*Die Paarl-kampus is voorlopig goedgekeur

Akademia-biblioteek ontvang skaars 17de-eeuse regsversameling

Gepubliseer op:  26 November 2026

ʼn Seldsame historiese werk uit 1623 het onlangs ʼn besonderse plek in Akademia se biblioteekversameling gekry. Die versamelde werke van die invloedryke Franse regsgeleerde, Jacques Cujas (1522 tot 1590) is deur die familie van wyle adv. Johan van Aswegen (1948 tot 2009) aan die instelling geskenk. Hierdie besonderse toevoeging bied nie net insig in die ontwikkeling van die Westerse regstradisie nie, maar bewaar terselfdertyd ʼn belangrike deel van die Renaissance se intellektuele erfenis.

Meer oor Jacques Cujas

Cujas was een van die invloedrykste regsgeleerdes van die 16de eeu en word as ʼn grondlegger van die historiese bestudering van die Romeinse reg beskou. Hy was ʼn leidende figuur binne die regshumanisme, ʼn intellektuele beweging wat klem gelê het op die bestudering van oorspronklike bronne en die historiese konteks waarin regstekste ontstaan het.

In teenstelling met die Middeleeuse gebruik om bestaande regstekste hoofsaaklik deur die kommentaar van vorige geleerdes te interpreteer, het Cujas gepleit vir ʼn kritiese en historiese benadering. Hy het die taal, kultuur en geskiedenis van die tyd waarin regstekste ontstaan het, as onontbeerlik vir die korrekte begrip daarvan beskou. Deur onder meer verskillende weergawes van die Corpus Juris Civilis, die omvangryke versameling Romeinse regstekste, noukeurig te bestudeer en te vergelyk, het hy gehelp om eeue se teks- en interpretasiefoute reg te stel.

Die 1623-uitgawe, wat oorspronklik in Frankfurt verskyn het, bevat Cujas se versamelde werke en is ná sy dood gepubliseer om sy regsdenke en akademiese bydraes vir toekomstige geslagte te bewaar. Hierdie uitgawe se beskrywing verwys uitdruklik na die regstelling van talle foute, wat die noukeurigheid en wetenskaplike ingesteldheid weerspieël waarmee sy werk benader is.

ʼn Waardevolle toevoeging tot akademiese navorsing

Volgens Lianda Coetzer, Akademia se bibliotekaris, strek die akademiese betekenis van Cujas se werk veel verder as bloot die historiese bestudering van die Romeinse reg. Sy verduidelik dat sy kritiese benadering tot regsbronne ʼn belangrike grondslag vir moderne regsnavorsing gelê en ʼn blywende invloed op die ontwikkeling van burgerlike regstelsels uitgeoefen het. Dit sluit ook die Suid-Afrikaanse regstradisie in, waarin die Romeins-Hollandse reg steeds ʼn belangrike rol speel.

Gedagtig hieraan verduidelik Coetzer dat hierdie historiese werk ʼn besonderse navorsingsbron vir die biblioteek verteenwoordig. Dit bied moontlikhede vir dosente en studente in onder meer regte, geskiedenis en filosofie om eerstehandse insig te verkry in die ontwikkeling van regsdenke asook die intellektuele tradisies wat die Westerse wêreld help vorm het.

“Hierdie werk se waarde lê voorts ook in die interdissiplinêre aard daarvan. Dit verbind regswetenskap met taal- en teksstudie, geskiedenis en die humanistiese denke van die Renaissance,” meen Coetzer. Sy voeg by dat as ʼn historiese primêre bron, dit navorsers die geleentheid bied om nie nét Cujas se regsdenke te bestudeer nie, maar óók die ontwikkeling van wetenskaplike navorsingsmetodes oor eeue heen te ondersoek.

Meer as ʼn historiese publikasie: ’n erfenis om te bewaar

Die historiese betekenis van ʼn werk soos hierdie word verder versterk deur die ouderdom, publikasiegeskiedenis en skaarsheid daarvan. Volgens Coetzer is die oorlewing van boeke uit die vroeë 17de eeu besonder betekenisvol, aangesien beperkte drukoplae, intensiewe gebruik en die verlies van historiese biblioteekversamelings daartoe bygedra het dat relatief min eksemplare behoue gebly het.

“Wanneer ʼn akademiese biblioteek ʼn historiese werk van hierdie aard ontvang, word dit ʼn rentmeester van die kennis en erfenis wat daarin opgesluit lê. Die verantwoordelikheid behels meer as die bewaring van papier en ink: Dit gaan oor die beskerming van kennis sodat dit ook vir toekomstige geslagte toeganklik en betekenisvol kan bly,” meen Coetzer. Vervolgens verduidelik sy dat deur hierdie besondere skenking Akademia se akademiese versameling versterk word en die instelling se strewe om kennis te bewaar, te ontsluit en verder uit te bou goeie momentum opbou.

Dié skenking deur die familie van wyle adv. Johan van Aswegen aan Akademia se biblioteek is nie net ’n waardevolle toevoeging tot die instelling se bestaande versameling nie, maar ook ʼn besondere bydrae tot die bewaring van ʼn intellektuele erfenis wat oor eeue heen strek.

Direkte inbetaling: Bankbesonderhede

Akademia-skenkingsfonds

Eerste Nasionale Bank

Rekeningnommer: 62857561445

Takkode: 210554

Verwysing: Jou selfoonnommer

Testamentêre bemaking

Voeg die volgende klousule tot jou testament by. (Vervang self die bedrag.)

Ek bemaak ʼn kontantbedrag van R100 000.00 (Eenhonderd Duisend Rand) aan AKADEMIA MSW met registrasienommer: 2005/024616/08 geregistreer by die Departement van Hoër Onderwys en Opleiding as ʼn privaat hoëronderwysinstelling ingevolge die Wet op Hoër Onderwys, 1997 onder registrasienommer: 2011/HE08/005.

Laat jou besonderhede hieronder dan sal ‘n skenkingsfondsbestuurder met jou kontak maak. 


Zander Botha: Skenkingsfondsbestuurder

083 254 0142
skenking@akademia.ac.za

Ek sien uit daarna om jou persoonlik te ontmoet en jou unieke bydrae en nalatenskap te bespreek.