Search
Close this search box.

PERSONEEL

Akademia het uitnemende en roepinggedrewe personeel wat bydra tot ’n leerervaring van wêreldgehalte.

DEKAAN

Prof. Danie Goosen

Prof. Danie Goosen

DTh (Teologie)
Waarnemende dekaan:
Fakulteit Geesteswetenskappe

Prof. Danie Goosen studeer ekonomie, klassieke tale, teologie en filosofie aan die Universiteit van Pretoria (UP) en die Universiteit van Suid-Afrika (Unisa). Hy voltooi die grade BCom, BA, BAHons (Wysbegeerte), BD en DTh.

Tydens sy studie is Goosen onder meer ʼn navorsingsassistent in die Departement Grieks aan die Universiteit van Pretoria. Hy voltooi sy proefskrif getiteld “Nietzsche en die verwondering” in die Departement Godsdienswetenskap aan Unisa. In dié tyd word hy ook as dosent in dieselfde departement aangestel, waar hy in 2008 tot volle professor bevorder word. In hierdie departement is hy veral verantwoordelik vir kursusse in die filosofie van die godsdiens.  Goosen bied ook vir etlike jare lesings oor die filosofie van die argitektuur in UP se Departement Argitektuur aan, sowel as ʼn kursus oor die moderne ervaring van skaarste in die Departement Filosofie aan dieselfde universiteit.

Goosen is lid van verskeie akademiese verenigings, waaronder die Suid-Afrikaanse Akademie vir Wetenskap en Kuns. Sy navorsing fokus op die Westerse metafisiese denke, die teologies-politieke probleem, die modernisme en postmodernisme as idee-historiese verskynsels, asook die godsdiens- en politiekfilosofiese vrae van ons tyd.

Goosen hou ʼn verskeidenheid lesings in die binne- en die buiteland. Tegelyk publiseer hy ook ʼn wye verskeidenheid van wetenskaplike en populêre artikels in ʼn veelheid van media, waaronder die omvangryke Die Nihilisme (2007), oor die geestelik-kulturele problematiek van ons tyd. In 2015 publiseer hy ʼn politiek-filosofiese werk, Oor gemeenskap en plek: Anderkant die onbehae (2015). Hy skryf tans aan ʼn werk oor die moderne konserwatiewe gedagte.

Prof. Goosen is vanaf 2004 die voorsitter van die direksie van die Federasie van Afrikaanse Kultuurvereniginge (FAK). Hy is ʼn direksielid van AfriForum, die burgerregte-organisasie van die Solidariteit Beweging, asook ʼn lid van die direksie van Akademia.

DEPARTEMENTSHOOFDE

Alida Kok

Alida Kok

BAHons (Internasionale Verhoudinge)
Departementshoof:
Sosiale Wetenskappe

Alida Kok het meer as tien jaar ervaring in die dosering van Politieke Wetenskap en was vantevore werksaam as dosent by die Universiteit van Pretoria (UP) en Universiteit van Suid-Afrika (Unisa). Sy het ook voorheen as bestuurder, navorser en ontleder in die nieregerings- en privaat sektor, en as ʼn adjunk- en waarnemende direkteur vir die internasionale samewerkingsprogram by die nasionale regering se Departement van Wetenskap en Tegnologie gewerk. Kok lewer gereeld kommentaar in die media oor Suid-Afrikaanse politiek en is sedert 2016 ʼn rubriekskrywer vir Beeld. Haar rubriek verskyn sedert 2020 ook in Die Burger. Hierin ontleed sy graag temas wat met die desentralisering van regeringsmag, die hervorming van die staat en politieke omwenteling verband hou. Sy het haar voorgraadse en honneursstudies (cum laude) in Politieke Wetenskap, met spesialisering in Internasionale Verhoudinge, by UP voltooi. Haar meestersgraad, wat sy tans voltooi, is ʼn kritiese bespreking van die openbare sfeer en handeling in die politieke teorie van Hannah Arendt waarin sy poog om handeling – of ‘politieke aksie’ – weer terug in verhouding met die huis te plaas. Sy fokus ook, in ander navorsing, op die verhouding tussen die desentralisering en sentralisering van regeringsmag, multivlakregeerkunde en die opkoms van kleiner invloedsfere.

Dr. Alé Steyn

Dr. Alé Steyn

PhD (Kommunikasiestudies)
Departementshoof:
Tale en Kultuurwetenskappe

Programkoördineerder:
BA (Kommunikasie en Joernalistiek)

Dr. Alé Steyn is die departementshoof vir Tale en Kultuurwetenskappe. Sy het haar meesters- en doktorsgraad in Kommunikasiestudies (met spesialisering in Joernalistiek) aan die Noordwes-Universiteit verwerf en honneurs- en meestersgrade in Engelse Letterkunde aan onderskeidelik die Universiteit van die Vrystaat en Kaapstad voltooi. Sy verwerf ook ʼn sertifikaat in teksredigering van die Universiteit van Kaapstad. Steyn het meer as tien jaar se ervaring as onder meer subredakteur, bladuitlegkunstenaar, joernalis, nuus- en inhoudsredakteur, manuskripontwikkelaar, teksredigeerder en media- en reklamepraktisyn. Sy was voorheen senior dosent in Joernalistiek en Korporatiewe Kommunikasie aan die Noordwes-Universiteit se Potchefstroomkampus, waar sy erkenning ontvang het vir haar uitnemende en innoverende onderrig. Haar navorsing is by plaaslike en internasionale kongresse voorgelê en sy het al etlike gaslesings by universiteite in die buiteland aangebied.

Departement Sosiale Wetenskappe

Pierre Muller

Pierre Muller

MPhil (Filosofie)
Vakhoof:
Filosofie

Pierre Muller is ʼn dosent in Politieke Filosofie en die Kuns van Argumentering by Akademia. Hy het ʼn BTh-graad in Bybelse Tale, asook ʼn honneurs- en meestersgraad in Filosofie aan die Noordwes-Universiteit verwerf. Sy navorsingsfokus is op die verhouding tussen ons begrip van vrye wil en wetenskapsfilosofie. Muller lewer akademiese aanbiedings op beide nasionale en internasionale vlak. Hy was as afrigter, beoordelaar en spreker by universiteitsdebat betrokke, en het die Noordwes-Universiteit, en later Suid-Afrika, by die 2019-wêreldkampioenskappe van die Universiteitswêrelddebat verteenwoordig. Hy was voorheen as deeltydse dosent aan die Noordwes-Universiteit verbonde by die Skool vir Filosofie, en as deeltydse dosent en nagraadse assessor in die Fakulteit Teologie.

Jean-Jacques Boshoff

Jean-Jacques Boshoff

BAHons (Internasionale Verhoudinge)
Dosent:
Sosiale Wetenskappe

Programkoördineerder:
BSocSci (Politiek, Filosofie en Ekonomie)

Jean-Jacques Boshoff is ʼn dosent in Politiek by Akademia en het ʼn honneursgraad in hierdie dissipline aan die Universiteit van Pretoria (UP) verwerf. Hy is tans besig met die voltooiing van ʼn meestersverhandeling in politieke wetenskappe. Boshoff het agt jaar se ervaring in die dosering van politieke wetenskappe, en was voorheen verbonde aan UP en Unisa. Boshoff se navorsingsfokus is politieke bemarking en Afrika-politiek. Sy mees onlangse gepubliseerde werk is ʼn artikel oor die verskynsel van negatiewe verkiesingsveldtogte gedurende die Suid-Afrikaanse nasionale verkiesing van 2014. Hy het ook as politieke konsultant by verskeie nieregeringsorganisasies gewerk.

Rentia Pretorius

Rentia Pretorius

MA (Staatsleer)
Dosent:
Sosiale Wetenskappe

Vakhoof:
Globale Politiek
Waarnemende vakhoof:
Politiek

Rentia Pretorius is ʼn dosent in Politiek by Akademia en het ʼn BA-graad, ʼn honneursgraad in Politieke Wetenskappe, ʼn Nagraadse Hoër Diploma in Biblioteekkunde en ʼn meestersgraad in Politiek aan die Universiteit van Pretoria verwerf. Pretorius se navorsingsfokus is Afrika-politiek, demokratisering en internasionale verhoudinge. Haar mees onlangse gepubliseerde werke is ʼn artikel in die vaktydskrif Studia Universitatis Babes-Boloyai: Studia Europaea se spesiale uitgawe oor internasionale betrekking in Afrika (2019). Sy was vir meer as 30 jaar ʼn dosent in Politiek en Internasionale Verhoudinge aan die Universiteit van Pretoria.

Thinus Malan

Thinus Malan

BAHons (Filosofie)
Dosent:
Sosiale Wetenskappe

Thinus Malan is dosent in Filosofie 3 en Kernintegrasie. Hy het ʼn BTh in Bybelse Tale en ʼn honneursgraad in Filosofie. Hy is tans besig met sy meestersgraad in laasgenoemde dissipline aan die Noordwes-Universiteit, waarin hy fokus op Alvin Plantinga se epistemologie. Hy het ʼn belangstelling in apologetiek en formele logika en het verskeie kursusse in logika opgestel en aangebied.
Daan Goosen

Daan Goosen

MA (Filosofie)
Deeltydse dosent:
Sosiale Wetenskappe

Daan Goosen is ʼn dosent in die Fakulteit Geesteswetenskappe by Akademia en het ʼn meestersgraad in Filosofie. Goosen het ook ʼn honneurs- (cum laude) en BA-graad in Visuele Kultuurstudies aan die Universiteit van Pretoria verwerf. Sy navorsingsfokus is die etiek van Thomas Aquinas.

Prof. Pieter Labuschagne

DPhil en LLD
Deeltydse dosent:
Sosiale Wetenskappe

Pieter Labuschagne is ʼn kontrakaanstelling in vakgebied Politieke Wetenskappe (GPOLI150) by Akademia.

Labuschagne is ʼn vol professor in Politieke Wetenskappe en het die grade BAHons (cum laude), MA (cum laude) en DPhil aan die Universiteit van die Vrystaat (UV) behaal. Hy het ook die LLB-, LLM- en LLD-grade aan Unisa behaal.

Labuschagne was twaalf jaar geskiedenisonderwyser en daarna dertig jaar lank dosent by die Departement Politieke Wetenskappe (Unisa) – die laaste vyf jaar as departementshoof. Hy het ook as gasdosent klas by die Universiteit van Pretoria (UP) en die Verdedigingskollege gegee.

Wat navorsing betref het 73 vollengte vakwetenskaplike artikels by geakkrediteerde vaktydskrifte uit sy pen verskyn, asook een boek en twaalf hoofstukke in boeke. Vir sy navorsing by Unisa is hy op die Accelerated Performance Excellence-program geplaas.

Theuns du Buisson

Theuns du Buisson

MA (Filosofie)
Deeltydse dosent:
Sosiale Wetenskappe

Theuns du Buisson is ʼn dosent in die departement Sosiale Wetenskappe by Akademia en het ʼn meestersgraad (cum laude) in Filosofie aan die Universiteit van die Vrystaat (UV) verwerf. Die titel van sy verhandeling is, “Adam Smith se Morele Teorie as Voorloper vir sy Regverdiging van Kapitalisme”. Hy beskik ook oor ʼn honneursgraad en ʼn BA-graad met Filosofie, en Afrikaans en Nederlands as hoofvakke wat beide aan die UV verwerf is. Du Buisson het al artikels in die Tydskrif vir Geesteswetenskappe en die Journal of Student Affairs in Africa gepubliseer. Hy werk voltyds as ekonomiese navorser by die Solidariteit Navorsingsinstituut. Voor dit was hy vir ses jaar verbonde aan die Universiteit van die Vrystaat, waar hy Filosofie en verskeie modules in die geletterdheidsprogram doseer het.

Departement Tale en Kultuurwetenskappe

Andre Gouws

André Gouws

MA (Joernalistiek en Mediastudies)
Dosent:
Tale en Kultuurwetenskappe

André Gouws – dosent: Visuele en Digitale Kommunikasie, Fakulteit Geesteswetenskappe, Departement Tale en Kultuurwetenskappe

Gouws is ʼn ervare joernalis en akademikus. Gouws is sedert 2017 in die akademie. Hy het van 2017 tot 2018 joernalistiek aan die Universiteit Stellenbosch (US) gedoseer, en van 2019 tot 2022 joernalistiek en kommunikasie aan die Noordwes-Universiteit in Potchefstroom. Gouws het in 2018 ’n MA-graad in Joernalistiek en Mediastudies (met lof) aan die Rhodes-Universiteit verwerf, en in 1993 ’n BA-graad in Politieke Wetenskap aan die Universiteit van Johannesburg.

Gouws is op 1 Maart 2023 as buitengewone navorser in die Skool vir Kommunikasie by NWU se Potchefstroomkampus aangewys. In 2022 die uitnemende onderrigtoekenning van Noordwes-Universiteit (NWU) se Fakulteit Geesteswetenskappe vir onderrig in die Skool vir Kommunikasie ontvang, en in 2021 die uitnemende onderrigtoekenning van NWU vir die gebruik van inligtingstegnologie in onderrig. Hy was in 2021 en 2022 NWU-genoot vir oop onderrig.

Gouws doen navorsing oor digitale media en visuele kommunikasie, asook joernalistiekonderrig. Hy is tans besig met sy PhD aan US. Sy PhD-navorsing handel oor die digitale openbare sfeer en sosiale media. Hy het in 2022 en 2023 verskeie referate oor sy navorsing gelewer op plaaslike en internasionale konferensies, en het in 2022 ʼn akademiese boekhoofstuk oor joernalistiekonderrig gepubliseer.

Gouws was meer as twee dekades lank verbonde aan verskillende media-instellings, waaronder Beeld, Die Burger en Grafika24, Media24 se infografika-afdeling. Hy was die stigtersredakteur van Grafika24, en het ook verskeie ander redakteursposisies gevul, insluitend nagredakteur en hoofsubredakteur van Die Burger. Hy is sedert 2023 die publieke verteenwoordiger vir die Forum vir Gemeenskapsjoernaliste (FCJ) op die Persraad van Suid-Afrika. Hy is sedert 2023 lid van die uitvoerende komitee van SACOMM, die Suid-Afrikaanse kommunikasievereniging wat kommunikasiedepartemente aan hoëronderwysinstellings verteenwoordig.

Dr. Annerie Geyer

Dr. Annerie Geyer

DPhil (Kommunikasiebestuur)
Dosent:
Tale en Kultuurwetenskappe

Dr. Annerie Geyer is ʼn Kommunikasie-dosent by Akademia en het ʼn BA-graad, ʼn honneurs-, meesters- en doktorsgraad (met spesialisasie in Kommunikasiebestuur) in hierdie dissipline aan die Noordwes-Universiteit en Universiteit van Pretoria verwerf. Geyer se navorsingsfokus is organisasiekommunikasie, met spesifieke fokus op verhoudingsbestuur en werknemerbetrokkenheid. Haar mees onlangse werk is ʼn referaat wat handel oor werknemerbetrokkenheid by die Internasionale Navorsingsimposium vir Openbare Betrekkinge (BledCom). Sy het vier jaar as kommunikasiekonsultant gepraktiseer en doseer reeds agt jaar in kommunikasie.

Dr. Hélanie Jonker

Dr. Hélanie Jonker

PhD (Kommunikasiestudies)
Dosent:
Tale en Kultuurwetenskappe

Dr. Hélanie Jonker is ’n dosent in Kommunikasiebestuur by Akademia en het ’n B-graad in Bedryfskommunikasie asook ’n meesters- en doktorsgraad (met spesialisasie in Ontwikkelingskommunikasie) aan die Noordwes-Universiteit verwerf. Sy het reeds meer as twee dekades gelede haar loopbaan begin en het werkservaring as kommunikasiepraktisyn en projekbestuurder in die hoër onderwys en organisasies sonder winsoogmerk. Die afgelope sewe jaar het sy gewerk as vryskut- akademiese kursusinhoudskrywer en dosent by verskeie private hoëronderwysinstellings.  Jonker se navorsingsfokus is ontwikkelingskommunikasie, asook organisasiekommunikasie. Sy is ’n bydraende skrywer van die handboek, getiteld “Developing Soft Skills for Success: A guide for modern professionals” (Uitgewer: Van Schaik) waarin sy die hoofstuk oor professionele kommunikasievaardighede geskryf het. 

Landi Slatter

Landi Slatter

MA (Kommunikasie)
Dosent:
Tale en Kultuurwetenskappe

Landi Slatter is ’n dosent in Joernalistiek by Akademia en het ’n BA-graad in Kommunikasiestudies aan die Noordwes-Universiteit (NWU) se Potchefstroomkampus verwerf, asook haar BA Honneurs (met spesialisering in Joernalistiek) en meestersgraad (in kommunikasiestudies met spesialisering in Joernalistiek) cum laude aan dieselfde universiteit. Slatter het haar loopbaan by Maroela Media begin en later by Rapport se nuuskantoor in Pretoria aangesluit as algemene joernalis; sy het ook die onderwysbeat gedek en in hierdie hoedanigheid as gas opgetree by radiostasies en Facebook Live-paneelgesprekke. Sy is steeds ’n vryskutjoernalis en tree weekliks as radiogas op om plaaslike nuusaangeleenthede te bespreek. 
Yolandi Groenewald

Yolandi Groenewald

Baccalaureus in Bedryfskommunikasie
Dosent:
Tale en Kultuurwetenskappe

Yolandi Groenewald is ʼn gesoute en bekroonde omgewings- en sakejoernalis met twintig jaar se ervaring in die mediabedryf. Sy het haar loopbaan by die Mail & Guardian begin en later by Rapport en City Press aangesluit. Groenewald was ook die burohoof by Fin24 en het vir onder meer Vrye Weekblad en talle internasionale publikasies geskryf. Yolandi het kommunikasie en joernalistiek aan die Potchefstroomse Universiteit vir Christelike Hoër Onderwys studeer.

Dr. Morné Malan

PhD (Teologie en Filosofie)
Deeltydse dosent:
Tale en Kultuurwetenskappe

Dr. Morné Malan het sy doktorsgraad in Ou Testament aan die Universiteit van Pretoria (UP) verwerf. Hy het verder ʼn meestersgraad in Teologie, ʼn honneursgraad in Antieke Tale en Kultuur, asook ʼn BTh-graad, by dié universiteit voltooi. Malan is ook ʼn trotse alumnus van Akademia en het sy BCom-graad in Ekonomie en Regte aan dié instelling verwerf, waarna hy ʼn honneursgraad in Ekonomie by die Universiteit van Suid-Afrika (Unisa) voltooi het. Hy is tans besig met ʼn MCom-graad in Ekonomie by die Noordwes-Universiteit (NWU). Malan is ʼn ervare dosent wat al ʼn wye verskeidenheid modules aangebied het. 

REGISTREER VIR ONS NUUSBRIEF EN BLY OP HOOGTE MET AKADEMIA SE NUUS EN GEBEURE