼn kontantbedrag van R100 000.00 (Eenhonderd Duisend Rand) aan AKADEMIA MSW met registrasienommer: 2005/024616/08 geregistreer by die Departement van Hoër Onderwys en Opleiding as ʼn privaat hoëronderwysinstelling ingevolge die Wet op Hoër Onderwys, 1997 onder registrasienommer: 2011/HE08/005.

Laat jou besonderhede hieronder dan sal ‘n skenkingsfondsbestuurder met jou kontak maak. 


Zander Botha: Skenkingsfondsbestuurder

083 254 0142
skenking@akademia.ac.za

Ek sien uit daarna om jou persoonlik te ontmoet en jou unieke bydrae en nalatenskap te bespreek.