Spore-2025: Fonties maak speel-speel ʼn gróót verskil

Gepubliseer op: 12 Februarie 2025

Twee jaar ná die bekendstelling van Akademia se Spore-projek gaan dié studenteinisiatief van krag tot krag én word Fonties se verbondenheid tot die gemeenskap boonop terselfdertyd op ʼn eiesoortige, maar baie impakvolle manier versterk. Dié projek is ʼn geesteskind van die studenteraad (SR) en het dit ten doel om nie net na kwesbare gemeenskappe uit te reik nie, maar óók om prakties gestalte aan die instelling se vormingsideaal te gee.

Spore 2025: Studentevernuf maak kinderharte bly en gemeenskappe sterk

Tydens vanjaar se eerstejaarsoriënteringsprogram is elk van Akademia se ses koshuise in Centurion, in sleepverband (ʼn dames- en manskoshuis as ʼn span), daarmee getaak om ʼn speelhuisie te bou. Hierdie huisies is ná afloop van ʼn bekendstellingsgeleentheid, wat op Saterdag 8 Februarie 2025 by die Voortrekkermonument plaasgevind het, aan verskeie plaaslike instellings geskenk.

Die koshuise het as volg deelgeneem:

Volgens Annemé Kriel, die SR-lid van gemeenskapsprojekte, het die projek ʼn tweeledige fokus. In die eerste plek kweek dit ʼn sin vir verantwoordbare gemeenskapsbetrokkenheid by nuwe eerstejaarstudente en in die tweede plek snoer dit Fonties saam om roepingsgedrewe en op ʼn praktiese wyse die boodskap van hoop en naasteliefde uit te dra. “Dit is vir ons as die SR belangrik dat Fonties reeds vanaf hul eerste jaar van studie aktief en met oorgawe as verskilmakers in hul onderskeie gemeenskappe na vore sal tree. Op hierdie manier trap hulle simboliese spore en baan só die weg na ʼn hoopvolle toekoms, nie net vir hulself nie, maar as rentmeesters van die gemeenskap,” verduidelik Kriel.

Volgens Kriel verteenwoordig dié speelhuisies nie net die handewerk en spanwerk van vanjaar se eerstejaar-Fonties nie, maar ook ʼn ruimte waarbinne jong kinders hul verbeelding vrye teuels kan gee en só hul ontwikkelingsreis verdere momentum te gee. Vanjaar se speelhuisies het onder meer die vorm van ʼn meganiese werkswinkel, ʼn wassery, ʼn koffiehuis en ʼn restaurant aangeneem.

Personeel verbonde aan Akademia se Fakulteit Opvoedkunde en die President Kruger-kinderhuis het as beoordelaars opgetree en het die baie moeilike taak gehad om ʼn wen-sleepkoshuis aan te wys. Verskeie beoordelingskriteria was van toepassing, onder meer ontwerp en kreatiwiteit, veiligheid en duursaamheid, funksionaliteit, sosiale en emosionele impak en tematiese voorstelling. Heitza het as algehele wenners na vore getree en het as sleepkoshuis ʼn bedrag van R4 000 losgeslaan wat hulle vir die voortsetting van hul gemeenskapsprojek kan gebruik.

“My belewenis en betrokkenheid by Spore 2025 is een van die beste studenteleierskapservarings tot op hede. Die studente se meelewing, opgewondenheid en passie het my opnuut weer daaraan herinner dat Akademia soveel méér as net ʼn plek van studie is. Dit is ʼn tuiste, en ʼn gemeenskap van vriende, denkers, doeners en verskilmakers. Ek is só trots op my mede-Fonties en sien reeds uit na die spore wat ons studente tydens volgende jaar se projek gaan nalaat,” sê Kriel.

Op haar beurt meen dr. Heleen Coetzee, hoof: Studentesake by Akademia, dat die Spore-projek ʼn groot rol speel in die vorming van Fonties. “Dit is só aandoenlik om eerstehands te sien hoe dit vir studente meer beteken om van hulself te gee as om iets van ʼn ander te ontvang,” sê Coetzee. Sy voeg by dat dit ook lekker is om te sien hoe studente weer kindwees deur die oë en belewenis van die betrokke kleingoed ervaar. Sy sien tesame met die Studentesake-span uit na die toekomstige impak van dié projek.

Annemé Kriel, Akademia se SR-lid van gemeenskapsprojekte, meen Fonties se harte klop sterk vir die gemeenskap en vanjaar se Spore-projek getuig heelhartig van hierdie verbondenheidsbesef.
Die bekendstelling en beoordeling van vanjaar se Spore-projek het by die Voortrekkermonument plaasgevind.
Koshuise het in sleepverband speelhuisies gebou wat ná afloop van die beoordelingsproses aan verskeie plaaslike gemeenskapsinstellings geskenk is.
Die Heitza-sleepkoshuis het met die louere weggestap en in die proses R4 000 vir hul gemeenskapsprojekte gewen. Van links is Rochelle de la Rey (Huis Strelitzia), Johannes van Jaarsveld (SR-voorsitter), Annemé Kriel (SR-gemeenskapsprojekte) en Hendru Siglingh (Huis Hennops).

Direkte inbetaling: Bankbesonderhede

Akademia-skenkingsfonds

Eerste Nasionale Bank

Rekeningnommer: 62857561445

Takkode: 210554

Verwysing: Jou selfoonnommer

Testamentêre bemaking

Voeg die volgende klousule tot jou testament by. (Vervang self die bedrag.)

Ek bemaak ʼn kontantbedrag van R100 000.00 (Eenhonderd Duisend Rand) aan AKADEMIA MSW met registrasienommer: 2005/024616/08 geregistreer by die Departement van Hoër Onderwys en Opleiding as ʼn privaat hoëronderwysinstelling ingevolge die Wet op Hoër Onderwys, 1997 onder registrasienommer: 2011/HE08/005.

Laat jou besonderhede hieronder dan sal ‘n skenkingsfondsbestuurder met jou kontak maak. 


Zander Botha: Skenkingsfondsbestuurder

083 254 0142
skenking@akademia.ac.za

Ek sien uit daarna om jou persoonlik te ontmoet en jou unieke bydrae en nalatenskap te bespreek.