Kampusopedag op 10 en 11 Mei is oor

Dae
Ure
Minute
Sekondes
Search
Close this search box.

In die hartjie van Akademia-studente se koshuisverblyf

24 Januarie 2024

Geskryf deur Kayla Roets, Fontiepos-joernalis

Koshuislewe is ʼn groot deel van voltydse Fonties se studentelewe. Die studente kan vanjaar met vier kampuskoshuise en twee daghuise spog. Die Fontiepos-span vertel graag bietjie meer oor elkeen:

Huis Hennops, geleë in Clubview, Centurion, staan bekend as die heel eerste manskoshuis vir Akademia-studente. Hierdie koshuis is op koshuis@Leriba geleë en behels luukse dubbelkamers met aangrensende badkamers. Hierdie manskoshuis is in 2022 gestig en het in dieselfde jaar hulle eerste studente ontvang. Hierdie koshuis is strategies geleë, sowat 2 km vanaf Akademia se Centurion-kampus en bied verblyf aan sowat 55 Fonties. Conrad Prins lei die koshuis as die primarius en word ondersteun deur ʼn span van vyf toegewyde lede in sy huiskomitee. Huis Hennops is nie bloot ʼn blyplek nie; dit is ʼn broederskap.

Binne ʼn kilometer vanaf die Centurion-kampus is Huis Strelitzia se nuwe tuiste. Alhoewel die koshuis reeds in 2022 gestig is, betrek die dames vanjaar ʼn nuwe woning in Gerhardstraat. Die dameskoshuis het kapasiteit vir 88 elegante dames wat onder leiding van die primaria, Bóchulé Swanepoel, staan. Sy het ook ʼn sterk span van vyf huiskomiteelede wat haar hande versterk. Hier blom die dames saam as een gemeenskap.

Huis Magalies is die splinternuwe manskoshuis by koshuis@Leriba. Hierdie koshuis wat ongeveer 69 studente huisves is onder leiding van primarius, Stephan Bekker, en ʼn toegewyde span van vyf HK-lede. Meer as net verblyf, word Huis Magalies ʼn tuiste weg van die huis wat kameraadskap onder sy inwoners bevorder.

Huis Dahlia is die nuwe dameskoshuis wat saam met Huis Strelitzia die nuwe perseel in Gerhardstraat deel. Die koshuis is opgewonde om haar 88 nuwe damestudente vanjaar te verwelkom. Onder leiding van primaria, Marzé Bekker, en haar span van vyf HK-lede sal hierdie dames die geleentheid kry om deel van ʼn koshuisfamilie te vorm en mekaar te help groei om hul volle potensiaal te bereik.

Wat maak ʼn daghuis anders as ʼn koshuis, vra jy? Wel, daghuise se doel is om aan studente die geleentheid te bied om deel te wees van die koshuislewe en -aktiwiteite al bly hulle nie in ʼn koshuis nie. Anders as koshuise waar studente dwarsdeur die akademiese jaar op die perseel woon, is ʼn daghuis hoofsaaklik ontwerp vir studente wat nie oornagverblyf benodig nie, maar steeds die koshuiservaring wil beleef.

Akademia se twee daghuise, een vir mans en een vir dames, sal vanjaar dié geleentheid aan Fonties bied. Indien jy steeds die koshuislewe wil beleef maar privaat wil woon, is die daghuise die ideale oplossing vir jou. Die daghuis vir mans, Huis Karoo, staan onder leiding van primarius, Trevan Lang, en sy HK, terwyl primaria, Lizari Bothma, en haar HK aan die voortou van die damesdaghuis, Huis Daglelie, staan. Beide die daghuise sal hul eie handelsmerke, koshuisdrag en tradisies vanjaar bekendstel. Indien jy graag deel van ʼn daghuis wil wees, doen gerus hier aansoek vir die damesdaghuis, en hier vir die mansdaghuis.

Die Fontiepos-span sien daarna uit om vanjaar se koshuisaksies by te woon en daaroor te skryf. Kontak ons gerus by fontieposredakteur@akademia.ac.za as jy van ʼn lekker koshuisstorie weet!

Alle Fontiepos-artikels is deur studente vir studente geskryf en weerspieël nie noodwendig Akademia se mening of standpunt nie.