Search
Close this search box.

Nagraadse Diploma in Skoolleierskap en -bestuur – Só versterk Akademia die onderwyssektor

Gepubliseer op: 15 Januarie 2025

Die belangrikheid van én behoefte aan effektiewe onderwysleierskap en bestuursopleiding binne die Suid-Afrikaanse onderwyskonteks is van toenemende belang. Akademia, in antwoord op dié nasionale prioriteitsfokus, sal met die ingang van Maart 2025 ʼn splinternuwe Nagraadse Diploma in Skoolleierskap en -bestuur aanbied.

Dié opwindende nuus is op Woensdag 15 Januarie 2025 aanlyn bekend gemaak en die nuwe program sal die Fakulteit se bestaande programaanbod verbreed. Hierdie aanbod sluit die BEd (Grondslagfase-onderwys)– en BEd (Intermediêre Fase-onderwys)-programme via die instelling se voltydse kampusmodel in, asook die Nagraadse Onderwyssertifikaat (Senior Fase- en Verder Onderwys en Opleiding-onderwys) wat volgens die nauurse afstandsmodel aangebied word.

ʼn Geleentheid  vir die formele bekenstelling van die program sal op Donderdag 6 Februarie 2025 by die Leriba-kampus in Centurion plaasvind. Die bekendstelling val saam met die jaarlikse  ereleerstoellesing aangaande Onderwysleierskap. Die bekleër van Akademia se ereleerstoel in onderwysleierskap, dr. Pierre Edwards, sal as gasspreker optree.

Meer oor die program

Die Nagraadse Diploma in Skoolleierskap en -bestuur word op NKR-vlak agt aangebied, wat deelnemers ná die suksesvolle voltooiing daarvan toegang tot ʼn verwante meestersgraadstudie sal bied..

Die volgende fokusareas vorm deel  van die uitgebreide program:

  • Leierskap en bestuur: ʼn Teoretiese perspektief
  • Bestuur en lei mense in skole
  • Kurrikulumleierskap en -bestuur
  • Bestuur van finansiële en fisiese bronne in skole
  • Die reg, beleid en bestuur in onderwys
  • Sluitsteenprojek (om gevorderde kennis en vaardighede te toets)

Die minimum tydsduur vir die voltooiing van die program is twee jaar en die maksimum toelaatbare tyd drie jaar. Klik hier vir meer inligting oor die toelatingsvereistes.

Volgens Susan O’Reilly, departementshoof: Opvoedkundestudies asook die programkoördineerder van dié nuwe nagraadse diploma, word dit voorsien dat die program ʼn beduidende impak op Suid-Afrikaanse onderwys sal hê. Hierdie impak sal spreek tot die ontwikkeling van sterk, bekwame en ingeligte skoolleiers. “Dié program sal professionele onderwyslui in staat stel om hulself met gevorderde refleksie en ontwikkeling te bemoei,” sê O’Reilly. Sy voeg by dat ná die suksesvolle voltooiing van die program studente hulself as leiers, sowel as middel- of senior bestuurders, in die sektor kan vestig.

Wat die toevoeging van die program tot die fakulteit se programverskeidenheid betref, verduidelik O’Reilly dat dit Akademia se impaksfeer binne die Suid-Afrikaanse onderwyssektor versterk. Hierbenewens is sy opgewonde oor die bykomende geleenthede vir selfs groter netwerkvorming tussen die instelling en skole, departemente van onderwys en ander opvoedkundige instellings.

Studieaansoeke sluit op 21 Februarie terwyl klasse op 1 Maart ʼn aanvang sal neem. Besoek gerus die Akademia-webblad vir meer inligting. ʼn Aanlyn inligtingsessie op Donderdag 30 Januarie sal voorts nóg inligting aan belangstellendes bied. Klik hier om vir dié sessie te registreer.

Susan O’Reilly, departementshoof: Opvoedkundestudies aan Akademia se Fakulteit Opvoedkunde, meen die nuwe Nagraadse Diploma in Skoolleierskap en -bestuur sal ʼn beduidende impak op die Suid-Afrikaanse onderwyssektor hê.

Direkte inbetaling: Bankbesonderhede

Akademia-skenkingsfonds

Eerste Nasionale Bank

Rekeningnommer: 62857561445

Takkode: 210554

Verwysing: Jou selfoonnommer

Testamentêre bemaking

Voeg die volgende klousule tot jou testament by. (Vervang self die bedrag.)

Ek bemaak ʼn kontantbedrag van R100 000.00 (Eenhonderd Duisend Rand) aan AKADEMIA MSW met registrasienommer: 2005/024616/08 geregistreer by die Departement van Hoër Onderwys en Opleiding as ʼn privaat hoëronderwysinstelling ingevolge die Wet op Hoër Onderwys, 1997 onder registrasienommer: 2011/HE08/005.

Laat jou besonderhede hieronder dan sal ‘n skenkingsfondsbestuurder met jou kontak maak. 


Zander Botha: Skenkingsfondsbestuurder

083 254 0142
skenking@akademia.ac.za

Ek sien uit daarna om jou persoonlik te ontmoet en jou unieke bydrae en nalatenskap te bespreek.