Kampusopedag op 10 en 11 Mei is oor

Dae
Ure
Minute
Sekondes
Search
Close this search box.

Hoe om jou eerstejaar te oorleef

24 Januarie 2024

Geskryf deur Megan Ferreira, Fontiepos-joernalis

ʼn Nuwe avontuur is om die draai en jy is gereed om jou nuwe reis met selfvertroue aan te pak. Jou hart loop oor van opgewondenheid of dalk voel jy effens oorweldig in die nuwe omgewing en weet nie waarheen om te gaan vir raad nie. Moenie vrees nie! Die Fontiepos-span gee graag vir jou ʼn paar wenke oor hoe om jou eerstejaarstudie suksesvol te navigeer.

Die eerste lewensredder is om elke belangrike taak wat gegee word neer te skryf in ʼn notaboek, dagboek of op ʼn tafelkalender. Op hierdie manier sal jy nie sommer van ʼn belangrike taak of toets vergeet nie.

Dit is tweedens baie belangrik om die kontakbesonderhede van jou dosente, programkoördineerder, studenteraadslede en Vangnet byderhand te hou vir wanneer daar enige navrae of krisisse opduik.

Dit is ook belangrik om jou selfvertroue op te bou sodat jy as eerstejaar jou volle potensiaal kan bereik. Die mense waarmee jy jouself omring sal grootliks bydra tot die opbou van jou selfvertroue sowel as hoe jy met jouself praat.

Die vierde wenk is om op datum te bly met jou studiewerk. As mens eers agter raak word dit al hoe moeiliker om op te vang en voor te kom. Woon dus al jou klasse by, al voel jy moeg of oorweldig, en doen getrou jou take en opsommings.

Ons vyfde wenk aan jou is om jou klasmaats optimaal te benut. Vorm studiegroepies en ondersteun mekaar terwyl julle saam die werk aanpak. Selfs al studeer jy beter of vinniger op jou eie, is die ondersteuning en wenke van jou klasmaats beslis iets waarby jy kan baat.

Die laaste wenk is om gesond te lewe. Baie eerstejaars beleef nou vir die eerste keer hoe dit is om op hul eie te bly en vir hulself te moet sorg. Dit klink dalk baie makliker en vinniger om ʼn McDonald’s-burger te gryp voor klas, maar op die lang duur sal jou gesondheid daaronder ly. Bederf jouself nou en dan met ʼn goeie wegneemete, maar probeer om sakpas en gesond te leef deur self kos te maak. Jy kan selfs by die stapklub vir Fonties aansluit om jou gedagtes skoon te kry, jou lyf fiks te hou en saam met ander te sosialiseer.

Elke eerstejaar is anders en dit is nie nodig om jouself te vergelyk nie. Die belangrikste is om jouself te wees en om elke dag beter te probeer wees as die persoon wat jy gister was. Voorspoed met jou eerstejaar, nuwe Fontie!

Alle Fontiepos-artikels is deur studente vir studente geskryf en weerspieël nie noodwendig Akademia se mening of standpunt nie.

Alle Fontiepos-artikels is deur studente vir studente geskryf en weerspieël nie noodwendig Akademia se mening of standpunt nie.